Frederik Burgers
Frederik Louis Benjamin Burgers (noemnaam Oom Frikkie of Fredrik, Johannesburg, 7 Julie 1907 – in vlug tussen Jan Smuts-lughawe en Durban, 16 Julie 1967) was ’n Suid-Afrikaanse mynwerker, vermaakkunstenaar, radio- en rolprentpersoonlikheid en orrelis.
Frederik Burgers | |
Geboorte | 7 Julie 1907 Johannesburg |
---|---|
Sterfte | 16 Julie 1967 (op 60) In vlug tussen Johannesburg en Durban |
Beroep(e) | Akteur, komediant. |
Aktiewe jare | 1949–1960 |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Burgers was die seun van Philip Rudolph en Johanna Catharina Wilhelmina Burgers. Sy eintlike beroep was in werklikheid ver verwyder van die verhoog, waar hy landswyd bekendheid verwerf het. Hy het 21-jarige leeftyd begin werk by Crown Mines suid van Johannesburg, waar hy grootgeword en skoolgegaan het. Ná ’n dienstydperk van nege-en-dertig jaar by die mynmaatskappy het hy ses maande voor sy dood as mynopmeter afgetree.
Burgers se loopbaan as vermaakkunstenaar het veel langer as sy beroepsloopbaan gestrek. As vyftienjarige het hy sy vader, wat ook ’n verhoogkunstenaar was, agter die gordyne gehelp en toe dié een aand siek word, moes hy sy plek op die verhoog inneem. Dit was vir hom geen moeilike taak nie aangesien hy die rol reeds uit sy kop geken het. Ten spyte daarvan dat hy tussendeur nog die beligting ook moes behartig, was sy optrede so geslaagd dat daardie aand as die begin van sy akteursloopbaan beskou kan word.
Onder aansporing van sy broer, die radioveteraan dr. M.P.O. Burgers, het hy in 1931 met radiowerk begin. Hy het gou bekend geword as grapmaker oor die eter – eers alleen, daarna saam met sy medekomediant De Wet Marais, en nog later saam met Al Debbo. Dié twee is as Suid-Afrika se "Laurel en Hardy" beskryf.[1] Burgers het ’n ietwat potsierlike kort en fris voorkoms gehad, terwyl Debbo lank en maer was. As radioman was Burgers besonder gewild in die program Bog met Blou Maandag, waaraan hy deelgeneem het tot twee weke voor sy dood, asook vanweë sy Saterdagaandprogram, waartydens hy luisteraars met grappies vermaak het.
As verhoogkunstenaar het hy die land deurkruis en in die rolprentwêreld as komediant in meer as 20 vollengterolprente opgetree. In 1946 het hy in sy eerste vollengte- Afrikaanse rolprent, Die wildsboudjie, opgetree en later was hy die hoofspeler in rolprente soos Piet se tante (1959) en En die Vonke Spat (1961). Hy word veral onthou vir sy spel in vroeë rolprente soos Kom saam vanaand (1949) en Piet se tante (1959).[2]
Burgers was ’n toegewyde kunstenaar en iemand met ’n wye belangstelling in enige onderwerp onder die son. Hy het wyd gelees en was bedrewe in motorherstelwerk, houtwerk en fotografie. Daarbenewens was hy briljant met syfers. Hy het klavier gespeel en Sondae as orrelis in die Gereformeerde kerk in Turffontein opgetree. Hy was 'n lidmaat van die Gereformeerde Kerk.
Hy het aan ’n hartaanval beswyk op ’n vlug van die Lughawe Jan Smuts na Durban. Die vliegtuig het kort nadat dit om 21:55 opgestyg het, na die lughawe teruggekeer.
Burgers was twee keer getroud: sy eerste vrou was Aletha E. Nel. Later is hy getroud met Lydia Johanna Botha. Hy het drie kinders gehad.
Filmografie
wysig- Die wildsboudjie, 1946
- Die skerpioen, 1946
- Kom saam, vanaand, 1949
- Hier’s ons weer, 1950
- Alles sal regkom, 1951
- Altyd in my drome, 1952
- ’n Plan is ’n boerdery, 1954
- Matieland!, 1955
- Dis lekker om te lewe, 1957
- Fratse in die vloot, 1958
- Piet se tante, 1959
- Oupa en die plaasnooientjie, 1960
- En die vonke spat, 1961
- Piet my niggie, 1964
Verwysings
wysig- ↑ Oorsig oor SA rolprentbedryf[dooie skakel], Die Burger, 21 Oktober 1994.
- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8