Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                
Gaan na inhoud

Oslo

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Oslo
Oslove

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Noorweë Noorweë
 Provinsie (Fylke) Oslo
 Koördinate 59°55′N 10°44′O / 59.917°N 10.733°O / 59.917; 10.733
 Stigting Omtrent 1000
 Oppervlakte:  
 - Totaal 480 vk km
 Hoogte bo seevlak 1–631 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2022) 709 037[1]
 - Bevolkingsdigtheid 1 477/vk km
 - Metropolitaanse gebied
(Stor-Osloregionen)
1 588 457
 - Taalvorm Onsydig
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 7,0 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie –2,3 / 17,6 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 824,3 mm
 Burgemeester Anne Lindboe (H)
 Amptelike webwerf oslo.kommune.no

Oslo (Noors: [ˈʊ̂ʂlʊ ], of [ˈʊ̂slʊ, ˈʊ̀ʂlʊ]; Suid-Samies: Oslove) is die hoofstad van die Koninkryk Noorweë (Skandinawië, Noord-Europa) met 'n oppervlakte van 480 vierkante kilometer en 'n bevolking van 709 037 (soos op 31 Desember 2022). Oslo is die politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van Noorweë en sy grootste stad. Byna 'n derde van die Noorse bevolking is in die metropolitaanse gebied van Oslo gekonsentreer, dit sluit voorstede soos Bærum en Drammen in. Die agglomerasie van Oslo – die derde grootste in Noord-EuropaStockholm en Kopenhagen – het 1,6 miljoen inwoners.

'n Aansig van die Barcode-woonstelkompleks in Sørenga teen sononder. Met die herontwikkeling van sy ou hawegeriewe volgens die Fjordbyen-projek, wat in 2016 voltooi is, het Oslo nuwe lewe in sy middestad ingeblaas en sy visie van 'n moderne Fjordstad verwesenlik

Die stad, wat deur bosgebiede en fjorde omring word, vorm 'n selfstandige fylke (provinsie) wat aan Akershus grens, en het uit 'n ou nedersetting ontstaan waarna daar reeds in 8ste eeuse historiese dokumente verwys is. Daarbenewens vorm dit ook 'n stedelike munisipaliteit (kommune). Vanweë die opgrawing van Christelike begraafplase uit die tydperk omtrent 1000 word hierdie periode as die stigtingsdatum van Oslo beskou, en die metropool het gevolglik in 2000 sy 1000ste verjaardag gevier. Oslo is sodoende een van die oudste Skandinawiese hoofstede.

Nadat groot dele van die stad in 1624 in 'n brand vernietig is, het die Deense koning Christiaan IV die stad met steengeboue laat herbou en dit Christiania genoem. In 1878 is die stadsnaam se spelling gewysig tot Kristiania. Die burgers van Kristiania het in 1925 besluit om weer die tradisionele Noorse naam vir hul stad te gebruik.

Alhoewel die stad op dieselfde breedtegraad soos die Finse hoofstad Helsinki, Sint Petersburg in Rusland of die Alaskaanse metropool Anchorage lê, het Oslo danksy die matige invloed van die warm Golfstroom 'n gematigde seeklimaat met dikwels warm somers en baie sonskyndae. Die hoofstadgebied is nogtans gedurende die Skandinawiese winter tussen drie en vyf maande lank met sneeu bedek, en die ski-oorde in die bergagtige omgewing van Oslo lok tussen Desember en April talle skitoeriste.

