Olimpia
Argeologiese terrein van Olimpia* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Die tempel van Zeus in Olimpia | |
Posisie van Olimpia in Griekeland | |
Koördinate: 37°38′17″N 21°37′50″O / 37.63806°N 21.63056°O | |
Lande | Griekeland |
Tipe | Kultureel |
Kriteria | i, ii, iii, iv, vi |
Verwysings | 517 |
Streek† | Europa |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 1989 (13de Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Olimpia (Grieks: Ολυμπία, Olympí'a of Ολύμπια, Olýmpia) was 'n heiligdom in die antieke Griekeland wat in die vrugbare Alpheosriviervallei, sowat twintig kilometer van die weskus van die skiereiland Peloponnes in die Olimpiese vlakte van die klein antieke stadstaat Elis, geleë is. Hier het die meeste religieuse seremonies van Griekeland plaasgevind, waaronder die vierjaarlikse Olimpiese Spele wat naas die Pithiese, Ismiese en Nemeïese Spele een van vier belangrike nasionale feeste van die Griekse stadstate was en deur Elis georganiseer is. Die argeologiese terrein van Olimpia is in 1989 deur UNESCO as wêrelderfenisgebied gelys.
Die Olimpiese Spele was oorspronklik 'n suiwer religieuse fees ter ere van die Griekse godheid Zeus wat moontlik reeds voor 776 v.C. elke Olimpiade, dit wil sê elke vier jaar, hier gehou is. Afgevaardigdes, atlete en toeskouers uit alle Griekse stadstate het vir die spele in Olimpia byeengekom.
Die antieke sportfees was met sy strydwa- en perderen, wedlope, verspring, stoeiwedstryd en boksgevegte die voorloper van die huidige Olimpiese Spele, en daar was uitklopwedstryde vir mans en seuns. Die antieke Spele is in 394 n.C. deur die Romeinse keiser Theodosius I vanweë hulle heidense oorsprong afgeskaf.
Die antieke heiligdom
[wysig | wysig bron]Die antieke heiligdom, wat as Altis of Heilige Bos bekend gestaan het, het uit 'n groep geboue bestaan wat almal vir religieuse of sportdoeleindes opgerig is. Die sentrale heilige gebied, wat slegs vir mans toeganklik was, het die Zeus en Heratempels (Grieks: Heraion, Latyns: Heraeum), die Pelopion (of beweerde graf van Pelops) en die altaargebied, waar offers aan die gode gebring is, behels. Die stadion vir strydwawedstryde of hippodroom en latere sportstadion was oos van die hooftempels geleë.
Die geboue noord van die heiligdom sluit die Prytaneion en Philippeion in, asook 'n aantal skatkamers waar die verskillende Griekse stadstate hul gewyde offergawes neergesit het. Die Eggohal was oos van die heiligdom geleë. Die Suidelike Stoa en Bouleuterion het in die suide ontstaan, terwyl die Palaestra van Olimpia, die werkswinkel van Phidias, die Gimnasium (Grieks: Gymnasion) en die Leonidaion aan die westelike kant geleë was.
Talle standbeelde ter ere van suksesvolle atlete is dwarsoor die heilige gebied opgerig, tog was die reusagtige standbeeld ter ere van Zeus, wat van ivoor en goud gemaak was en deur Antipater van Sidon as een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld beskryf is, die bekendste van alle monumente.
Plattegrond van die heiligdom van Olimpia
[wysig | wysig bron]Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Olympia. |