Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                

S.P. Engelbrecht

Prof. dr. Stephanus Petrus Engelbrecht (Witbank, Standerton, 20 Oktober 1891Pretoria, 20 Augustus 1977) was ’n teoloog, leier in die Nederduitsch Hervormde Kerk en moontlik die grootste kerkhistorikus in dié kerkverband se bestaan.

Prof. dr. S.P. Engelbrecht, omstreeks 1959.

Herkoms en opleiding

wysig
 
Studente en personeel van die Voorbereidende en Teologiese Skool op Potchefstroom voor die eerste gebou, 1913. Voor: Hester Coetzee, Betsie Postma, S.G Yssel, J.J.A. Coetzee, prof. Ferdinand Postma, prof. J.D. du Toit (Totius), prof. A.P.C. Duvenage, prof. Jan Kamp, Piet van der Walt, Rachel Wentzel, Vera Gill. Tweede ry: Nollie Vermaas, G.P. van der Linde, J.V. Coetzee, D.G. Venter, C.J.H. de Wet, J.C. van der Walt, D.N. Kotze, H.F. Duvenage, Vera Pienaar, Frikkie Potgieter, J.L.M. Wiechers. Derde ry: Piet Coetzee, Jan Triechaardt, Nic Steyn, B.J. de Klerk, J.H Boneschans, H.S. van Jaarsveld, Pieter Coetzee. Vierde ry: Prof. Joon van Rooy, ene Oosthuizen, C.W.M. Du Toit, E.L.J. Venter, T.D. Venter, Daan Marais, J.V. Coetzee, Lou van Rooy, A.S.E. Yssel, H. van der Walt, S.P. Engelbrecht, Izak le Roux, ene Marais, L.J. du Plessis. Vyfde ry: ene Scholtemeyer, Willie Geere.

Engelbrecht was die jongste seun van Gerhardus Jacobus Engelbrecht en sy vrou, Johanna Etresia Kloppers. Sy voorsate was ’n streng kerkgebonde Voortrekkerfamilie. Sy vader het tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) gesneuwel. Omdat die gesin geldelik geruïneer is, is Engelbrecht in die weeshuis op Middelburg, Tvl., opgeneem waar hy sy eerste skoolonderrig ontvang het, hoewel hy nege dae ná die uitbreek van die oorlog nege jaar oud geword het. Op Middelburg het ds. Jac van Belkum, Hervormde predikant, hom oor die seun ontferm en kon hy deur Van Belkum se toedoen sy skoolopleiding op Heidelberg, Tvl., voltooi.

Engelbrecht het as seun reeds ’n oorheersende belangstelling in die Transvaalse Afrikaner se kerklike en staatkundige geskiedenis gehad; so het sy eerste bydrae tot die kerkgeskiedenis verskyn in De Hervormer (van 1930 af Die Hervormer) van 15 Oktober 1909, vyf dae voor sy 18de verjaardag. Ná 'n kort studieverblyf aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom (hoewel hy lidmaat van die Hervormde Kerk was) omstreeks 1912 en '13, is hy na Nederland, waar hy as student in die teologie aan die Rijksuniversiteit van Utrecht ingeskryf het. Hier het hy op 2 Julie 1920 gepromoveer op die proefskrif Geschiedenis van de Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuid-Afrika. Sedert de Groote Trek tot aan de Eerste Annexatie van Transvaal. Hy het dit later uitgebrei en verbeter vir publikasie as Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, wat in 1953 sy derde, hersiene en verbeterde uitgawe beleef het.

Akademiese loopbaan

wysig

Ná sy terugkeer in sy vaderland is hy in 1921 aangestel as lektor aan die teologiese fakulteit van die NH Kerk aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria (TUK, sedert 1930 Universiteit van Pretoria) en drie jaar later as hoogleraar en hoof van die departement geskiedenis van die Christendom. In 1930 is die dekaanskap van die teologiese fakulteit, Afdeling A (NH Kerk), aan hom toegewys. Dié amp sou hy beklee tot sy aftrede in 1956. Daarna was hy argivaris in die NH Kerk se argiefbewaarplek en museum (wat na hom genoem is) in Pretoria.

Dr. Engelbrecht was van 1924 tot 1946 verantwoordelik vir lesings oor Transvaalse geskiedenis in die departement geskiedenis aan die UP en van 1941 tot 1946 het hy as waarnemende direkteur van die Nederlands Cultuurhistorisch Instituut aan dié universiteit opgetree. A.D. Pont skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (SABW): "As historikus het hy hom onderskei deur intensiewe bronnestudie wat berus het op 'n vermoë om bronne op te spoor en te versamel. Daarby het hy 'n fenomenale kennis gehad van die geskiedenis van bykans elke ou Transvaalse familie. Dit, gekoppel aan sy groot werkywer en sy vermoë om helder en interessant te skrywe, het hom in staat gestel om die grondslae te lê vir die geskiedskrywing van die NH Kerk, en sy publikasies met betrekking tot die vroeë Transvaalse geskiedenis het belangstelling gewek en verdere navorsing gestimuleer."