Vanweë die ekonomiese welvaart van die land en die behoefte aan bykomende opgeleide mannekrag het Oslo, soos ander groot stede in die land, talle immigrante gelok wat van Oslo vandag 'n baie kosmopolitaanse stad maak. Volgens jaarlikse ondersoeke van die Londense navorsingsinstelling Economist Intelligence Unit, wat die prysvlak van goedere en dienste in belangrike metropole ranglys, is Oslo sedert 2006 egter ook die duurste hoofstad ter wêreld.[2] Oslo staan daarnaas internasionaal bekend as die moederstad van die Nobelprys vir Vrede.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Nadat die ou stad in 1624 deur 'n brand vernietig is, is onder die bewind van koning Christiaan IV 'n nuwe stad nader aan die Akershus-vestig gestig en na die koning "Christiania" genoem. Die ou plek oorkant die Aker-rivier is egter nie verlaat nie en die dorp Oslo het 'n voorstad buite die stadsmure gebly. Die voorstad met die naam Oslo is uiteindelik by die stad ingelyf. In 1925 is die naam van die voorstad na die hele stad oorgedra, terwyl die voorstad hernoem is in Gamlebyen, "die ou stad", om verwarring te voorkom.[3][4][5] Deesdae is die ou stad 'n gebied binne die administratiewe distrik Gamle Oslo ("Ou Oslo"). Die vorige name weerkaats in straatname soos Oslo gate ("Oslo-straat)[6] en Oslo hospital.[7]

Oor die oorsprong van die naam Oslo is al dikwels gedebatteer. Dit is byna seker afkomstig van Oudnoors en is — heel waarskynlik — oorspronklik die naam van 'n groot plaas by Bjørvika, terwyl die betekenis van dié naam omstrede is. Oor die algemeen interpreteer huidige taalkundiges die oorspronklike Óslo, Áslo of Ánslo as óf "weiveld aan die voet van 'n heuwel" óf "weide toegewy aan die Gode" en albei word as ewe waarskynlik geag.[8]

Daar is eens verkeerdelik aangeneem dat Oslo beteken "die monding van die Lo-rivier", 'n n vermeende vorige naam van die Alna-rivier. Nie net is daar geen bewyse gevind vir 'n rivier "Lo" voor die werk van Peder Claussøn Friis wie die eerste keer hierdie etimologie voorgestel het nie, maar die naam is ook ongrammatikaal in Noors: die korrekte vorm sou Loaros gewees het.[9] Daar word nou geglo dat die naam Lo 'n terugvorming is deur Friis ter ondersteuning van sy idee oor die etimologie van Oslo.[10]

Oslo het verskeie byname en name in ander tale. Soms word die stad "die tierstad" (Tigerstaden) genoem, moontlik geïnspireer van 'n 1870-gedig deur Bjørnstjerne Bjørnson wat na die destydse Christiania in Sentraal-Oslo verwys. Dié bynaam word veral deur Noorse van buite die stad gebruik en min deur mense uit die Oslo-streek.[11]

Geografie

[wysig | wysig bron]
Die bergpiek Holmenkollen met sy bekende gelyknamige skispring-skans staan internasionaal bekend vir die skispringkampioenskappe wat jaarliks hier beslis word

Oslo se boogvormige stadsgebied is teen die noordelike kant van die Oslofjord geleë. Danksy die stad se strategiese ligging tussen die see, uitgestrekte gebiede in die noorde en paaie wat vanuit die suide oor die Ekeberg-bergpiek na die stad loop, vorm Oslo sedert sy stigting 'n natuurlike knooppunt in die klein Oslogryta keteldal. Die stadsentrum, wat gekenmerk word deur uiterstes, soos baie warm somers en bitter koue winters, word omring deur bergrûens en mere. Die Oslofjord is, soos die mere van die omgewing, 'n gewilde ontspanningsgebied vir stadbewoners.

Die Nordmarka landskap in die noorde word deur bos- en watergebiede gekenmerk. Mere soos Bogstadvannet, Sognsvann en Maridalsvannet, die grootste met 'n oppervlakte van 3,91 vierkante kilometer in die Maridalen vallei, staan almal bekend vir hul natuurskoon. Daar is altesaam 343 mere in die metropolitaanse gebied en is 'n belangrike bron van drinkwater in die omgewing.

Oslo Golfklubb is aan die suidelike oewer van die Bogstadvannetmeer geleë. Dit is die eerste Noorse gholfklub wat in 1924 gestig is.

