Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                
Gaan na inhoud

Suid-Slawiërs

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Lande waar 'n Suid-Slawiese taal die nasionale taal is.

Suid-Slawiërs is Slawiese volke wat Suid-Slawiese tale praat en woon in 'n streek in Suidoos-Europa wat die oostelike Alpe en die Balkan-skiereiland insluit. Hulle word geografies van die Wes- en Oos-Slawiërs geskei deur Oostenryk, Hongarye, Roemenië en die Swartsee. Die Suid-Slawiërs sluit vandag die Serwiërs, Kroate, Bosniake, Montenegryne, Masedoniërs, Slowene en Bulgare in. Die lande waarin hulle woon, is:

In die 20ste eeu is die land Joego-Slawië (letterlik "Suid-Slawië") verenig om die meeste Suid-Slawiese volke en lande in 'n enkele staat in te sluit, buiten die Bulgare en Bulgarye. Die Pan-Slawiese konsep van "Joego-Slawië" het in die laat 17de eeu in Kroasië ontstaan, in die tyd van die Habsburgse monargie, en het gewilder geraak danksy die 19de-eeuse Illiriese beweging. Die Koninkryk van die Serwiërs, Kroate en Slowene, wat in 1929 hernoem is tot die Koninkryk Joego-Slawië, is op 1 Desember 1918 uitgeroep ná die vereniging van die Staat van Slowene, Kroate en Serwiërs met die koninkryke Serwië en Montenegro.

Met die verbrokkeling van Joego-Slawië vroeg in die 1990's het verskeie onafhanklik state ontstaan. Soms word die Suid-Slawiërs steeds Joego-Slawiërs genoem, maar dit sluit dikwels die Bulgare uit.

Terminologie

[wysig | wysig bron]

Die Suid-Slawiërs is in Serwies, Masedonies en Montenegryns bekend as Јужни Словени, (Joezjni Slowjeni); in Bulgaars as Южни славяни, Joezjni Slawjani); in Kroaties en Bosnies as Južni Slaveni; en in Sloweens as Južni Slovani. Die Slawiese stam *joeg- beteken "suid". Die Slawiese naam is deur 6de-eeuse skrywers gebruik om die suidelike groep van vroeë Slawiërs (die Sclaveni) te beskryf; Wes-Slawiërs is Veneti en Oos-Slawiërs Antes genoem.[1] Die Suid-Slawiërs word ook Balkanse Slawiërs genoem.[2]

'n Ander naam wat in die vroeë moderne tydperk gewild was, is Illiriërs, die naam van 'n voor-Slawiese Balkanse volk wat in die laat 15de eeu begin gebruik is vir Suid-Slawiese lande en volke.[3] Dit is daarna deur die Habsburgse monargie en Frankryk gebruik, en later deur die 19de-eeuse Illiriese beweging van Kroasië.[4] Eindelik het die idee van "Joego-Slawisme" kop uitgesteek, met die doel om alle Suid-Slawiese gebiede in een staat te verenig.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vroeë Suid-Slawiërs

[wysig | wysig bron]

Die Proto-Slawiese tuisland in die 1ste millennium n.C. was in die omgewing van Sentraal- en Oos-Europa, maar die presiese ligging is onseker.[5] Geleerdes glo tradisioneel dit was die moeraslande van Oekraïne, of anders tussen die Boeg- en Dnjeprrivier.[6] Min is egter bekend oor die Slawiërs voordat hulle in die 5de eeu in alle rigtings begin versprei het.

