Clemens Brentano
Clemens Brentano | |
---|---|
Portret deur Emilie Linder, geskilder in 1835; gedruk in Meyer's Encyclopedia, 1906 | |
Gebore | Ehrenbreitstein naby Koblenz (vandag in Koblenz), Keurvorstedom Trier, Heilige Romeinse Ryk | 9 September 1778
Sterf | 28 Julie 1842 (op 63) Aschaffenburg, Duitsland |
Nasionaliteit | Duits |
Alma mater | Universiteit van Halle |
Beroep | Digter, skrywer |
Clemens Wenzeslaus Brentano (ook Klemens; skuilnaam: Clemens Maria Brentano; Duitse fonetiese uitspraak: bʁɛnˈtaːno; 9 September 1778 – 28 Julie 1842) was 'n Duitse digter en romansier. Hy is een van die belangrikste verteenwoordigers van die Duitse Romantiek. Hy was die oom, via sy broer Christian, van Franz en Lujo Brentano.
Biografie
[wysig | wysig bron]Clemens Brentano is gebore op 9 September 1778 in Frankfurt. Hy was die seun van Peter Anton en Maximiliane Brentano,[1] 'n welgestelde handelsgesin.[2] Sy vader se familie was van Italiaanse afkoms. Sy grootmoeder aan moederskant was Sophie von La Roche. Sy suster was die skryfster Bettina von Arnim, wat op 'n jeugdige ouderdom met Goethe gekorrespondeer het, en in 1835 die korrespondensie gepubliseer het as Goethes Briefwechsel mit einem Kinde (Goethe se Briefwisseling met 'n Kind). Brentano het in Halle en Jena gestudeer, en was daarna woonagtig te Heidelberg, Wene en Berlyn. Hy was bevriend met Wieland, Herder, Goethe, Friedrich Schlegel, Fichte en Tieck.[3]
Brentano het van 1798 tot 1800 het in Jena gewoon, die aanvanklike sentrum van die romantiese beweging. In 1801 verhuis hy na Göttingen, en word 'n vriend van Achim von Arnim. Hy trou op 29 Oktober 1803 met die skryfster Sophie Mereau. In 1804 verhuis hy na Heidelberg en werk saam met Arnim aan Zeitungen für Einsiedler en Die Knaap se Wonderhoring. Nadat sy vrou Sophie in 1806 gesterf het, trou hy 'n tweede keer in 1807 met Auguste Bussmann (wie se halfsuster, Marie de Flavigny, later die Gravin Marie d'Agoult, die metgesellin van die pianis en komponis Franz Liszt sou word). In die jare tussen 1808 en 1818 het Brentano meestal in Berlyn,[3] gewoon en van 1819 tot 1824 in Dülmen, Wesfale.
In 1818, moeg van sy ietwat rustelose lewe, keer hy terug na die beoefening van die Katolieke geloof en onttrek hom na die klooster van Dülmen, waar hy vir 'n paar jaar in streng afsondering gewoon het.[4] Hy het daar die pos van sekretaris van die Katolieke visioenêre non, die Geseënde Anne Catherine Emmerich, aanvaar.[3]
Daar is beweer dat sy van 1802 tot haar dood die wonde van die Doringkroon gedra het, en vanaf 1812 die volle stigmata, 'n kruis oor haar hart en die wond van die lans. Brentano het haar in 1818 ontmoet, en aan die voet van haar bed gebly en haar diktaat neergeskryf tot 1824. Toe sy tot sterwe kom, het hy 'n indeks van die visioene en openbarings uit haar joernaal, Das bittere Leiden unsers Herrn Jesu Christi, opgestel (gepubliseer in 1833). Een van hierdie visioene wat deur Brentano bekend gemaak is, het later gelei tot die identifikasie van die vermeende "Huis van die Maagd Maria" in Efesus deur Abbé Julien Gouyet, 'n Franse priester, gedurende 1881. Sommige nadoodse ondersoeke in 1923 en 1928 het egter twyfel laat bestaan oor hoeveel van die boeke wat hy aan Emmerich toegeskryf het, in werklikheid haar skeppings was, en die werke is dus geïgnoreer wat betref haar saligmakings-proses.[5][6]
Die laaste deel van sy lewe het hy in Regensburg, Frankfurt en München deurgebring. Hy was aktief betrokke by die bevordering van die Katolieke geloof. Brentano het Ludwig Achim von Arnim, sy swaer, bygestaan met die bundeling van die versameling volksliedjies wat as Die Knaap se Wonderhoring (1805–1808) sou bekendstaan,[4] en wat Gustav Mahler getoonset het vir sy liederesiklus. In 1835 het die Switserse skilder Emilie Linder sy beroemde portret geskilder.[7] Hy het in Aschaffenburg gesterf.
