Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                
Gaan na inhoud

Canasta

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Canasta
Variasies Samba
Hand-en-voet-canasta
Tipe Strategie
Familie Rummy
Spelers 2-4
Ouderdom 11 en ouer
Getal kaarte 108
Oorsprong Uruguay
Speeltyd 60 min.
Wenkans Medium

Canasta (Spaans vir "mandjie") of kanasta is 'n kaartspel van die rummy-familie speletjies.[1][2] Hoewel verskeie weergawes vir twee, drie, vyf of ses spelers bestaan, word dit meestal deur vier mense in twee spanne of pare gespeel met twee pakke kaarte. Spelers probeer soveel moontlik pakkies van sewe kaarte van dieselfde waarde maak, asook ander pakkies met kaarte van dieselfde waarde, en speel uit wanneer hulle al die kaarte in hulle hand opgebruik het. Dit is "die mees onlangse kaartspel wat wêreldwyd die status van 'n klassieke spel behaal het".[3]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Canasta is in 1939 deur die prokureur Segundo Sanchez Santos en sy brugmaat, die argitek Alberto Serrato, in Montevideo, Uruguay, uitgedink[4] in 'n poging om 'n tyddoeltreffende spel te skep wat net so betowerend as brug is.[5] Hulle het verskeie formules beproef voordat hulle Arturo Gomez Hartley en Ricardo Sanguinetti genooi het om die spel te toets.[6]

Nadat hulle plaaslike brugklub die spel in die 1940's positief ervaar het, het dit vinnig in verskeie weergawes noordwaarts deur Suid-Amerika versprei na Chili, Peru, Brasilië en Argentinië,[4] waar die reëls verder verfyn is.[7] Dit is in 1949 deur Josefina Artayeta de Viel bekend gestel in die VSA, waar dit die "Argentynse rummy" genoem is.[8] In 1949/'51 het die New Yorkse Regency Club[9] die ampelike canastareëls geskryf en dit is deur die National Canasta Laws Commissions van die VSA saam met kundiges van Suid-Amerika gepubliseer.[10]

Canasta het in die 1950's gou in Amerika gewild geraak[11] en baie kaartstelle en boeke is uitgereik.[12] Belangstelling in die speletjie het in die 1960's begin afneem, maar dit is steeds gewild, met canastaklubs en -ligas wat steeds in verskeie dele van die VSA en elders bestaan.

Santos en Serrato het die spel nooit gepatenteer nie en het nooit tantième ontvang toe die spel later uiters gewild geraak het nie.

Die punte word in elke spelrondte aangeteken. Die doel van die spel is om soveel moontlik canastas en ander kaarte op die tafel te kry. Die speler/span wat eerste 5 000 punte kry, wen die spel (wat uit verskeie spelrondtes bestaan). Die hoofdoel van 'n spelrondte is dus nie om uit te speel nie, maar om soveel moontlik punte te kry. Dit is net 'n goeie skuif om so gou as moontlik uit te speel as jy wil keer dat jou teenstander(s) nog canastas maak. Dit is ook 'n goeie skuif as jou teenstander(s) baie rooi dries het, maar geen pakkies nie, want dit tel dan teen hulle.

Reëls vir klassieke canasta

[wysig | wysig bron]

Kaarte en uitdeel

[wysig | wysig bron]

Die klassieke spel is vir vier mense wat twee-twee saamspeel. Weergawes bestaan vir twee en drie spelers waarin elk alleen speel, asook vir ses spelers in twee pare van drie elk. Wanneer maats gekies word, moet hulle oorkant mekaar sit. Gewoonlik word twee volle pakke van 52 kaarte gebruik, saam met die twee jokers per pak, wat altesaam 108 kaarte is.

