Slag van Mykale
Slag van Mykale | |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|
Deel van die Grieks-Persiese oorloë | |||||||
'n Deel van Mykaleberg soos vanaf die ruines van Priëne gesien | |||||||
| |||||||
Strydende partye | |||||||
Griekse stadstate | Persiese Ryk | ||||||
Bevelvoerders | |||||||
Leotychides Xanthippus Perilaus (†) |
Artaÿntes Ithanitres Mardontes (†) Tigranes (†) | ||||||
Sterkte | |||||||
40 000 soldate 110-250 skepe |
60 000 soldate 300 skepe |
Die Slag van Mykale (Antieke Grieks: Μάχη τῆς Μυκάλης; Machē tēs Mykalēs) was een van die twee beslissende veldslae wat die tweede Persiese inval van Griekeland tydens die Grieks-Persiese oorloë beëindig het. Dit het plaasgevind op, of om en by 27 Augustus 479 v.C. op die hange van Mykaleberg, aan die kus van Ionië, teenoor die eiland Samos. Die stryd is gevoer tussen 'n bondgenootskap van die Griekse stadstate, insluitend Sparta, Athene en Korinthe, en die Persiese Ryk van Ahasveros.
Die vorige jaar het die Persiese invalsmag, aangevoer deur Ahasveros self, seges behaal by die veldslae van Thermopylai en Artemisium, en het Thessalië, Boiotië en Attika ingepalm. Nietemin kon die geallieerde Griekse vloot by die daaropvolgende Seeslag van Salamis 'n onwaarskynlike sege beklink, waardeur Persiese verowering van die Peloponnese afgeweer is. Ahasveros het toe teruggetrek, en sy generaal Mardonios met 'n aansienlike weermag agtergelaat, vir die voltrekking van die Griekse kampanje in die volgende jaar.
In die somer van 479 v.C., het die Grieke 'n reuseweermag (vir eietydse standaarde) saamgeroep, en opgemarsjeer om Mardonios by die Slag van Plataia teë te staan. Terseldertyd het die bondgenote se vloot na Samos gevaar, waar die ontmoedigde oorblyfsels van die Persiese vloot gestasioneer was. Die Perse, in 'n poging om 'n konflik te vermy, het hul vloot gestrand onder die hange van Mykale, en in samewerking met 'n Persiese weermagafdeling 'n palisadekamp opgerig. Die Griekse kommandeur Leotychides het besluit om die Perse nietemin aan te val, en het sy vloot se seesoldatekorps aan land geneem.
Alhoewel die Persiese magte hul heldhaftig verweer het, het die swaargepantserde Griekse hopliete hulself weereens bewys as uitnemend in krygsvoering, en kon uiteindelik die Persiese troepe oormeester, wat na hul kamp gevlug het. Die Ioonse Griekse kontingent van die Persiese weermag het oorgeloop, en 'n aanval is op die kamp geloods waarin 'n groot aantal Perse om die lewe gebring is. Hierna is beslag gelê op die Persiese skepe, wat aan die brand gesteek is. Die algehele uitwissing van die Persiese vloot, tesame met die vernietiging van Mardonios se weermag by Plataia (na bewering op dieselde dag as die Slag van Mykale), het die Griekse inval beslissend beëindig. Na Plataia en Mykale, het die Griekse bondgenote tot die offensief oorgegaan, wat 'n nuwe tydvak van die Grieks-Persiese oorloë ingelui het. Alhoewel Mykale in elke opsig 'n beslissende sege was, blyk dit nie van dieselde belang (selfs toe) geag te gewees het as byvoorbeeld die Atheense oorwinning by die Slag van Marathon of selfs die Griekse neerlaag te Thermopylai nie.