Chamonix-Mont-Blanc
Chamonix-Mont-Blanc | |
---|---|
Die Chamonixvallei, soos gesien vanuit die suide | |
Koördinate: 45°55′23″N 6°52′11″O / 45.92306°N 6.86972°O | |
Land | Frankryk |
Gewes | Auvergne-Rhône-Alpes |
Département | Haute-Savoie |
Arrondissement | Bonneville |
Kanton | Chamonix-Mont-Blanc |
Regering | |
• Burgemeester | Éric Fournier |
Oppervlak | |
• Totaal | 245,46 km2 (94,77 vk. myl) |
Hoogte | 995–4 810 m (3 264–15 780 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 8 640 |
• Digtheid | 35/km2 (91/vk. myl) |
Tydsone | UTC+01:00 (MET) |
• Somertyd | UTC+02:00 (MEST) |
Poskode | 74056/74400 |
Skakelkodes | 07010 |
Webwerf | chamonix.fr |
Chamonix-Mont-Blanc (Frans: [ʃamɔni mɔ̃ blɑ̃]; dikwels kort Chamonix, Frankoprovensaals: Chamônix) is 'n internasionaal bekende skioord en die kosmopolitiese sentrum van Bergklim in Frankryk. Die dorp met 8 640 inwoners (wat in Frans "Chamoniards" genoem word) in die département Haute-Savoie (administratiewe gewes Rhône-Alpes) was in 1924 die gasheerstad van die eerste Olimpiese Winterspele.
Chamonix (afgelei van die Latynse campus munitus) was oorspronklik net die naam van die vallei (terwyl die dorp self as Prieuré of Bourg bekend gestaan het), en die vroegste historiese verwysings na die gebied dateer uit die jare 1229 (Chammonis) en 1236 (Chamonix).
Chamonix-Mont-Blanc is 'n gewilde toeristebestemming, en die Chamonixvallei lok in die somer meer as 100 000 en in die besige skiseisoen gedurende die winter dikwels meer as 60 000 besoekers per dag. Die jaarlikse aantal toeriste bereik sowat vyf miljoen. Die dorp het 'n lang tradisie as skioord en spog met eersterangse wintersportfasiliteite.
Die Mont Blanc-tonnel met 'n lengte van 11,6 kilometer, wat Frankryk met Italië verbind, lê naby Chamonix.
Geografie
[wysig | wysig bron]Chamonix-Mont-Blanc lê in die Chamonixvallei, wat van glasiale oorsprong is en met 'n skouspelagtige landskap spog, in die noord-weste van die Alpe-bergreeks. Die dorp word deur 'n aantal hoë berge omring, waaronder die Mont Blanc met sy voorpos Aiguille du Midi in die suide en die bergmassief van die Aiguilles Rouges in die noorde. Van hier vloei die Bossons-gletser (Frans: Glacier des Bossons) in die rigting van Chamonix. Die Arverivier verenig in die Chamonixvallei met die bergstroompie l'Arveyron, wat sy oorsprong in die gletser Mer de Glace het.
Die Chamonixvallei beslaan 'n oppervlak van 24 546 hektaar en strek oor 'n lengte van meer as 17 kilometer van die Col des Montets tot by die bergstroom Taconnaz. Die sentrum van Chamonix lê teen 'n hoogte van 1 035 meter bo seevlak.
'n Aantal kleiner dorpe maak deel uit van die Chamonix-munisipaliteit, soos byvoorbeeld les Bossons, les Praz de Chamonix, les Tines, le Lavancher en Argentière met sy bekende skigebied Les Grands Montets, wat veral jonger skisportgeesdriftiges lok, asook Le Tour in die uiterste noorde van die vallei. Die bergpas Col des Montets met 'n hoogte van 1 461 meter lê eweneens in die noorde van die Chamonixvallei en verbind die gebied in noord-oostelike rigting met Switserland. Die Mont Blanc-tonnel verbind Chamonix met Italië. Die Switserse en Italiaanse grens is elkeen sowat 15 kilometer van Chamonix af, en die grense van Frankryk, Switserland en Italië loop op die bergspits van die Mont Dolent (teen 'n hoogte van 3 820 meter) saam.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die geskiedenis van die Chamonixvallei begin nie só ver terug in die verlede soos dié van baie ander Franse gebiede nie. Die vallei was gedurende die Ystydperk met ys bedek, en eers in die antieke tydperk begin volke soos die Liguriërs, Ceutrone, Allobrogers en Kelte hulle in die vallei vestig. Ná die einde van die Romeinse heerskappy het die plaaslike bevolking die landbougrond met die Germaans-Boergondiese invallers gedeel.
In 1032 het Chamonix, wat nou verbonde was aan die stad Genève, 'n deel van die Koninkryk van Boergondië geword. Die dorp se geskiedenis begin eers in 1091, toe graaf Aimon de Genève die Chamonixvallei met sy 31 gehugte aan die Piëmontese Benediktyne-klooster van St. Michel de la Cluse naby Turyn geskenk het.
In die 12de eeu het die monnike hulle in Chamonix gevestig en die priory op die perseel van die huidige Maison de la Montagne gestig. Nog in dieselfde eeu is die eerste kerk gebou. Die vroegste munisipale wetgewing (franchise) dateer van 1292. Die monnike het die Chamonixvallei eeue lank geadministreer, alhoewel die Chamoniards se onafhanklikheidsstrewe dit baie moeilik gemaak en tot 'n aantal rebellies gelei het. As gevolg van 'n langdurige koueperiode ('n sogenaamde klein ystydperk) is enkele gehugte in die gebied in die 17de en 18de eeu deur hul bewoners ontruim.