Kaartfunksies
Kaart Waarde
4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, J, Q, K, A Natuurlike kaarte vir pakkies
2, joker Wildekaarte vir pakkies
Rooi 3 Bonuspunte
Swart 3 Blokkeer volgende speler; 'n pakkie kan uitgesit word wanneer 'n speler uitspeel

Die aanvanklike deler word deur enige algemene metode gekies, hoewel die deler nie enige voordele het nie. Die volgende deler aan die linkerkant deel daarna die kaarte. Die deler skommel die kaarte en die speler aan sy regterkant sny die pak. Die deler deel dan 11 kaarte aan elke speler. Die oorblywende kaarte word op 'n voorraadstapel in die middel van die tafel gelos. Een kaart word van die voorraadstapel geneem en oop neergesit om die weggooistapel te begin. As dié kaart 'n wildekaart of rooi drie is, word nog 'n kaart omgedraai en bo-op geplaas. Dit duur voort totdat 'n natuurlike kaart of swart drie omgedraai word.

As 'n speler met die uitdeelslag een of meer rooi dries kry, moet hy hulle dadelik met die gesig na bo by hom uitsit, en dieselfde hoeveelheid kaarte word dan van die voorraadstapel geneem in die plek daarvan.

Die speler wat links van die deler sit, kry eerste kans om te speel en die spel vorder dan kloksgewys. 'n Beurt begin deur 'n kaart van die voorraadstapel te neem of die hele weggooistapel te vat. Daar is egter beperkings op wanneer iemand die hele weggooistapel mag neem. (Sien "Optel van die weggooistapel" hier onder.) As die kaart wat opgetel word 'n rooi drie is, moet die kaart dadelik oop op die tafel neergesit en 'n ander kaart opgetel word.

Spelers kan enige kaarte in hulle hand gebruik om pakkies te maak of daarby aan te las. 'n Beurt eindig wanneer die speler 'n kaart uit sy hand op die weggooistapel neersit.

Pakkies en canastas

[wysig | wysig bron]

Elke speler/span het sy eie pakkies van kaarte met dieselfde waarde. 'n Speler mag nooit by 'n teenstander se pakkies aanlas nie. 'n Toelaatbare pakkie bestaan uit minstens drie kaarte van dieselfde waarde, soos drie konings, en daar is geen perk op hoe groot dit mag word nie. Pakkies mag uit enige kaarte bestaan, maar swart dries word anders as rooi dries hanteer. Wildekaarte kan in die plek van enige kaart gebruik word, buiten 'n drie. Dries kan nooit in gewone pakkies gebruik word nie, hoewel 'n pakkie van swart dries gemaak kan word as 'n speler uitspeel.

'n Pakkie moet bestaan uit minstens twee natuurlike kaarte en kan nooit meer as drie wildekaarte bevat nie. Voorbeelde: 5 5 2 en 9 9 2 2 Jkr is toelaatbare pakkies. 5 2 2 is nie toelaatbaar nie, omdat dit net een natuurlike kaart bevat. 9 9 9 2 2 2 Jkr is nie toelaatbaar nie, omdat dit meer as drie wildekaarte bevat. Een speler/span mag nie twee aparte pakkies van dieselfde waarde hê nie. As nog kaarte van dieselfde waarde uitgesit word, word hulle outomaties by 'n vorige pakkie aangelas.

'n Canasta is 'n pakkie van minstens sewe kaarte, óf rooi (suiwer) óf swart (onsuiwer). 'n Suiwer canasta is een wat net kaarte van dieselfde waarde bevat. 'n Onsuiwer canasta is een van beide natuurlike en wildekaarte. As 'n canasta gemaak word, word die pakkie opmekaargestapel en 'n kaart word bo-op neergesit – 'n rooi kaart om 'n suiwer canasta aan te dui en 'n swart kaart om 'n onsuiwer canasta aan te dui.