Die Nesodden-skiereiland, wat teenoor Oslo lê, strek ver uit in die Oslofjord. Malmøya is met 'n oppervlakte van 0,56 vierkante kilometer die grootste van die sowat veertig eilande in die metroplotaanse area van Oslo, terwyl daar baie ander eilande in die Oslofjord buite die gebied lê. Kirkeberget, 629 m bo seevlak, is die hoogste bergpiek in die omgewing.

Alhoewel Oslo, met 'n bevolking van sowat 'n halfmiljoen, een van die kleiner Europese hoofstede is, strek sy metroplitaanse gebied nogtans oor 'n oppervlakte van sowat 450 vierkante kilometer. Twee derdes hiervan is beskermde natuurgebiede met bosse, berge en mere. Ook in die sentrale stadsgebied is daar talle parke en ander rustige groen terreine wat altesaam 68 persent van die totale oppervlakte beslaan. Dit maak van Oslo die groenste metropool ter wêreld.[12] Veral gedurende die winter kan daar selfs wilde elande in die groen dele van die stadsgebied aangetref word.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Satellietbeeld van Oslo in 2018
Ysskaatsers op die bevrore Bogstadvannet, met die plaas Bogstad Gård in die agtergrond

Danksy die Golfstroom, wat warm lugmassa's vanuit die Golf van Mexiko na die Atlantiese Oseaan voer, het Oslo, ondanks sy noordelike ligging, 'n relatief gematigde klimaat. Die somers word deur warm en aangename sonnige weer, met 'n gemiddelde temperatuur tussen 15 en 16 °C, gekenmerk. Die gemiddelde maksimum temperature in Junie en Julie is 20 tot 22 °C, maar uiterstes kan soms meer as 30 °C beloop. Oslo maak nie deel uit van die landsdele waar die middernagson tydens die somernagte skyn nie, maar die nagte is nogtans relatief helder.

Die winters in Oslo is daarenteen lank, donker en relatief koud. Die stad lê vir maande in 'n vaal skemerlig. Tussen September en Mei kan die kwik benede vriespunt daal, alhoewel temperature as gevolg van globale verwarming teen die begin van die 21ste eeu ook tydens winter dikwels hoër kan wees.

Januarie en Februarie is die koudste maande met gemiddelde minimum temperature van sowat -7 °C. Die laagste temperatuur wat ooit in Oslo aangeteken is was -27,9 °C in Februarie 1871.

Sneeuvalle kom dwarsdeur die wintermaande voor; op sowat dertig dae van die jaar val gemiddeld meer as 25 sentimeter sneeu. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 763 millimeter. Die somers is ietwat natter is as die winters.

Weergegewens vir Oslo
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Hoogste maksimum (°C) 10,4 13,7 21,5 25,4 31,1 31,9 34,6 31,5 26,4 19,1 16,1 12,6 34,6
Gemiddelde maksimum (°C) 6,4 7,7 13,1 18,6 24,6 26,9 28,5 26,7 21,9 15,6 10,6 7,3 29,6
Gemiddelde temperatuur (°C) –2,3 –1,9 1,3 6,2 11,4 15,3 17,6 16,4 12,1 6,5 2,1 –1,4 7,0
Gemiddelde minimum (°C) −13,8 −13,4 –9,3 –3,5 0,7 6,0 9,0 7,2 2,5 –2,6 –6,7 –12,3 –16,1
Laagste minimum (°C) −20,5 −20,7 −16,9 −7,3 −1,8 3,0 6,5 4,2 −1,0 −8,0 −12,1 −19,7 −20,7
Neerslag (mm) 57,1 44,9 40,2 47,2 59,0 78,7 85,9 101,8 81,5 91,7 83,1 53,2 824,3
Bron: Temperatuur, neerslag – Wêreldmeteorologiese Organisasie (1970–2000),[13] Uiterste temperature[14]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Die Akershus-vesting
Die koningspaleis het tussen 1824 en 1848 ontstaan