Brentano, wie se vroeë skryfwerk onder die skuilnaam Maria gepubliseer is, het aan die Heidelbergse groep Duitse romantiese skrywers behoort, en sy werke word gekenmerk deur 'n oormaat fantastiese beelde en deur abrupte, bisarre uitdrukkingswyses. Sy eerste gepubliseerde werk was Satiren und poetische Spiele (Leipzig, 1800), 'n roman getiteld Godwi oder Das steinerne Bild der Mutter (2 volumes, Frankfort, 1801), en 'n musiekdrama getiteld Die lustigen Musikanten (Frankfort, 1803). Van sy dramas is die beste Ponce de Leon (1804), Victoria und ihre Geschwister (Berlyn, 1817) en Die Grundung Prags (Pesth, 1815).[4]
In die geheel gesien, is sy beste werk die versameling Romanzen vom Rosenkranz (postuum gepubliseer in 1852) en sy kortverhale. Veral die bekoorlike Geschichte vom braven Kasperl und dem schönen Annerl (1817) was baie gewild.[4]
Brentano se versamelde werke, geredigeer deur sy broer Christian, het in Frankfurt in 9 volumes verskyn. (1851–1855). Keure uit sy werk is geredigeer deur J. B. Diel (1873), M. Koch (1892) en J. Dohmke (1893). Sien J. B. Diel en William Kreiten, Klemens Brentano (2 vols, 1877–1878), die inleiding tot Koch se uitgawe, en R. Steig, A. von Arnim und K. Brentano (1894).[4]
'n Duitse letterkunde-prys, die Clemens-Brentano-Preis, is na hom vernoem.
Musikale toonsettings en kulturele verwysings
[wysig | wysig bron]Richard Strauss het in 1918 ses van sy gedigte getoonset (Sechs Lieder, Op. 68. Dit staan ook bekend as die Brentano Lieder).
Brentano se werk word aangehaal in Thomas Mann se roman, Doctor Faustus. 'n Liederesiklus van dertien liedere, wat gebaseer is op Brentano se gedigte, word genoem in Hoofstuk XXI as een van die komponis-protagonis se mees gewigtige werke.
Gedigte
[wysig | wysig bron]- Eingang
- Frühlingsschrei eines Knechtes
- Abendständchen
- Lore Lay
- Auf dem Rhein
- Wiegenlied
- An Sophie Mereau
- Ich wollt ein Sträusslein binden
- Der Spinnerin Lied
- Aus einem kranken Herzen
- Hast du nicht mein Glück gesehen?
