Sebra
Die sebra, in die volksmond ook kwagga genoem, is 'n soogdier van die familie perdagtiges wat aangetref word in Sentraal- en Suider-Afrika. Hulle het swart en wit strepe wat vertikaal loop oor die liggaam van die dier, en 'n wit pens. Elke sebra se strepe is uniek. Meeste dierkundiges het voorheen gereken dat die strepe vir kamoeflering is, en ander weer dat die strepe 'n rol speel in sosiale interaksie (omdat klein variasies die diere in staat stel om mekaar uit te ken). 'n Meer hedendaagse teorie, wat ondersteun word deur eksperimente, stel voor dat die strepe 'n effektiewe metode is om die visuele stelsel van die tsetsevlieg te verwar.[1]
Sebra | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Animalia |
Filum: | Chordata |
Klas: | Mammalia |
Orde: | Perissodactyla |
Familie: | Equidae |
Genus: | Equus |
Subgenus: | Hippotigris C. H. Smith, 1841 |
Spesies | |
†E. capensis | |
Moderne verspreiding van die lewendige sebra spesies. |
'n Sebra kan 'n topspoed van 55 km per uur haal, stadiger as 'n perd. Hulle het egter groter uithouvermoë. 'n Sebra kan in een dag 40 km ver loop, net om weer in die aand na die trop terug te keer.
Spesies
wysigDaar is drie spesies en verskeie subspesies. Sebrabevolkings in verskillende landsdele verskil baie, en die wetenskaplike klassifikasie van verskeie spesies is onduidelik.
Die mees algemene spesie is Equus quagga (voorheen Equus burchelli), die bontsebra. Hierdie spesie het vyf subspesies in suider- en oos-Afrika. Die mees bekende subspesie is die kwagga, Equus quagga, wat reeds uitgesterf het.
Die bergsebra (Equus zebra) van Namibië het 'n slanker pels met 'n wit pens en nouer strepe as die bontsebra. Dit het twee subspesies wat bedreig word.
Die Grevysebra (Equus grevyi) is die grootste tipe sebra, met regop maanhare, en 'n lang, nou kop wat dit na 'n esel laat lyk. Hierdie sebras kom voor in die semi-bar grasvelde van Ethiopië, Somalië en noordelike Kenia. Die Grevysebra is bedreig.
Drie gestreepte spesies van die genus Equus of familie Equidae is streng gesproke sebras, terwyl 'n vierde spesie wat gedeeltelik gestreep was en uitgesterf het, as die kwagga bekend staan. Die naam kwagga word egter dikwels as sinoniem vir sebra gebruik.
Habitat
wysigSebras kom uitsluitlik in Afrika voor en word in grasvelde en oop savannes aangetref. Hulle leef in kuddes, wat 'n mate van beskerming bied teen aanvalle van roofdiere. Die drie ander spesies wat vandag aangetref word is die gewone sebra, bergsebra en Grevysebra. Sebras behoort tot dieselfde genus (Equus) as perde, esels en wilde esels.
Saam met sekere spesies wat reeds uitgesterf het vorm hulle die familie van die perdagtiges, Equidae. Sebras verskil min van ander perdagtiges deurdat die opvallende swart en wit strepe van sebras ook op die Przewalskiperd en die wilde Somali-esel se bene aangetref word.
Daar word algemeen aanvaar dat baie van die uitgestorwe verwante van die perdagtiges ook gestreepte pelse gehad het. Sebras word net in Afrika aangetref. Voorouers van die sebra wat in ander dele van die wêreld voorgekom het, soos Equus stenonis, het reeds vroeg gedurende die Pleistoseen uitgesterf.
Die Grantsebra kom uit die suide van die Soedan, Ethiopië en Somalië tot by die Zambezi en in die suide van Tanzanië voor. Die Seloussebra kom van die Zambezi en die noorde van Mosambiek af tot by die Limpopo, die ooste van Zambië en Malawi voor, terwyl die Chapmansebra van Benguela (Angola) en Namibië al tot in Gauteng en KwaZulu-Natal voorkom.
Van die drie spesies lyk die bontkwagga die meeste na 'n perd. Die subspesies wat in die suide voorkom het oor die algemeen breë, swart strepe op 'n wit agtergrond, met sogenaamde skadustrepe. Die skadustrepe is ligte bruin strepe tussen die swart strepe.