Kerkhistorikus

wysig
 
Jaarvergadering van die SA Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, 20 Oktober 1934, toevallig ook dr. Engelbrecht se 43ste verjaardag. Agter: L.W. Hiemstra, I.M. Lombard, dr. H. v.d. M. Scholtz, dr. Nico Diederichs, dr. C.F. Visser, J.H. Pierneef, dr. S.P. Engelbrecht, dr. J.J. Dekker. Voor: Dr. N.J. van der Merwe, ds. J.D. Kestell, J.S.M. Rabie (sekr.), prof. D.F. Malherbe (voors.), dr. A.J.R. van Rhijn, adv. E.G. Jansen.

As kerkhistorikus en leiersfiguur in die NH Kerk het hy 'n groot bydrae op talle terreine gelewer. Van 1929 tot 1952 was hy redakteur van die Almanak vir die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Deur 'n ruim aantal bydraes tot dié jaarlikse publikasie het hy kennis verskaf en 'n historiese bewustheid by die lidmate van sy kerk gewek. As redakteur van die kerklike orgaan Die Hervormer (van 1928 tot 1934) het hy voortdurend die waarde van kennis van die verlede vir sy kerk en volk beklemtoon. In 1942 het die Eeufeesalbum van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 1842-1942 verskyn, wat in 1965 opgevolg is deur Album vir die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. In 1952 het Die Kaapse predikante van die sewentiende en agtiende eeu uit sy pen verskyn.

Ook was hy verantwoordelik vir 'n reeks gemeentegeskiedenisse, onder meer van Potchefstroom (1942), Rustenburg (1950), Pretoria (1955) en talle artikels oor kerkgeskiedenis in tydskrifte en dagblaaie. Pont meen Engelbrecht se belangrikste publikasie op historiese gebied was sy biografie van Thomas François Burgers, wat in 1933 verskyn het en waarvan 'n Engelse uitgawe in 1946 gepubliseer is. Sy werk as samesteller van belangrike bronne is histories baie waardevol, onder meer Paul Kruger's amptelike briewe 1851-1877 (1926), Schetsen uit de Transvaal door Thos. Burgers (1934) en die Onbekende herinneringe van dr. E.J.P. Jorissen (1934).

Engelkbrecht se versameling dokumente, pamflette en portrette van histories belangrike persone en voorwerpe het van 1925 af so uitgebrei dat 'n gedeelte daarvan na die bewaarplek van die Staatsargief in Pretoria oorgeplaas is. Sowel sy latere dokumentêre nalatenskap as die Engelbrecht-versameling word in die NH Kerkargief in die Dirk van der Hoff-gebou in Pretoria gehuisves.

Waardering

wysig

A.D. Pont skryf in die SABW: "(Engelbrecht) se historiese arbeid was van besondere betekenis vir sy kerk en die Afrikaner in 'n tyd toe gestrewe is na die behoud van eie identiteit en toenemende geestelike en kulturele selfontplooiing. Vir die teologiese studente van sy kerk het hy hom as inspirerende dosent betoon en vir die NH Kerk is hy nog steeds 'n gesaghebbende historikus. In die omstandighede waarin (Engelbrecht) geleef en gewerk het, was dit nie vreemd dat sy geskiedskrywing meermale apologetiese en polemiese tendense getoon het nie. Dit was vir (hom) onmoontlik om neutraal te wees, daarvoor was hy té betrokke by alles waarmee hy besig was." Gevolglik was hy by talle polemieke betrokke, onder meer met C. Spoelstra (van die NG Kerk, 1905), ds. J.V. Coetzee (van die GKSA, 1945) en dr. G.D. Scholtz (1957).

As kultuurmens het Engelbrecht in 1928 'n belangrike bydrae gelewer tot die voortbestaan van die teologiese fakulteit aan die TUK en die Afrikaanswording van die Universiteit van Pretoria in die jare tot 1933. As lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hy van 1930 tot 1935 as sekretaris van die Transvaalse kring gedien en van 1937 tot 1942 as raadslid. Hy was voorsitter van die argiefkommissie en lid van talle buitelandse akademiese liggame. In 1967 het die Akademie hom met die toekenning van 'n erepenning vir sy bydrae tot kultuurgeskiedenis vereer.

Gesinslewe en afsterwe

wysig

Engelbrecht is op 1 November 1920 getroud met mej. M.J.H. Gerritsen. Uit die huwelik is 'n dogter en 'n seun gebore. Hy is ná 'n jare lange siekte oorlede en op 25 Augustus 1977 in die Rebeccastraat-begraafplaas langs sy vrou begrawe.

Bronne

wysig