Die eerste klein stedelike nedersetting het omtrent die jaar 1000 aan die voet van die Ekeberg-bergreeks langs die oosoewer van die Bjørvika-inham ontstaan. Die Yslandse geleerde Snorri Sturluson beweer in sy Heimskringla, 'n werk oor die geskiedenis van die Noorse konings, dat Oslo in 1048 deur koning Harald III gestig sou wees. Tydens argeologiese opgrawings in die stadsgebied is egter Christelike grafte uit die periode omstreeks 1000 ontdek sodat Oslo se millenniumfees in 2000 gevier is.

Omstreeks 1300 het Oslo se bevolking sowat 3 000 mense beloop en as die regeringsetel van koning Håkon V (1299–1319) gedien wat ook die vesting Akershus laat oprig het. Die stad het in die Hoë Middeleeue tot 'n beduidende handelsentrum ontwikkel. Oslo se Sint Hallvard-katedraal het reeds in die 12de eeu ontstaan. Hertog Erik av Södermanland het die stad in 1308 beleër, geplunder en aan die brand gesteek. Die vesting Akershus, wat destyds nog nie voltooi was nie, het bewaar gebly.

Die Middeleeuse Oslo het oor twee kastele, die koningshof en die biskoplike kasteel, nege kerke (waaronder die katedraal) en 'n hospitaal beskik. Die sowat 400 houthuise was in die besit van koopmans en ambagsmanne.

Die Renaissance-tydperk

[wysig | wysig bron]
Oslo se domkerk dateer van 1697

Die stad is verskeie kere deur brande verwoes, onder meer tydens die Sweedse beleg in 1537.

Vanaf 1536 het Noorweë en Denemarke 'n unie gevorm. Nadat Oslo in 1624 deur 'n grootskaalse brand vernietig is, het die Deense koning Christian IV die besluit geneem om die stad onderaan die Akershus-vesting te laat herbou so dat dit as 'n versterking kon dien. Die koning het die nuwe stad na homself Christiania genoem.

Christian se Renaissancestad met sy breë strate en vakwerk- en steenhuise het tussen die vesting, die katedraal en die huidige strate Øvre Vollgate en Skippergata ontstaan en word vanweë sy reghoekige plattegrond en straatrooster tans Kvadraturen genoem. Arm en landlose bewoners het hulle nogtans weer in die gebied van die ou stadskern (Noors: Gamlebyen) buite die stadsmuur van Christiania gevestig, veral omdat hulle 'n lewe in die nuwe stad nie kon bekostig nie.

Ná die Reformasie het Oslo se Olavs-klooster en talle kerke verval en dikwels ná brande as "steengroef" vir die oprigting van nuwe geboue gedien.

Hoofstad van Noorweë

[wysig | wysig bron]
Die Raadsaal van Oslo
Die Barcode-gebouekompleks en die Nuwe Nasionale Operahuis, soos gesien vanuit Ekeberg

Die Universiteit van Oslo, wat in 1811 volgens die voorbeeld van die Berlynse Humboldt-universiteit gestig is, is tans die grootste in die land met sowat 30 000 studente.

As gevolg van die Napoleontiese Oorloë en sy politieke bande met Frankryk moes Denemarke Noorweë in 1814 aan die Sweedse koning Karl Johan afstaan. Christiania het in dieselfde jaar die amptelike status van hoofstad van Noorweë gekry, en op 17 Mei is Noorweë se nuwe grondwet afgekondig. Koning Karl Johan het in 1825 met die bou van die Koninklike Paleis begin wat in 1848 onder die heerskappy van koning Oskar I voltooi is. Die parlementsgebou in Karl Johans gate is in 1866 ingewy.

