Ivoriaanse nasionale rugbyspan
Die Ivoriaanse nasionale rugbyspan (Frans: Équipe de Côte d'Ivoire de rugby à XV) is die nasionale rugbyspan wat Ivoorkus in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Les Éléphants (“die olifante”), genoem na die Afrika-olifant, Ivoorkus se wapendier. Rugby word in Ivoorkus geadministreer deur die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Fédération ivoirienne de rugby, FIR) wat in 1961 gestig is. Ivoorkus word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Ivoriaanse rugbyspan is tans (Julie 2024) 62ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Saam met Kenia en Zimbabwe is Ivoorkus tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikarugbyspanne na die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Namibiese Welwitschias.
Ivoorkus | ||||
Unie | Ivoriaanse Rugbyfederasie (FIR) | |||
Bynaam(e) | Les éléphants (“Die olifante”) | |||
Embleem | die Olifant | |||
Stadion | Stade Félix Houphouët-Boigny, Abidjan | |||
Kapasiteit | 50 000 | |||
Afrigter(s) | Andre Adopo | |||
Kaptein(s) | Charles Zamble | |||
|
||||
Statistiek
| ||||
---|---|---|---|---|
Meeste toetse | 5 spelers (8 elk)[1] | |||
Meeste punte | Athanase Dali (31)[2] | |||
Meeste drieë | Abubacar Camara (3)[3] | |||
Eerste internasionale wedstryd | ||||
Zimbabwe 22–9 Ivoorkus (Harare, Zimbabwe; 5 Mei 1990) | ||||
Grootste oorwinning | ||||
Ivoorkus 83–3 Mauritius (26 Junie 2013) | ||||
Grootste nederlaag | ||||
Ivoorkus 0–89 Skotland (Rustenburg, Suid-Afrika; 26 Mei 1995) | ||||
Wêreldbeker | ||||
Verskynings | 1/10 (Eerste in 1995) | |||
Beste uitslag | Laaste in groep 1995 |
Ivoorkus het in 1990 sy eerste toetswedstryd teen Zimbabwe gespeel. Die span kon vir een rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer, maar hulle het tydens die 1995-toernooi al hul groepwedstryde verloor. Hulle het tydens die Afrikabeker nog geen titel ingepalm nie en een keer in die vierde plek geëindig. Die Ivoriaanse span speel tradisioneel in oranje truie met wit broeke en groen sokkies.
Beheerliggaam
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Ivoriaanse Rugbyfederasie.
Die beheerliggaam vir rugby in Ivoorkus is die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Frans: Fédération ivoirienne de rugby, FIR). Die Ivoriaanse Rugbyfederasie is in 1961 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[5] Daarbenewens was die Ivoriaanse Rugbyfederasie ’n stigtingslid van die kontinentale beheerliggaam Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika) wat in 1986 in Tunis deur agt beheerliggame gestig is.[6]
Naas die amptelike nasionale span roep die Ivoriaanse Rugbyfederasie ook ander keurspanne byeen. Nes ander rugbylande beskik Ivoorkus oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[7] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.
Geskiedenis
wysigInvoering en vestiging van rugby
wysigRugby is tydens die Franse koloniale tydperk na Ivoorkus saamgeneem. Die eerste bekende wedstryd in Ivoorkus is net ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog gespeel en in 1946 deur Mme Andre Benois tussen setlaars gereël. Vir die wedstryd is ’n geïmproviseerde bal, gemaak uit die buis van ’n motorband, gebruik.[8] Die sport is deur Franse skoolmeesters, wat in die land gewerk het, verder ontwikkel.[9] As ’n voormalige Franse kolonie is die ontwikkeling van die spel veral deur Frankryk beïnvloed en talle spelers soos Max Brito het daar gespeel. Hoewel die Ivooriaanse rugby se oorspronge dateer uit die 1960’s en vroeër, het dié sport eers in die 1980’s ’n aansienlike ontwikkeling ondergaan, nadat die Franse amptenaar Jean-François Turon die sport by die Universiteit van Abidjan gevestig het. Onafhanklik daarvan word François Dali as “vader van Ivooriaanse rugby” beskou en sy seun Athanase Dali was in die 1990’s kaptein van die nasionale span.[10]
Die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Fédération Ivoirienne de Rugby, FIR) is in 1961 gestig. In Januarie 1986 was Ivoorkus in Tunis een van die stigtingslede van die Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika). Die ander stigtingslede was die beheerliggame van Kenia, Madagaskar, Marokko, Senegal, Seychelle, Tanzanië en Tunisië.[11] In dieselfde jaar het Ivoriaanse verteenwoordigers aan die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) se eeufees deelgeneem.[12] In 1985 het die IRVR, wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Ivoorkus het geen uitnodiging ontvang nie.[13] In 1988 het die Ivoriaanse Rugbyfederasie by die Internasionale Rugbyvoetbalraad aangesluit. Tydens die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering het Ivoorkus sy eerste toetswedstryd gespeel teen Zimbabwe, maar met 9–22 verloor.[10] Nadat hulle ook in die ander twee wedstryde deur Tunisië en Marokko geklop is, het hulle die toernooi misgeloop.[14]
