SONVANGER VIR MY HART
Ek’t ná sewe jaar weer my ou dorp binnegery en my hart het ’n paar maal gebreek. Met die oor-die-drumpel-trap in my liefbroer se huis en hy’s nie meer daar nie, die laaste groet in sy geliefde rolbalsaal en sy wegbêre in die herinneringsmuur.
En om my dorp se verval te aanskou. My dorp het vir my ’n vreemdeling geword.
Die Adelphi-kafee en -bioskoop waar ons Saterdagmiddag se vertoning van Doris Day se Pillow Talk en Elvis se Blue Hawaii gaan kyk het, het in ’n Chinese “bargain store” verander. En die aristokratiese Astoria-hotel is vervalle en die verf is afgedop. Ou Ahmed van Ahmed-broers met sy fessie op sy kop wag ons nie meer op sy stoel met ’n glimlag in en vra: “Hoe gaan dit met mister Maritz?” nie.
Ons ma en pa se huis is onherkenbaar, weliswaar netjies, maar met lemmetjiesdraad toegespan.
Ek soek na die soel geur van