Die nywerheidsomwenteling in Oslo het omstreeks 1850 langs die Akerselvarivier 'n aanvang geneem. Die bevolking het in die volgende vyftig jaar veral danksy die binnelandse migrasie van 30 000 tot 230 000 gestyg. Die spelling van Christiania is in 1877 onder die heerskappy van die Sweeds-Noorse koning Oskar II amptelik gewysig tot Kristiania. Eers twintig jaar ná Noorweë se onafhanklikwording is op 1 Januarie 1925 'n parlementêre dekreet uitgevaardig waarvolgens die ou tradisionele Noorse naam Oslo weer amptelik ingevoer is.

In 1948 het Oslo met die munisipaliteit Aker saamgesmelt. Oslo se oppervlakte is sodoende vergroot tot 452 vierkante kilometer, terwyl sy bevolking met sowat 135 000 gestyg het. Die nuwe Raadsaal van Oslo, wat eers ná 35 jaar in 1950 voltooi is, was een van die grootste projekte ná die onafhanklikheid. Oslo het as gasheerstad van die Olimpiese Winterspele in 1952 opgetree wat onder meer by die bekende Holmenkollen gehou is.

Die snelle bevolkingsgroei in die 1950's het tot die uitbreiding van die voorstede en 'n gepaardgaande uitbou van die openbare vervoerstelsel gelei.

Die 21ste eeu

[wysig | wysig bron]
Die Nuwe Nasionale Operahuis van Oslo
Rådhusgata, 'n straat in die historiese stadsentrum

Fjordbyen (letterlik "Fjordstad") is een van die mees ambisieuse projekte wat in die afgelope dekades in Oslo aangepak is en behels die herontwikkeling van die ou dokke in die hawe. Hier ontstaan tans nuwe woon- en sakegeboue, musea, ontspanningsgebiede en kulturele geboue (waaronder die reeds voltooide operateater). Die operahuis is die grootste kulturele gebou in die Noorse hoofstad wat op 12 April 2008 amptelik ingewy is. Die gebou maak deel uit van die eerste gedeelte van Fjordbyen wat in 2008 voltooi sal word.[15]

Die Fjordbyen-buurt beslaan sowat 225 hektaar en strek van Frognerstranda in die weste tot Ormsund in die suidooste.

Stadskarakter en argitektuur

[wysig | wysig bron]

Østkant en Vestkant

[wysig | wysig bron]

Net soos baie ander Europese metropole beskik Oslo oor 'n welvarende burgerlike westelike gedeelte, die Vestkant, en 'n historiese nywerheids- en arbeiderskwartier in die ooste, die sogenaamde Østkant.[16]

In die loop van die nywerheidsomwenteling in die 19de eeu het langs die oewers van die Akerselva-rivier in die Østkant nywerheidsgebiede en woonkwartiere vir arbeidergesinne ontstaan, terwyl die omgewing van die Koninklike Slot en die westelike stadsbuurte deur houthuise en villa's van meer gegoede burgers oorheers is.

Slegte lewensomstandighede het ook in die eerste helfte van die 20ste eeu 'n negatiewe invloed op die bewoners van die oostelike stadsbuurte uitgeoefen. Terwyl geboue in die ouer werkersbuurte reeds verval het, is steeds meer baie eenvoudige woonstelblokke opgerig. Die werkersbuurt Pipervika is in die 1930's gesloop om plek te maak vir die bou van die nuwe Raadsaal.

Die binnestad

[wysig | wysig bron]

Die bewoners van die binnestad is in die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog deur hoë huurpryse en die toenemende geraas van die padverkeer geknel. Aanvanklik het stadsbeplanners wandellane vir voetgangers aangelê om die stadsentrum op te knap, maar eers met die bou van padtonnels vir Oslo se hoofstrate is die probleem in die vroeë 1980's verlig. Die inkomste uit die oliebedryf het die opknapping van talle sentrale stadsbuurte moontlik gemaak. Ouer geboue is gerestoureer, nuwe winkelsentrums met 'n moderne staal- en glasargitektuur opgerig, en die kosmopolitiese bevolking en kultuur het nuwe lewe in die middestad ingeblaas.