Aanvanklike pakkies

[wysig | wysig bron]

Elke kaart het 'n spesifieke waarde wat die punte bepaal, asook die minimum punte wat spelers nodig het voordat hulle hulle eerste pakkies mag uitsit:

Puntewaardes vir pakkies
Kaart Waarde
4, 5, 6, 7 5
8, 9, 10, J, Q, K 10
2, A 20
Joker 50

Die eerste pakkie(s) wat 'n speler/span mag uitsit, hang af van die waarde van die kaarte; dit moet 'n minimum waarde hê soos bepaal deur die waarde van elke kaart. Aan die begin van die spel het almal 'n vereiste waarde van 50 punte vir eerste pakkies. Die punte mag nie kaarte insluit wat 'n speler van die weggooistapel optel nie, maar moet kom van die kaarte in sy hand en die boonste kaart van die weggooistapel indien die weggooistapel opgetel word. As die totale waarde nie aan die minimum voldoen nie, mag 'n speler nie sy eerste pakkies uitsit of die weggooistapel optel nie. Ná die eerste spelbeurt word die minimum vereiste vir pakkies bepaal deur 'n speler/span se totale punte voor die spelbeurt begin.

Telling Waarde van eerste pakkie
Negatief 15
0-1 495 50
1 500-2 995 90
3 000 en hoër 120

Voorbeeld: As 'n speler/span 'n totale telling van 1 600 het ná vorige rondtes, kan sy aanvanklike pakkies nie 7 7 7 en Q Q Q 2 wees nie, want dit tel net 65 punte, en die minimum vereiste is 90. Pakkies van 7 7 7 en A A A 2 tel 95 punte en mag dus uitgesit word. Let daarop dat die aanvanklike pakkies wel uitgesit mag word as die speler/span se totale punte onder 1 500 is, en dat hulle nie uitgesit mag word as die speler/span se totale punte 3 000 of hoër is nie. Die minimum waarde van pakkies vir iemand wat 'n negatiewe totale telling het, is 15. Omdat enige drie kaarte altyd minstens 15 punte tel, beteken dit enige pakkie mag uitgesit word. As 'n spanmaat sy pakkies uitgesit het, mag sy maat enige toelaatbare kaarte aanlas sonder dat hy die minimum punte het.

Optel van die weggooistapel

[wysig | wysig bron]

Net die boonste kaart van die weggooistapel moet sigbaar wees. 'n Speler mag nie deur die weggooistapel loer nie.

Aan die begin van 'n beurt mag 'n speler die hele weggooistapel optel in plaas daarvan om een kaart van die voorraadstapel op te tel. Hy mag net die weggooistapel optel as hy die boonste kaart kan gebruik, óf in 'n bestaande pakkie óf in 'n nuwe pakkie saam met minstens twee kaarte in sy hand (wat wildekaarte mag insluit). Net die boonste kaart is dus relevant as 'n speler die hele weggooistapel wil optel. As 'n speler/span nog nie 'n pakkie uitgesit het nie en die weggooistapel wil optel, moet hulle aan die minimum waardevereiste vir eerste pakkies voldoen, met die insluiting van die boonste kaart.

As 'n wildekaart uitgegooi word, vries dit die weggooistapel. Die kaart moet dwars op die res van die stapel neergesit word, soos op die foto heel bo, sodat dit sigbaar bly dat die stapel gevries is nadat nog kaarte uitgegooi is. As daar 'n wildekaart of swart drie bo-op die weggooistapel lê, mag dit nie opgetel word nie. As 'n swart drie uitgegooi word, vries dit nie die stapel nie; dit keer net die volgende speler om die weggooistapel op te tel. Die volgende kaart wat uitgegooi word, maak dat die weggooistapel weer opgetel kan word (tensy dit 'n wildekaart of nog 'n swart drie is).

Die weggooistapel is ook gevries vir 'n speler wat nog nie 'n pakkie in dié beurt uitgesit het nie; spelers met pakkies mag dit wel optel.

Uitspeel

[wysig | wysig bron]

'n Speler mag uitspeel deur al die kaarte in sy hand te gebruik, mits die speler/span minstens een canasta het. Die speler speel uit wanneer hy al die kaarte in sy hand vir pakkies kan gebruik of aanlas, en kan een kaart uitgooi indien nodig. Hy hoef egter nie 'n kaart uit te gooi nie. As die speler/span nog nie 'n canasta het nie, mag 'n speler nie sonder kaarte in sy hand sit nie.