Op pad na die eerste rugbywêreldbekerdeelname
wysigTydens die Rugbywêreldbeker 1995-Afrikakwalifisering se eerste rondte kon die Ivoriane beide Tunisië (met 19–16) en Marokko (met 15–3) klop, waarmee hulle die tweede rondte gehaal het. Daar het die span met ’n nederlaag teen Marokko (met 9–17) asook oorwinnings oor Namibië (met 13–12) en Zimbabwe (met 17–10) weggestap. Die gunsteling Namibië het vir die wedstryd teen Ivoorkus sleutelspelers laat rus en die prys daarvoor betaal. Met twee oorwinnings het Ivoorkus vir die eerste keer die hooftoernooi gehaal.[15] Daarmee het hulle die eerste Franstalige Afrikaland een ook die eerste buite die Suid-Afrikaanse invloedsfeer geword wat vir dié toernooi kon kwalifiseer.[16] Aangesien die span in teenstelling met dié van Suider-Afrika geheel en al uit “swart” spelers bestaan het, is dit as ’n positiewe teken vir rugby in Afrika geag.[10] Die hoofafrigter Claude Ezoua het aangevoer, dat hulle aan die wêreld wou wys dat rugby in Afrika uit meer bestaan as Suid-Afrika. Alhoewel die helfte van die Ivoriaanse span by Franse klubs gespeel het, was 25 van die 26 spelers Ivoriane, waarvan die meeste uit Abidjan se hawedistrik (Max Brito is in Senegal gebore). Net so was agt van die tien Ivoriaanse rugbyklubs in die hawestad gesetel.[9]
Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 is Ivoorkus in Groep D met Skotland, Frankryk en Tonga geloot. In hul eerste wedstryd het die Ivoriane te staan gekom teen die Skotte onder hul kaptein Gavin Hastings, wat vier drieë kon druk, twee strafskoppe aangeteken en nege van die 13 Skotse drieë verdoel het. Daarmee het hy ook die destyds meeste punte deur ’n enkele speler in ’n wêreldbekerwedstryd aangeteken. Die 0–89-nederlaag is ook die ergste in die Ivoriaanse beheerliggaam se geskiedenis.[17]
In die tweede wedstryd het hulle te staan gekom teen Frankryk, dié land, waar die meeste spelers van die Ivoriaanse nasionale span gespeel het, waaronder hul kaptein Djakaria Sanoko vir die tweede span van Biarritz Olympique.[18] Les Éléphants het verrassend goed meegeding en kon ondanks die nederlaag twee drieë druk teen die latere semifinalis, eers Abubacar Camara in die eerste helfte met die eerste drie in die beheerliggaam se geskiedenis tydens ’n wêreldbekerwedstryd en later die vleuel Aboubacar Soulama in die tweede helfte. Ivoorkus is uiteindelik met 18–54 geklop.[19]
In hul laaste groepwedstryd het die Ivoriane Tonga ontmoet. Die Tongaanse het met 29–11 geseëvier en daarmee Ivoorkus ná drie nederlae in drie wedstryde uit die toernooi geskakel.[20] ’n Tragiese ongeluk van die Ivoriaanse speler Max Brito het dié oorskadu: In die derde speelminuut het hy ná ’n duikslag op die grond geval, ’n aantal spelers het op hom beland en hy het bewusteloos bly lê. Hy is dadelik na ’n hospitaal geneem waar sy lewe gered is, maar hy het van die nek af verlam gebly en was sedertdien aan ’n rolstoel gekluister.[21] Brito is in Desember 2022 dood sonder dat hy van die ongeluk kon herstel.[22]
Misgelope toernooie
wysigNá die Rugbywêreldbeker 1995 het Ivoorkus hulself vir drie jaar aan alle internasionale toernooie onttrek en eers weer in September 1998 vir die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering teruggekeer. Ivoorkus se prestasie was swak, toe hulle al hul drie wedstryde teen Namibië (met 10–22), Zimbabwe (met 0–32) en Marokko (met 3–6) tydens ’n toernooi in Casablanca, Marokko, verloor het.[23] Ná Ivoorkus se terugkeer op internasionale vlak het naas Kenia, Namibië en Zimbabwe ook Marokko en Tunisië ernstige mededingers geword in die Afrikabeker en die rugbywêreldbekerkwalifisering. Albei Noord-Afrikaanse spanne het ná die Europese Rugbykampioenskap se herstrukturering die vastelandse kampioenskap toegetree. Net soos in die geval van die Ivoriane het die rugby van die Marokkane en Tunisiërs georiënteer aan dié van die voormalige koloniale mag Frankryk. Ivoorkus het egter agtergebly in die vastelandse kampioenskap, nie net weens die herstrukturering van die internasionale spel nie, maar ook weens die professionalisering van rugby, aangesien die land nie oor ’n professionele liga beskik nie.