Egertorget

[wysig | wysig bron]
Egertorget (Foto: Kjetil Ree)

Egertorget is 'n plein in die stadsentrum by die kruising van Karl Johans gate en Øvre slottsgate. Die plein is vernoem na twee broers en eienaars van 'n brouery, Herman (1816–1863) en Thorvald Eger (1827–1901), wat hier 'n groot plaas besit het. Egertorget is 'n belangrike knooppunt van Oslo se moltreinstelsel (Noors: T-banen). Een van die ingange tot die moltreinstasie Stortinget is op die plein geleë.

In die somer is Egertorget 'n gewilde plek vir straatmusikante en towerkunstenaars, terwyl die grootste kersfeesboom in Oslo hier in Kerstyd opgesit word. Die plein word omring deur talle straatkafees, waarvan Presseklubben en 3 brødre die bekendstes is. Die kenmerkende ligreklame vir Freia, die beduidendste Noorse sjokoladevervaardiger, was in 1909 die eerste van sy soort in Oslo.

Oslo se eerste wolkekrabber, Horngården, is op Egertorget geleë. Die gebou met altesaam dertien verdiepings is in 1930 deur die argitek Fridtjof Stoud Platou opgerig en tot 'n monument verklaar. Die gebou se fasades, hoofstruktuur en verdiepingsindeling asook sy westelike traphuis word deur die Noorse Riksantikvaren beskerm. Die reklamebord se ontwerp is sedertdien verander, maar dit het steeds op dieselfde plek gebly.

Aker Brygge

[wysig | wysig bron]
Aker Brygge

Aker Brygge is 'n stadsbuurt en die naam van 'n winkelsentrum in die administratiewe distrik Frogner in die stadsentrum. Die buurt is aan die westelike kant van Pipervika, 'n sytak van die Oslofjord, geleë.

Die buurt is op die voormalige terrein van die skeepswerf Akers Mekaniske Verksted AS geleë wat in 1982 gesluit is. Voordat die werf hom hier in 1854 gevestig het, het die gebied as Holmen bekend gestaan. Dit het oorspronklik deel uitgemaak van 'n boerdery waar vroeg in die 19de eeu enkele nywerhede en 'n voorstad van Oslo ontstaan het.

Die opknapping en uitbou van Aker Brygge is deur die eiendomsmaatskappy Aker Eiendom AS deurgevoer. 'n Aantal ou fabrieksgeboue is afgebreek, maar sommige van die groot nywerheidsgeboue is tot winkels omgebou. Die eerste bouprojekte, wat deur die argitekte Telje, Torp en Aasen ontwerp is, is in 1986 voltooi. Die vierde en laaste projek, die nuwe kantoorgebou van die assuransiemaatskappy Storebrand aan die Munkedamsveien, is in 1998 ingewy.

Vandag is Aker Brygge met sy winkelsentrum, restourante, rolprentteater, kantoorgeboue en luukse woonstelle en 'n totale oppervlakte van 260 000 vierkante meter 'n gewilde woonbuurt vir Oslonaars asook 'n toeristetrekpleister wat jaarliks ses miljoen besoekers lok. Die buurt beskik oor 'n klein hawe met aanlêplekke vir bote, jagte en die veerbote van die Nesodden-Bundefjord-stoomskipmaatskappy.

Die belangrikste strate in Aker Brygge is Beddingen, Bryggegata, Bryggepassasjen, Dokkveien, Fjordalléen, Grundingen, Holmens gate, Koøyet, Riggergangen, Sjøgata, Stranden en Støperigata. Die kaai langs Pipervika word Tingvallakaia genoem. Die plein Bryggetorget is teenoor Tjuvholmen geleë.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
Oslo City, 'n winkelsentrum in Oslo se middestad

Die metropolitaanse gebied van Groter Oslo (Noors: Osloregionen) word sowel in ekonomiese asook demografiese opsig deur 'n sterk groeikoers gekenmerk. As die hoofstad van Noorweë en sy beduidendste ekonomiese en wetenskaplike sentrum is Oslo die belangrikste bestemming vir buitelandse beleggings in dié Skandinawiese land.