As 'n speler kan uitspeel en hy het drie swart dries in sy hand, mag hy dit in 'n pakkie uitsit, maar net dan. Die rondte eindig wanneer 'n speler uitspeel, en dié speler kry 100 punte ekstra.

Wanneer 'n speler kan uitspeel, kan hy sy maat vra of hy mag. Dit is nie nodig om 'n maat se toestemming te vra nie, maar as hy dit doen, moet hy hom neerlê by sy maat se antwoord; as dié nee sê, mag hy nie uitspeel nie.

As 'n speler sy hele hand in 'n rondte kan uitsit (insluitend minstens een canasta) sonder dat hy voorheen pakkies uitgesit het, kry hulle nog 100 punte ekstra, dus altesaam 200 punte. Dit word "verborge uitspeel" genoem. Die speler mag van die weggooistapel gebruik maak, maar moet aan die minimum vereiste vir eerste pakkies voldoen. Om dié bonus te verdien, mag 'n spanmaat nie kaarte by sy pakkies aanlas nie.

'n Hand kan ook uitgespeel word deur die voorraadstapel uit te put. Die spelrondte mag voortgaan solank elke speler die vorige speler se weggooikaart kan optel en dit aanlas of 'n pakkie maak. In so 'n situasie móét 'n speler die weggooistapel optel as hy kan. Sodra 'n speler nie die weggooikaart of -stapel kan optel nie, eindig die spelrondte. As 'n speler 'n rooi drie optel as die laaste kaart van die voorraadstapel, tel dit vir hom as punte, maar die spelrondte eindig dadelik omdat daar nie 'n kaart oor is om as 'n vervanging op te tel nie. Die speler mag in so 'n geval nie aanlas, 'n pakkie maak of die rooi drie uitgooi nie.

Puntetelling

[wysig | wysig bron]

Aan die einde van elke spelrondte word die punte vir elke speler/ span soos volg bereken:

Die totale waarde van alle pakkies of aanlaskaarte van die speler/span, insluitende die canastas, minus die totale waarde van die kaarte wat nog in die speler/span se hand oor is, plus enige bonusse:

Kaart Waarde
Rooi 3 100
Swart 3, 4, 5, 6, 7 5
8, 9, 10, J, Q, K 10
2, A 20
Joker 50
Bonuspunte
Bonus Waarde
Vir uitspeel 100
Vir verborge uitspeel ekstra 100 ('n totaal van 200)
Vir elke swart canasta 300
Vir elke rooi canasta 500
Vir al vier rooi dries 'n ekstra 400

As 'n speler rooi dries het, maar nog nie pakkies gemaak het wanneer 'n teenstander uitspeel nie, tel die rooi dries teen hom, en word die waarde getel by dié van die kaarte in sy hand. As hy in so 'n geval al vier rooi dries gekry het, word 800 punte van sy totaal afgetrek.

Dit is moontlik om met 'n negatiewe telling te eindig. Die spel is verby wanneer 'n speler/span 'n telling van altesaam 5 000 het. As albei speler/spanne aan die einde van 'n spel 5 000 het, wen die een met die hoogste telling.

Canasta vir twee of drie spelers

[wysig | wysig bron]

Canasta kan deur minder as vier spelers gespeel word, met 'n aanpassing in die reëls. Die grootste verskille is die getal kaarte wat uitgedeel word en die feit dat elke speler vir homself speel. In 'n spel met drie speler kry elke speler 13 kaarte. As twee spelers speel, kry elkeen 15 kaarte en elke speler tel twee kaarte op aan die begin van 'n rondte en gooi een uit. Gewoonlik geld die reël dat 'n speler twee canastas moet hê om te kan uitspeel.