Sommige bontkwaggas wat in die suide voorkom het geen strepe oor hul bene nie. Bontkwaggas wat in die noorde voorkom het egter geen skadustrepe nie terwyl hul pote wel gestreep is. Die gewone sebra het geen nekvel soos die bergsebra nie en het kort ore. Die maanhare is yl en ontbreek soms. 'n Gemiddelde bontkwagga weeg tussen 225 en 300 kg en het 'n skouerhoogte van tussen 125 en 130 cm. Bontkwaggas word algemeen in Suid-Afrikaanse natuurreservate aangetref.
Die bergsebra of bergkwagga (Equus zebra) kan in twee subspesies ingedeel word, naamlik die egte of Kaapse bergsebra (Equus zebra zebra) en die Hartmannbergsebra (Equus zebra hartmannae). Die bergsebra is die kleinste van die drie spesies, met 'n gemiddelde massa van tussen 210 en 230 kg en 'n skouerhoogte van tussen 125 en 140 cm. Bergsebras word net in Suider-Afrika aangetref.
Die Kaapse bergsebra word deur uitwissing bedreig, maar 'n paar honderd van hulle word vandag in reservate beskerm. Die strepe op sy bene strek tot by sy hoewe en hy het 'n duidelike keelvel wat die bontkwagga nie het nie. Die bergsebra is besonder goed aangepas by die bergagtige en woestyngebiede waarin hy voorkom, en kan uiterste klimaatstoestande trotseer.
Die Grevysebra (Equus grevyi) is die grootste van die drie spesies, met 'n skouerhoogte van 1,55 m. Hy lyk baie na 'n muil en het opvallende groot, ronde ore. Sy strepe is baie smaller as die van die ander twee spesies en sit ook nader aan mekaar. Op die kruis en by die basis van die stert is die strepe smal en loop konkaaf na bo. Van die middel van die rug af loop 'n breë, swart streep oor 'n wit kol op die kruis tot by die stert. Die streep raak nie aan die dwars strepe oor die sye van die sebra nie. Bokant die neus is ook 'n wit kol. Die Grevysebra het dwarsstrepe oor sy bene tot by sy hoewe. Die spesie word in halfwoestyngebiede in die noorde van Kenia aangetref en ook in dele van Somalië en Ethiopië.
'n Vierde spesie, die kwagga (Equus quagga), het in die 19e eeu in Kaapland voorgekom. Met die vestiging van die Nederlanders aan die Kaap in die 17e eeu moes Equus quagga waarskynlik volop voorgekom het, maar hulle is stelselmatig uitgeroei. Die kwaggas se vleis is gebruik as kos vir die Khoiveewagters en uit die velle is graansakke vervaardig. Die laaste kwagga is in 1883 in die Amsterdamse dieretuin Artis dood. Die kwagga is opgestop en in die versameling van die Amsterdamse dierkundige museum opgeneem. Dit was 'n donkerbruin dier met 'n wit maag en pote. Net die nek het strepe gehad. Van die skamele voorbeelde wat in ander museums oor die wêreld te sien is, het sommige kwaggas strepe tot oor die blaaie.
Lewenswyse
wysigHoewel 'n sebra dadelik in die veld opvallend is, dien sy wit en swart gestreepte vel tog as kamoeflering teen roofdiere. Navorsers het bevind dat die strepe die kwagga help deurdat sy buitelyne vervaag wanneer hy beweeg. Aan die ander kant dien die sebra se strepe egter ook as identifikasie.
Sebras kan mekaar nie net aan hul streeppatrone uitken nie, maar ook aan hul reuk en stemme. Sebras is sosiale diere. Die bergsebra en die bontkwagga leef in vaste familieverband met een hings en een tot ses merries en hul vulletjies. Bontkwaggas vorm egter oor die algemeen groter groepe (5 tot 20) as bergsebras (4 tot 12). Die Grevysebra het nie so 'n vaste familieband nie omdat die hingste territoriaal is. Terwyl die hingste van bergsebras en bontkwaggas hul bepaalde merries het, is daar geen blywende band tussen volwasse Grevysebras nie.
'n Grevyhings sal egter sy gebied beskerm teen indringers van ander groepe wanneer 'n bronstige merrie in sy gebied is. Grevyhingste is bekend daarvoor dat hulle hewige gevegte met ander hingste sal aanknoop. Vreemd genoeg meng Grevysebras en bontkwaggas in die noorde van Kenia vryelik sonder dat die hingste van die twee spesies oor bronstige merries baklei. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat sebras van verskillende spesies nie onderling teel nie.