Met 750 000 NOK of 75 120 € per capita in 2005 – drie keer so hoog soos die gemiddelde van die 27 lidlande van die Europese Unie en ook hoër as dié van ander Skandinawiese hoofstede – is Oslo se bruto nasionale produk die hoogste van alle Europese metropole.

Die plaaslike ekonomie word deur die openbare en privaat dienstesektor oorheers, terwyl nywerhede tradisioneel 'n minder belangrike rol speel. Nogtans het Groter Oslo tot Noorweë se beduidendste sentrum vir kennisgebaseerde ekonomiese aktiwiteite ontwikkel waar sowat die helfte van die land se navorsings- en ontwikkelingsaktiwiteite plaasvind. Sowel die openbare asook die privaatsektor spits hulle tans op vyf ekonomiese sektore toe: Maritieme nywerhede, energie en omgewingsbewaring, informasie- en telekommunikasietegnologie, biotegnologie en lewenswetenskappe en kultuur. Die maatskappye in hierdie bedrywe is reeds hoogs mededingend op die wêreldmark of het die potensiaal om as toekomstige mededingers op te tree.

Infrastruktuur

[wysig | wysig bron]

Die Oslo-lughawe is ongeveer 45 km noord van die stad geleë.

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (no) "De 10 største byene, tettstedene og kommunene i Norge". Statistiek Noorweë. 5 Januarie 2023. Besoek op 10 Mei 2024.
  2. (de) "Ekonomie van Noorweë". Duitse Departement van Buitelandse Sake. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 April 2008. Besoek op 21 April 2008.
  3. (no) Aftenposten, 12 October 2014, bl. 15.
  4. (no) "Han har kartlagt Christianias karthistorie". Oslo by. 8 Desember 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Januarie 2016. Besoek op 13 Januarie 2016.
  5. (no) "Oslo – historie". 3 Augustus 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2016. Besoek op 20 Oktober 2016.
  6. (no) Knut Are Tvedt, red. (2000). «Oslo gate». Oslo byleksikon (4. uitg.). Oslo: Kunnskapsforlaget. bl. 324. ISBN 82-573-0815-3.
  7. (no) Pål Abrahamsen et al. (red.): Fra dollhus til moderne psykiatri. Oslo Hospital 1538–1988. Selskapet for Oslo bys vel. Oslo 1988.
  8. (no) Cf. Bjorvand, Harald (2008). "Oslo." In: Namn och bygd. Tidskrift för nordisk ortnamnsforskning, vol. 96, 2008.
  9. (no) Jon G. Jørgensen (28 September 2014). "Peder Claussøn Friis". Store norske leksikon. Ed. Knut Helle. Oslo: Kunnskapsforlaget. URL besoek op 15 Mei 2013. 
  10. (no) "Alna – elv i Oslo". Store Norske Leksikon. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Oktober 2016. Besoek op 19 Oktober 2016.
  11. (no) "Fra Språkrøret: Hvorfor kaller vi Oslo for Tigerstaden?," St. Hallvard, 3/1991, bl. 61
  12. (en) GTAI Germany Trade and Invest: Markets International 1/19, bl. 16
  13. (en) "Oslo". Wêreldmeteorologiese Organisasie. Besoek op 10 Mei 2024.
  14. (en) "Oslo". Weatherbase. Besoek op 10 Mei 2024.
  15. (en) www.visitoslo.com: The Fjord City[dooie skakel]
  16. (de) Martin Kessler: Die geskiedenis van Oslo
  17. 17,0 17,1 17,2 17,3 17,4 17,5 (en) "Co-operating cities and regions". Oslo by. 24 Februarie 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2014. Besoek op 7 April 2014.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Statistieke gegewens