Samba

[wysig | wysig bron]

Samba is 'n weergawe van canasta. Dit word met drie pakke kaarte gespeel, insluitend jokers – dus 'n totaal van 162 kaarte. Elke speler kry 15 kaarte en een kaart word omgedraai. Twee kaarte word met elke beurt opgetel en die tempo is dus vinniger as by tradisionele canasta. Die wenner moet 10 000 punte hê in plaas van 5 000.

In samba mag drie of meer kaarte in 'n reeks uitgesit word (byvoorbeeld die 4, 5 en 6 van harte of die Q, K en A van skoppens). As 'n speler sewe kaarte in 'n reeks kan uitsit (byvoorbeeld van die 5 tot die J van diamante), word dit 'n "samba" genoem en is dit 1 500 punte werd. Eerder as dat vier rooi dries 800 punte werd is, is ses rooi dries 1 000 punte werd. 'n Maksimum van twee wildekaarte word in 'n pakkie toegelaat. Die minimum waarde van die eerste pakkies is 150 as die speler/span 7 000 of meer punte het.

Daar is ook talle verskillende nasionale weergawes van canasta, soos Britse, Italiaanse, Brasiliaanse, Boliviaanse, Chileense en Kubaanse canasta.

Hand-en-voet-canasta

[wysig | wysig bron]

Dié weergawe word gespeel met 'n hand en voet, in plaas van net 'n hand soos in tradisionele canasta. Vier tot sewe pakke kaarte word gebruik en gewoonlik speel spanne van twee spelers elk (gewoonlik twee spanne, maar daar kan ook drie of vier spanne wees). Die getal pakke kaarte is gewoonlik een meer as die getal spelers, maar dit wissel. Vanweë die groter poel van beskikbare kaarte is dit makliker as in tradisionele canasta om canastas te vorm, en dit verander die strategie aansienlik. Sommige spelers voel beginners geniet dié weergawe meer. Dit het in die 1970's ontstaan; kommersiële pakke kaarte om dit te speel is van 1987 af beskikbaar. Belangrike reëls wat verskil van tradisionele canasta sluit in:

  • Twee hopies van 11 kaarte elk word aan elke speler uitgedeel, wat as die "hand" en "voet" bekend is. Die hand word normaalweg opgetel en die voet bly gesig na onder op die tafel lê totdat die hand uitgeput is.
  • 'n Speler wat al die kaarte in sy hand uitgesit het, tel die voet op as 'n nuwe hand en gaan voort met die spel. Hy mag egter nie dié kaarte gebruik tot met die volgende rondte nie.
  • Met elke beurt tel 'n speler twee kaarte van die voorraadstapel op. Hy gooi aan die einde van 'n rondte een kaart uit.
  • Die getal canastas wat vereis word om uit te speel is drie rooi (suiwer) en vier swart (onsuiwer) canastas. Wanneer sonder spanmaats gespeel word, is een rooi en twee swart canastas nodig.
  • Weggooikaarte mag met twee natuurlike kaarte in die hand opgetel word, maar 'n speler moet die boonste vyf kaarte van die weggooistapel optel.
  • Dries mag nie in pakkies voorkom of aangelas word nie. Hulle moet dus een op 'n slag uitgegooi word.
  • Swart dries in 'n speler se hand of voet tel vyf punte elk, rooi dries tel minus 300 punte.

Aanvanklike pakkies

[wysig | wysig bron]

Aan die begin van 'n spel het al die spanne 'n minimum vereiste van 50 punte vir eerste pakkies. Die vereiste neem toe in daaropvolgende rondtes.

Hand Minimum waarde vir eerste pakkie
1ste spelrondte 50
2de spelrondte 90
3de spelrondte 120
4de spelrondte 150
  • Reëls vir uitspeel is:
    • 'n Speler moet minstens drie rooi en vier swart canastas hê.
    • 'n Speler moet sy spanmaat vra om uit te speel.