- Frühes Lied
- Schwanenlied
- Nachklänge Beethovenscher Musik
- Romanzen vom Rosenkranz
- Einsam will ich untergehn
- Hörst du wie die Brunnen rauschen
- Rückblick
Godsdienstige werke
[wysig | wysig bron]- Die Barmherzigen Schwestern in Bezug auf Armen- und Krankenpflege (Sorg van die Hulpbehoewendes en Siekes deur die Barmhartige Susters) (1831) (Nuwe uitgawe, geredigeer deur Renate Moering)
- Lehrjahre Jesu (Die Leerjare van Jesus) (1822) Deel I en II (Geredigeer deur Jürg Mathes); 1983 uitgawe deur W. Kohlhammer, Berlyn – ISBN 3-17-008658-8
- Das bittere Leiden unsers Herrn Jesu Christi[8] (Die Bittere Lyding van Ons Heer Jesus Christus)[9] (1858-1860 in 'n verwerkte uitgawe deur Karl Erhard Schmoeger; eerste outentieke uitgawe 1983, nuwe uitgawe deur Bernhard Gajek en Irmengard Schmidbauer) ISBN 3-17-012652-0, ISBN 3-17-004917-8
- Das Leben der heil. Jungfrau Maria (Die Lewe van die Heilige Maagd Maria) (1852, postuum) ISBN 3-557-91005-9, ISBN 978-3-557-91005-3, ISBN 3-7171-0961-8, ISBN 978-3-7171-0961-7
- Biographie der Anna Katharina Emmerick (Biografie van Anna Katharina Emmerich) (onvoltooid, 1867–1870 in Schmoeger se uitgawe; eerste outentieke uitgawe 1981)
- Tagebuchaufzeichnungen: Geheimnisse des Alten und des Neuen Bundes: Aus den Tagebüchern des Clemens Brentano (Notas uit 'n Dagboek: Geheimenisse van die Ou- en Nuwe Testament: Uit die Dagboek van Clemens Brentano) ISBN 3-7171-0962-6, ISBN 978-3-7171-0962-4
Feëverhale
[wysig | wysig bron]- Die Mährchen vom Rhein
- Italienische Märchen
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ John F. Fetzer, Clemens Brentano, Twayne Publishers, 1981, p. 11.
- ↑ Crawford, Heidi. "Clemens Bretano", Encyclopedia of the Romantic Era, 1760-1850, Christopher John Murray (ed.), p. 109, Routledge, 2013 ISBN 9781135455798
- ↑ 3,0 3,1 3,2 "CATHOLIC ENCYCLOPEDIA: Klemens Maria Brentano". newadvent.org.
- ↑ 4,0 4,1 4,2 4,3 4,4 Chisholm 1911.
- ↑ Father John O' Malley (15 Maart 2004). "A Movie, a Mystic, a Spiritual Tradition". America. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Oktober 2011.
- ↑ Emmerich, Anne Catherine, and Clemens Brentano. The Dolorous Passion of Our Lord Jesus Christ. Anvil Publishers, Georgia, 2005 pages 49-56 (Nota: die hardekopie van die boek het 'n foutiewe ISBN-nommer, maar die teks (en die foutiewe ISBN-nommer) word getoon op Google boeke as die publikasie van Anvil Press)
- ↑ Conzemius, Victor (27 November 2008). "Linder, Emilie". Historisches Lexikon der Schweiz (in Duits). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Julie 2019. Besoek op 2 April 2021.
- ↑ Emmerich, Anna Katharina (1852). Das bittere Leiden unsers Herrn Jesu Christi.
- ↑ Emmerich, Anna Katharina (1862). "Die Bittere Lyding van Ons Heer Jesus Christus". google.com.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Phillips, H. A., "Brentano, Clemens Maria" Cassell's Encyclopedia of World Literature New York: Funk & Wagnalls, 1953.
Nog leesstof
[wysig | wysig bron]- Blamires, David. "15. Clemens Brentano’s Fairytales". In: Telling Tales: The Impact of Germany on English Children’s Books 1780-1918. Cambridge: Open Book Publishers, 2009. pp. 263–274. ISBN 9781906924119. Web généré le 23 septembre 2021: <http://books.openedition.org/obp/614>.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Clemens Brentano. |
- Werke deur Clemens Brentano by Project Gutenberg
- Werke deur of oor Clemens Brentano op die Internet Archive
- Brentano, Clemens (1852). Geistliche Lieder. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.
- Brentano, Clemens (1852). Weltliche Gedichte. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.
- Brentano, Clemens (1852). Romanzen vom Rosenkranz. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.
- Brentano, Clemens (1852). Kleine Schriften. 1. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.
- Brentano, Clemens (1852). Kleine Schriften. 2. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.
- Brentano, Clemens (1855). Gesammelte Briefe von 1795 bis 1842. 1. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.
- Brentano, Clemens (1855). Gesammelte Briefe von 1795 bis 1842. 2. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.
- Brentano, Clemens (1852). Die Gründung Prags. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.
- Brentano, Clemens (1852). Comödien. Frankfurt am Main: J. D. Sauerlander.