ʼn Grevyhings beskerm die grense van sy gebied. Daar vind nie bakleiery binne 'n gebied plaas nie, omdat vreemde hingste onderdanig is aan die "besitter" van 'n bepaalde gebied. Omdat die Grevysebra in droë gebiede voorkom, trek hulle baie rond op soek na weiding en water. Territoriale hingste sal egter in hulle gebiede agterbly totdat die toestand heeltemal onuithoudbaar word. Bergsebras en bontkwaggas is nie territoriaal nie, met ander woorde hulle beskerm nie ʼn bepaalde gebied nie.
Die familiegroepe leef in groot gebiede wat kan wissel tussen 80 tot 250 km2 en hulle deel die gebied met ander families. Jong hingste vorm ook groepe totdat hulle oud genoeg is en 'n eie familiegroep op die been kan bring. Daar is 'n hegte band tussen familielede van 'n groep. Die hingste en merries bly vir jare, soms vir ʼn leeftyd, by mekaar. Wanneer die hings van 'n groep vrek, sal 'n ander hings die hele groep net so aanneem. Jong sebras verlaat die groep tussen die ouderdom van een en vier jaar.
Wanneer 'n jong merrie geslagsryp is, word sy deur hingste van ander groepe "ontvoer". Sy kies 'n bepaalde maat en bring haar lewe saam met hom deur. Daar is 'n bepaalde hiërargie binne 'n familiegroep. Die hings is die leier en die merries is ondergeskiktes volgens rangorde. Wanneer die sebras trek, sal die hings heel voor loop (soms agter), gevolg deur die merries in rangorde en dan die vullens. Familiegroepe meng vryelik wanneer sebras trek op soek na beter weiding of in gebiede waar weiding volop is.
Die familieband word egter nooit verbreek nie. Hingste is gewoonlik op die ouderdom van 2½ jaar geslagsryp, maar kan vyf tot ses jaar oud word voordat hulle met 'n familie begin. Bronstige merries trek die aandag van hingste deur hul bekke aanhoudend oop en toe te maak. Afhangende van die spesie is die dratyd tussen 11 en 13 maande. Sebras baar net een vul op 'n keer. Merries kan egter binne 'n paar dae na die geboorte van 'n vulletjie weer dragtig raak.
Pasgebore vulletjies het lang, dun beentjies en hulle strepe is rooibruin. Hulle hare is lank en sag, veral op die rug, en die strepe word eers later swart. Hoewel die vulletjie na twee weke al kan gras vreet, drink hy aan die ma tot op die ouderdom van sewe maande. Sebras het nie vasgestelde paar tye nie, maar die meeste geboortes vind tussen Oktober en Maart plaas. Daar word omtrent net soveel hingste as merries gebore, wat verklaar waarom hingste soms ses jaar wag voordat hulle met 'n familie begin, of alleenlopers word.
Bontkwaggas leef in grasvlaktes en is baie afhanklik van water. Wanneer dit baie droog is, grawe hulle wortelstokke van gras of knolle uit. Die Grevysebra leef weer in halfwoestyngebiede en droë grasvlaktes. Hulle is nie so afhanklik van water nie en sal ook aan bome en struike vreet. Die bergsebra leef in droë gebiede soos berge of woestyne en kan veel langer sonder water klaarkom.
Hulle sal egter oor groot afstande trek op soek na water en sal selfs daarvoor grawe. Veral bontkwaggas deel geredelik hulle weivelde met ander boksoorte. Bontkwaggas word dikwels saam met blouwildebeeste gesien en wei ook saam met hartebeeste, elande gemsbokke en kameelperde.
Kruisteling
wysigSebras word soms kruisgeteel met ander lede van die perdfamilie. 'n Perd wat kruisgeteel is met 'n sebra word in Engels 'n zorse genoem, en 'n donkie-sebra kruisteling 'n zedonk.
Sien ook
wysigVerwysings
wysig- ↑ Dís die nut van sebra se strepe[dooie skakel], Beeld, 11 Oktober 2007
Bronne
wysig- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409664, volume 25, bl. 26 - 28
Eksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Zebras. |
Sien sebra in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
- PBS Nature: Horse Tigers (Sebras) Geargiveer 20 September 2008 op Wayback Machine
- Encarta artikel in Engels: Zebra Geargiveer 21 Maart 2006 op Wayback Machine