Sikuon
Sikyon (Grieks: Σικυών; gen.: Σικυῶνος) was 'n antieke Griekse stad geleë in die noordelike Peloponnese tussen Korinthe en Achaia, in die landstreek van die hedendaagse Korinthia-prefektuur. Die koningslys wat deur Pausanias verskaf is,[1] lys vier en twintig konings daarvan, beginnend met die inboorling Aigialeus; die voorlaaste koning van die lys, Agamemnon, wat Sikyon onderwerp aan Mykeense heerskappy; opgevolg deur die Doriese usurpator Phalkes. Pausanias deel sy bron met Kastor van Rhodos, wat die koningslys vir die samestelling van geskiedenistabelle aangewend het; die gemeenskaplike bron is oortuigend deur F. Jacoby aangedui[2] as 'n verlore Sikyonika deur die laat vierde-eeuse digter Menaechmos van Sikyon.
Sikyon is gebou op 'n lae driesydige plato sowat twee myl van die Korinthiese golf. Tussen die stad en die hawe daarvan, was 'n vrugbare vlakte geleë met olyf- en ander boorde. Na die Doriese inval was die gemeenskap onderverdeel in die gewone drie Doriese stamme, 'n ewe-welgestelde stam Ioniërs, en 'n klas van lyfeienes wat op die land gewoon en gewerk het.
Vir enkele eeue het Sikyon aan Argos onderhorig gebly, vanwaar Sikyon se Doriese invallers afkomstig was; so laat as 500 v.C. het dit 'n mate van susereiniteit erken. 'n Bykanse onafhanklikheid is egter in die 7de eeu v.C. behaal, toe 'n reeks tiranne die botoon gevoer het wat 'n anti-Doriese beleid aangevoor het. Die vernaamste van hierdie bewindhebbers was die stigter se kleinseun Kleisthenes, die oom van die Atheense wetgewer Kleisthenes. Hy het die stad se grondwet herskik tot voordeel van die Ioniërs en die Doriese kultusse vervang met aanbidding van Dionysos. Kleisthenes het verder roem behaal as die hoofaanstigter en generaal in die Eerste heilige oorlog (590 v.C.) wat gevoer is om die belange van die Delphiërs.
Omtrent hierdie tyd, het Sikyon die verskillende nywerhede ontwikkel waarvoor dit in antieke tye bekend was. As die tuisoord van die beeldhouers Dipoenos en Skyllis het dit voortreflikheid in houtsnee- en bronswerk verkry, soos steeds waar te neem is in die argaïese metaalwerk by Olympia. Hul erdewerk, wat 'n ooreenkoms met Korinthiese erdewerk getoon het, is saam met die laasgenoemde uitgevoer so vêr as Etrurië. Na bewering sou skilderkuns ook sy ontstaan in Sikyon gehad het. Na die val van die tiranne het hul instellings oorleef tot die einde van die 6de eeu v.C., toe Doriese heerskappy herstel is, moontlik bewerk deur Sparta onder die ephor Chilon, en die stad is opgeneem in die Peloponnesiese bond. Voortaan sou hul beleid oorwegend deur Sparta of Korinthe bepaal word.
In die 5de eeu v.C. het Sikyon, soos Korinthe, onder die kommersiële wedywering van Athene in die westelike seë gebuk gegaan, en is herhalend deur eskaders Atheense skepe lastiggeval. In die Peloponnesiese oorlog het Sikyon die leierskap van Sparta en Korinthe aanvaar. Toe hierdie twee moondhede oorhoeks was na die vrede van Nikias, het Sikyon aan die Spartane lojaal gebly. In die Korinthiese oorlog, het Sikyon weereens Sparta se kant gekies, en het as basis gedien vir gevegsoperasies teen die bondgenote se troepe om Korinthe. In 369 v.C. is dit verower en as kasernedorp aangewend deur die Thebers in hul suksesvolle aanval op die Peloponnesiese bond. In hierdie tydperk het Sikyon 'n hoogtepunt bereik as 'n kunssentrum: die skilderskool was roemryk onder Eupompos en het die grootmeesters Pamphilos en Apelles as studente gewerf; Sikyon se beeldhouwerk is deur Lysippos en sy leerlinge verhef tot 'n vlak wat kwalik in Griekeland oortref is.
Die vernietiging van Korinthe (146 v.C.) het vir Sikyon 'n toevoeging van landgebied meegebring en die presidensie oor die Isthmiese spele; tog het dit in Cicero se tyd in diep skuld verval. Onder die Romeinse ryk was dit redelik oorskadu deur die herstigde stede van Korinthe en Patrai; in die era van Pausanias (150 n.C.) was dit byna verlate. In Bisantynse tye het dit 'n biskopsetel geword, en te oordeel aan die latere naam daarvan, naamlik Hellas, was dit 'n toevlugsoord vir Grieke, na die Slawiese immigrasie van die 8ste eeu.
Die dorpie Vasiliko (deur die 1911 Encyclopædia Britannica as "onbeduidend" beskryf) is tans hier geleë.
Noemenswaardige inwoners
[wysig | wysig bron]- Aigialeus (21ste eeu v.C.) stigter volgens legende[3]
- Butades (7de eeu v.C.) beeldhouer
- Kanachos (6de eeu v.C.) beeldhouer
- Aristokles (5de eeu v.C.) beeldhouer
- Praxilla (5de eeu v.C.) digteres
- Eupompos (4de eeu v.C.) skilder
- Melanthios (4de eeu v.C.) skilder
- Pausias (4de eeu v.C.) skilder
- Eutychides (4de eeu v.C.) beeldhouer
- Lysippos (4de eeu v.C.) beeldhouer
- Lysistratos (4de eeu v.C.) beeldhouer
- Xenokrates (3de eeu v.C.) beeldhouer
- Sostrates (4de eeu v.C.) pankratis; driemaal Olimpiese kampioen
- Aratos van Sikyon (3de eeu v.C.) Hoof van die Achaiese bond
Verwysings
[wysig | wysig bron]- Hierdie artikel maak gebruik van feite en teks uit die Encyclopædia Britannica van 1911. Die bron is in die publieke domein.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- "Sicyon: The most ancient Greek city-state", Ellen Papakyriakou/Anagnostou. Bevat heelwat inligting omtrent antieke en hedendaagse Sikyon.
- "The Greco-Roman Theatre at Sicyon", The Ancient Theatre Archive. Teaterspesifikasies en oorsig van die antieke teater.
- Vir die moderne munisipaliteit, sien Sikyona.