In 2000 is die eerste Afrikabeker beslis, maar Ivoorkus het nie aan dié toernooi deelgeneem nie.[24] Een jaar later het die Olifante aan die Afrikabeker 2001 deelgeneem, maar albei wedstryde teen Marokko verloor: met 11–18 tuis en met 18–20 weg; en teen Tunisië in ’n 11–11 gelykop weg gespeel en ’n 46–0-oorwinning tuis aangeteken. Met hul tweede plek in die groep het hulle die eindstryd misgeloop.[25] Tydens die Afrikabeker 2002 wat ook as Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering gedien het, is Ivoorkus ná twee nederlae teen Tunisië (met 8–13) en Marokko (met 21–23) uitgeskakel.[26]
Tydens die Afrikabeker 2003 het hulle ’n naelskraapse nederlaag teen Marokko (met 16–18) gely, terwyl die span die wedstryd teen Tunisië weens dié opponent se onttrekking gewen het.[27] Een jaar later het hulle ná oorwinnings oor Tunisië (met 8–3) en Kameroen (met 17–10), asook ’n nederlaag teen Marokko tweede in hul groep geëindig.[28] Tydens die Afrikabeker 2005 is die wedstryd teen Namibië weens die onttrekking van Ivoorkus as ’n nederlaag geag, terwyl hulle deur Madagaskar (met 30–10) verneder is.[29] In 2005 het hulle die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering met twee oorwinnings oor Senegal (met 20–6) en Zimbabwe (met 33–3) belowend afgeskop. Die Afrikabeker 2006 was ook deel van die kwalifisering, maar hulle het gemengde resultate opgelewer teen Marokko – ’n 9–9-gelykop tuis en ’n 7–23-nederlaag weg – en Uganda – met ’n 7–32-nederlaag weg en ’n 18–7-oorwinning tuis – waarmee hulle uitgeskakel is.[30]
Die Afrikabeker 2007 het Ivoorkus ná naelskraapse oorwinnings oor Senegal (met 12–10) en Tunisië (met 22–19) en ’n naelskraapse nederlaag in die halfeinstryd teen Madagaskar (met 25–32) met nog ’n naelskraapse nederlaag in die uitspeelwedstryd teen Kenia (met 17–20) in die vierde plek afgesluit, hul beste prestasie in dié toernooi ooit.[31] Die Afrikabeker 2008/09 het as die Rugbywêreldbeker 2011-Afrikakwalifisering gedien en die span het ná oorwinnings oor Zambië (met 32–9) en Marokko (met 21–9) die halfeindstryd gehaal. Hulle het toe teen Namibië te staan gekom en in ’n 13–13-gelykop in Abidjan gespeel, maar met 14–54 in Windhoek vasgeval, en daarmee die toernooi weereens misgeloop.[32]
Tydens die Afrikabeker 2010 het hulle in die halfeindstryd ’n nederlaag teen Marokko (met 3–60) en in die uitspeelwedstryd ’n nederlaag teen Senegal gely (met 6–21).[33] In die daaropvolgende jaar het Ivoorkus weens finansiële beperkings hulself onttrek.[34] In 2012, gelyktydig die eerste rondte van die Rugbywêreldbeker 2015-Afrikakwalifisering, is Ivoorkus in die groepfase uitgeskakel, nadat hulle as naaswenner in ’n vyf-span-groep geëindig het. Elke span het slegs twee wedstryde elk gespeel, dus het Ivoorkus ondanks twee oorwinnings agter Botswana geëindig, wat ook albei sy wedstryde kon wen en die volgende rondte gehaal het.[35]
Die daaropvolgende toernooi het Ivoorkus sy groep gewen ná maklike oorwinnings oor Zambië (met 77–3) en Mauritius (met 83–3), asook ’n naelskraapse oorwinning oor Marokko (met 18–15).[36] In 2014 kon die span in die halfeindstryd Uganda klop (met 22–19) en het die afdelingeindstryd gehaal, waar hulle egter deur Tunisië verslaan is (met 26–6).[37] Een jaar later het hulle nederlae gely teen Uganda (met 11–40) en Madagaskar (met 26–30), voordat hulle ’n naelskraapse oorwinning oor Senegal kon behaal (met 22–19).[38]