Op 21 Junie 1741 het die Britte Windham en Pocock, wat as die eerste moderne reisigers beskou word, Chamonix as 'n reisbestemming ontdek. Die Chamonixvallei was toe nog 'n baie afgeleë gebied wat veral op landbou gesteun het. Handel is hoofsaaklik met aangrensende gebiede gedryf; so is onder meer wyn na Wallis (Valais) in Switserland uitgevoer. Die Britte se geesdriftige berig oor hulle besoek aan die gletser Mer de Glace is in Londen gepubliseer en het vervolgens in 'n aantal literêre tydskrifte in Europa verskyn. Die reisjoernaal het toere na die Alpegletsers gou gewild gemaak.
Desondanks het die ruwe bergwêreld nog steeds baie gevare ingehou. Die gletsers het destyds nog tot by die laer geleë gebiede gestrek en 'n gedeelte van die landbougrond bedek, terwyl die onberekenbare berge weens die lawines en rottstortings 'n konstante bedreiging vir die bewoners van die vallei was. Slegs 'n klein aantal jagters en versamelaars van kristalle het die bergwêreld aangedurf.
Die belangstelling van die geleerdes en navorsers van die 18de en 19de eeu het 'n nuwe tydperk vir die vallei ingelui. In 1760 het die Geneefse natuurkundige Horace-Bénédict de Saussure 'n reis na Chamonix onderneem en die Brévent beklim, van waar hy ook die Mont Blanc ontdek het. Hierdie ontdekking het hom nog meer aangespoor om meer oor daardie bergspits te wete te kom, waarop tot dusver nog deur geen mens betree is nie. De Saussure het 'n groot beloning aan die eerste mens uitgeloof wat vir hom 'n pad na die Mont Blanc-bergspits sou wys. Hy was veral van voorneme om bo-op die berg 'n aantal natuurwetenskaplike eksperimente uit te voer.
Op 8 Augustus 1786 het Jacques Balmat en Michel-Gabriel Paccard die "dak van Europa", soos die Mont Blanc dikwels genoem word, vir die eerste keer beklim en sodoende die moderne alpinisme "uitgevind". Ook de Saussure was ná hierdie eerste bestyging daarin geslaag om die Mont Blanc te beklim. In dieselfde jaar het die Chamoniards van die priory onafhanklik geword.
Ná die eerste bestygings deur Balmat, Piccard en de Saussure het talryke wetenskaplikes die bergpieke in die omgewing aangedurf, en in hulle voetspore het baie bekende persoonlikhede gevolg – waaronder skrywers en digters soos Ruskin, George Sand, Victor Hugo en Duhamel; skilders soos Loppé, Linck en Bouillette; Engelse avonturiers soos Whymper, Moor, Mummery en Isabella Straton; adellikes soos Henriette d'Angeville, die Belgiese koning Albert I, die Franse keiser Napoléon en sy eggenote en President Fallières. Almal het daartoe bygedra om Chamonix en die Mont Blanc aan 'n groter publiek bekend te stel.
Die bergbewoners het 'n nuwe inkomste as berggidse gevind en hulle in 1821 in die Compagnies des Guides saamgesluit. In 1860 is Savoie by Frankryk ingelyf, en keiser Napoléon III het 'n amptelike besoek aan sy nuwe provinsie afgelê. In 1870 is die eerste rypad na Chamonix geopen, tussen 1901 en 1908 het 'n sweefspoor ontstaan, en vervolgens is die eerste skilifte opgerig. In Januarie 1924 het Chamonix as die gasheerstad van die eerste Olimpiese Winterspele opgetree. Die wintersport het sodoende 'n ongekende promosie gekry.
Chamonix het vervolgens tot een van die wêreldsentrums van alpinisme en wintersport ontwikkel. Sedert 1965 word Chamonix deur die Mont Blanc-tonnel met omliggende gebiede verbind. 'n Skiroete (die Haute Route) loop tot in die Walliese Alpe in Switserland.
Besienswaardighede
[wysig | wysig bron]Die Montenverstrein is 'n tandrattreinspoor, wat sedert 1909 Chamonix met die Hôtel de Montenvers-stasie (1 913 meter bo seevlak) naby die Mer de Glace-gletser verbind. Die eindstasie spog met 'n hotel, 'n panorama-restourant, 'n galery van Alpekristalle en 'n museum wat die Alpefauna behandel.
Die spoorweglyn het 'n spoorwydte van 1 meter en loop oor 'n lengte van 5,1 kilometer. Dit maak gebruik van die Strub-draaistel om 'n hoogteverskil van 871 meter te bowe te kom. Die treinspoor is in 1953 geëlektrifiseer en beskik oor ses elektriese treinwaens en drie diesellokomotiewe. Die treine ry teen 'n spoed van tussen 14 en 20 kilometer per uur en die rit duur sowat 20 minute. Die spoorweg word deur die Compagnie du Mont-Blanc beheer, net soos die Mont Blanc-tremspoor en baie skihysers in die Mont Blanc-gebied.
Die Mont Blanc-tonnel is 'n padtonnel naby die Mont Blanc, wat in die tydperk tussen 1957 en 1965 gebou is. Die tonnel met 'n wydte van 8,6 meter en 'n lengte van 11,6 kilometer loop onder die berg tussen Chamonix en die Italiaanse dorp Courmayeur in die Aostavallei. Dit is een van die belangrikste transalpynse roetes, veral vir Italië wat sowat 'n derde van sy goedere, wat vir Noord-Europa bestem is, deur hierdie tonnel vervoer.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Chamonix-Mont-Blanc. |
- (en) Toerisme-inligting oor Chamonix-Mont-Blanc op Wikivoyage
- (fr) Die amptelike webwerf van Chamonix