Die telling

[wysig | wysig bron]

Aan die einde van elke spelrondte word die telling soos volg bereken:

Die totale kaarte wat deur die speler/span uitgesit of aangelas is, insluitende kaarte in canastas, minus die totale waarde van die kaarte in die speler se hand, plus enige bonusse:

Bonustellings
Uitspeel 100
Elke swart canasta 300
Elke rooi canasta 500


Puntwaardes
Kaart Waarde
4, 5, 6, 7 5
8, 9, 10, J, Q, K 10
2 (wildekaart), A 20
Joker (wildekaart) 50

Variasies van klassieke canasta en ander soorte

[wysig | wysig bron]
  • Die weggooistapel kan nie deur speler met canastas opgetel word nie, net deur spelers met ander pakkies.
  • Die getal wildekaarte in 'n pakkie moet altyd minder wees as die getal natuurlike kaarte.
  • Kaartpunte in canastas word opgetel saam met die punte wat aan canastas toegeken word.
  • Regte jokers mag nie uitgegooi word nie en kan dus nie gebruik word om die weggooistapel te vries nie.
  • Die eerste pakkies moet uitgesit word voordat die weggooistapel opgetel mag word. Die boonste kaart in die weggooistapel kan dus nie bygetel word om die eerste pakkies se waarde te bereken nie.
  • Daar is 'n spesiale geval waar enige speler/span wat sewe canastas in een spelrondte kan uitsit, outomaties 5 000 punte kry en die spel wen.
  • Enige getal kaarte, soos 13 of 14, kan aan die begin uitgedeel word. Soms hang dit van die getal spelers af.
  • In een weergawe kan tot drie wildekaarte in 'n pakkie uitgesit word, ongeag die hoeveelheid natuurlike kaarte.
  • As die voorraadstapel op is, kan die weggooistapel omgedraai word vir 'n nuwe voorraadstapel.
  • Soms mag net 10 kaarte van die weggooistapel opgetel word.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Carlisle, Rodney P. (2009). Encyclopedia of Play in Today's Society, Volume 1, p. 615. Sage. ISBN 978-1412966702. "Canasta developed from 500 Rum."
  2. Morehead, Albert Hodges and Hoyle, Edmond; reds. (1991). The New Complete Hoyle, Revised: The Authoritative Guide to the Official Rules of All Popular Games of Skill and Chance, p. 70. Doubleday. ISBN 978-0385249621.
  3. Parlett 2008, p. 517.
  4. 4,0 4,1 American Heritage Dictionary Spanish Word Histories and Mysteries: English Words That Come from Spanish, Houghton Mifflin Harcourt (2007), ISBN 0618910549
  5. "History of Rummy" in Roya, Will (2021). Card Night: Classic Games, Classic Decks, and the History Behind Them. Black Dog & Leventhal Publishers. p. 93. ISBN 978-0762473519.
  6. "História do Buraco".
  7. John Scarne, Scarne on Card Games, p. 127, Dover Publications (2004), ISBN 0486436039
  8. John Griswold, Ian Fleming's James Bond: Annotations And Chronologies for Ian Fleming's Bond Stories, p. 228, AuthorHouse (2006), ISBN 1425931006
  9. Website Regency Whist Club
  10. Official Canasta Laws, adopted by the Regency Club and the National Canasta Laws Commission as the official Canasta Laws. The John C. Winston Company Philadelphia. Toronto 1951 (3de uitgawe)
  11. Nikki Katz, The Everything Card Games Book[dooie skakel], p. 52, Adams Media (2004), ISBN 1593371306
  12. Life Magazine, Life, 19 December (1949)

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Culbertson, Ely, Culbertson on Canasta: a Complete Guide for Beginners and Advanced Players With the Official Laws of Canasta, Faber 1949
  • Holmberg, H.H. en Öhrling, Erkki, Canasta, Samba ja Sitoumussamba, 1962
  • Morehead, Albert, Hoyle's Rules of Games (3de uitg.), Signet, 2001
  • Parlett, David (2008). The Penguin Book of Card Games. Londen: Penguin.

Skakels

[wysig | wysig bron]