In 2016 het die span sy afdeling tweede afgesluit agter Tunisië en daarmee in die Rugbywêreldbeker 2019-kwalifisering die daaropvolgende rondte gehaal, wat op 8 Julie 2017 in die Afrikasilwerbeker teen Marokko in Casablanca beslis is.[39] Hulle het egter met 3–8 vasgeval en kon sodoende nie tot die Goue beker vir die laaste rondte van die kwalifisering vorder nie.[40] Die Ivoriane het daarmee aangebly in die Silwerbeker wat hulle in 2018 met ’n oorwinning oor Senegal (met 25–21) en ’n nederlaag teen Algerië (met 13–23) in die tweede plek afgesluit het.[41]
Nadat die toernooi twee keer vanweë die wêreldwye Covid-19-pandemie gekanselleer is, het die Ivoriane wel deelgeneem aan die Afrikabeker 2021/22, wat by uitsteek oor twee jaar gestrek het. Die eerste rondte, wat in 2021 in Grand-Bassam beslis is, het met ’n verrassende oorwinning oor Namibië (met 24–13) en ’n naelskraapse nederlaag teen Madagaskar (met 19–24) afgeskop, waarmee die Ivoriane die uitklopfase gehaal het. Om epidemiologiese redes is dit in Julie 2022 in die Franse stede Marseille en Aix-en-Provence beslis. Hulle het egter in die kwarteindstryd teen Zimbabwe vasgeval (met 11–38) en sodoende ook versuim om vir die Rugbywêreldbeker 2023 te kwalifiseer.[42] Die span het die uitspelwedstryd om die vyfde plek gehaal, maar naelskraaps teen Uganda met 17–18 vasgeval.[43]
Tydens die Afrikabeker 2024 is die Ivoriane in die kwarteineindstryd deur Algerië uitgeskakel met 12–32.[44] Die span het uiteindelik die uitspeelwedstryd om die sewende plek gehaal en Burkina Faso met 23–10 geklop.[45]
Kleure, embleem en bynaam
wysigIvoorkus speel tradisioneel in ’n oranje trui met wit broeke en groen sokkies. Hul alternatiewe trui is wit met oranje broeke en oranje sokkies.
Die Ivoriaanse Rugbyfederasie se kenteken toon ’n rugbyspeler met doelpale op die agtergrond en ’n Afrika-olifant, Ivoorkus se wapendier. Die nasionale span se bynaam is Les éléphants (“die olifante”).
Tuisstadion
wysigIvoorkus se tuisstadion is die Stade Félix Houphouët-Boigny in die hawestad Abidjan met ’n kapasiteit van sowat 50 000.
Toetswedstryde
wysigIvoorkus het 30 van sy 66 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 45,45%. Ivoorkus se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek in Julie 2024):[46]
Opponent | Gespeel | Gewen | Verloor | Gelykop | % Gewen |
---|---|---|---|---|---|
Algerië | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Botswana | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Burkina Faso | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Frankryk | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Ghana | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Kameroen | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Kenia | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Madagaskar | 2 | 0 | 2 | 0 | 0,00 |
Marokko | 13 | 2 | 10 | 1 | 19,23 |
Namibië | 5 | 2 | 2 | 1 | 40,00 |
Nigerië | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Rwanda | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Senegal | 7 | 5 | 2 | 0 | 71,43 |
Skotland | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Switserland | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Tonga | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Tunisië | 8 | 5 | 2 | 1 | 68,75 |
Uganda | 2 | 1 | 1 | 0 | 50,00 |
Zambië | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Zimbabwe | 4 | 2 | 2 | 0 | 50,00 |
Totaal | 66 | 30 | 33 | 3 | 45,45 |
Rekords
wysigWêreldbekerrekord
wysigIvoorkus het tot dusver vir een rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer. Hulle is tydens die 1995-toernooi egter sonder ’n oorwinning in die groepfase uitgeskakel.
Jaar | Uitslag |
---|---|
1987 | Nie genooi nie |
1991 | Nie gekwalifiseer nie |
1995 | Groepfase |
1999 | Nie gekwalifiseer nie |
2003 | Nie gekwalifiseer nie |
2007 | Nie gekwalifiseer nie |
2011 | Nie gekwalifiseer nie |
2015 | Nie gekwalifiseer nie |
2019 | Nie gekwalifiseer nie |
2023 | Nie gekwalifiseer nie |
2027 | N.v.t. |
2031 | N.v.t. |
Afrikabeker
wysigIvoorkus neem sedert 2001 aan die jaarlikse Afrikabeker deel. Hulle het sedertdien nog nie ’n toernooi gewen nie en een keer in die vierde plek geëindig.
Ander toetswedstryde
wysigVanweë sy laat vestiging in 1990 het Ivoorkus gedurende die amateurtydperk min toere volgens die ou tradisie onderneem, aangesien dit teen die jaar 2000 tot ’n einde gekom het. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Noordelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks vertrek Europese spanne na Ivoorkus en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks reis die Ivoriane na Europa. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel Ivoorkus nie vir enige trofee teen sy opponente nie.
Spelers
wysigHuidige span
wysig
|
|
Bekende spelers
wysigTot dusver is geen voormalige Ivoriaanse speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie.
Spelerstatistieke
wysigVervolgens die belangrikste statistieke van Ivoorkus se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.
(Korrek teen: April 2022)
|
|
|
Sien ook
wysigVerwysings
wysig- ↑ (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Ivory Coast". Wêreldrugby. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Rugby Africa Unions". Rugby Afrika. 2020. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) Huw Richards (2007). A Game for Hooligans: The History of Rugby Union. Edinburg: Mainstream Publishing. p. 164. ISBN 978-1-84596-255-5.
- ↑ 9,0 9,1 (en) Huw Richards (2007). A Game for Hooligans: The History of Rugby Union. Edinburg: Mainstream Publishing. p. 237. ISBN 978-1-84596-255-5.
- ↑ 10,0 10,1 10,2 (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks. p. 69. ISBN 1-86200-013-1.
- ↑ (en) "History of the CAR". Rugby Afrika. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) Nigel Starmer-Smith (1986). Rugby – A Way of Life, An Illustrated History of Rugby. Lennard Books. p. 186. ISBN 0-7126-2662-X.
- ↑ (en) "1987 Rugby World Cup: The long road to the cup". New Zealand History. 2021. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "1991 Rugby World Cup – African qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "1995 Rugby World Cup – African qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (fr) David Kalfa (3 Julie 2015). "Vingt ans après, le rugby ivoirien n'a toujours pas transformé l'essai". Radio France Internationale. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) Alasdair Reid (26 Mei 2020). "Gavin Hastings: I broke world records, I just wasn't good at retaining them". The Times. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (fr) Clément Suman (30 Maart 2020). "Du bonheur au drame, la seule et unique Coupe du monde de la Côte d'Ivoire [VIDÉO]". Le Rugbynistère. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) Tom Sansom (14 Julie 2023). ""Winless World Cups" – The 6 Sides To NEVER Win a Rugby World Cup Match". Ruck. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Rugby World Cup 1995: Overview". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "The tragic tale of Max Brito – the Ivorian player paralysed at the 1995 Rugby World Cup". The 42. 17 September 2015. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Max Brito, who was paralysed at the 1995 Rugby World Cup, has died". Rugbypass. 20 Desember 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "1999 Rugby World Cup – African qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2000 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2001 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2003 Rugby World Cup – African qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2003 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2004 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2005 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2006 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2007 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2008/09 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2010 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2011 Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2012 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2013 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2014 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2015 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2016 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2017 Rugby Africa Silver Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2018 Rugby Africa Silver Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Namibia win Rugby Africa Cup to secure place at Rugby World Cup 2023". rugbyworldcup.com. 10 Julie 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2021/22 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "2024 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Zimbabwe win Rugby Africa Men's Cup 2024". Wêreldrugby. 29 Julie 2024. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "International Rugby Union Statistics – Ivory Coast". ESPNscrum. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Total matches played (descending)". ESPNscrum. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Total points scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ (en) "Total tries scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 20 September 2024.
Verdere leesstof
wysig- (en) Huw Richards (2007). A Game for Hooligans: The History of Rugby Union. Edinburg: Mainstream Publishing. ISBN 978-1-84596-255-5.
- (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks. ISBN 1-86200-013-1.
Eksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Ivoriaanse nasionale rugbyspan. |