Jordanes, Prokopios en ander laat Romeinse skrywers verskaf moontlik die eerste verwysings na Suid-Slawiërs in die tweede helfte van die 6de eeu.[7] Prokopios beskryf die Sclaveni en Antes as twee barbaarse volke met dieselfde instansies en gebruike sedert antieke tye wat nie een heerser het nie, maar 'n demokrasie,[8] terwyl Pseudo-Maurice hulle 'n talryke volk noem, wat ongedissiplineerd, ongeorganiseerd en leierloos is, wat nie die neem van slawe en oorwinning oor hulle toelaat nie, en immuun teen swaarkry en gure weer is.[9] Prokopios het gesê hulle was ongewoon lank en sterk, met donker velle en rooierige hare (nie blond of swart nie), dat hulle 'n primitiewe lewe gelei het in verspreide hutte en dat hulle dikwels van blyplek verander het.[10] Volgens Prokopios het hulle die god van weerlig (Peroen), die heerser van alles, aanbid en aan hom beeste geoffer.[10] Hulle het kaalvoet gaan veg, reg op hulle vyand afgestorm met spiese en klein skilde en nie wapentuig gedra nie.[10]

Hoewel daar nie argeologiese bewyse is van 'n grootskaalse migrasie nie, meen die meeste hedendaagse historici Slawiërs het hulle in die 6de en 7de eeu in die Balkan gevestig.[11] Van die Donau af het die Slawiërs die Bisantynse Ryk op 'n jaarlikse basis aangeval en strooptogte uitgevoer. Hulle het verwoesting gesaai, gesteel, gevangenes geneem en forte oorgeneem. Die Bisantynse Ryk was dikwels uitgestrek en moes sy ryk Asiatiese provinsies teen Arabiere, Perse en ander beskerm; daarom kon talle klein, ongeorganiseerde strooptogte deur die vroeë Slawiërs groot ontwrigting veroorsaak, hoewel die groot, ommuurde stede nie ingeneem kon word nie.[12]

Die eerste Slawiese strooptog suid van die Donau, moontlik in 518, is deur Prokopios aangeteken. Hy noem 'n aanval deur die Antes, "wat naby die Sclaveni woon".[13] Dwarsdeur die eeu het Slawiërs strooptogte tot diep in die Balkan, van Dalmasië tot Griekeland en Thracië, uitgevoer. Hulle is ook soms as huursoldate gebruik.[14] Dit lyk of Justinianus die strategie "verdeel en oorwin" gebruik het, want daar word dikwels genoem dat die Sclaveni en Antes teen mekaar geveg het.[15] Die Antes word later, in 545, genoem as oorlogvoerders teen die Bisantynse Ryk, terwyl die Sclaveni steeds strooptogte op die Balkan uitgevoer het.[16]

Teen die 580's, toe die Slawiese gemeenskappe aan die Donau groter en meer georganiseerd geraak het, het strooptogte groter geword en sommige streke is permanent bewoon. Die meeste geleerdes reken 581-584 was die begin van die grootskaalse vestiging van Slawiërs in die Balkan.[17] In die middel 6de eeu het die Bisantyne weer beheer oor die Danaugrens oorgeneem, en dit het die Slawiërs ekonomies geïsoleer. Dit, tesame met die bedreiging van buite deur die Aware en Bisantyne, het gelei tot politieke en militêre mobilisasie. Bewyse op argeologiese terreine dui op die groei en ontwikkeling van klein nedersettings tot groter gemeenskappe met versillende gebiede vir feeste, vakmanskap, ensovoorts.[18]

Daar is al voorgestel dat die Sclaveni die voorouers van die Serwo-Kroate was, terwyl die Antes dié van die Bulgaarse Slawiërs was, met 'n groot mate van vermenging in die kontaksones.[19][20] Die Slawiërs het ook met die nakomelinge van die inheemse bevolkingsgroepe gemeng en hulle opgeneem.[21]

Middeleeue

[wysig | wysig bron]

Teen 700 n.C. het die Slawiërs in die grootste deel van Sentraal- en Suidoos-Europa gewoon, van Oostenryk tot die Peloponnesos van Griekeland, en van die Adriatiese tot die Swartsee, behalwe in die kusstreke en sekere bergstreke van die Griekse skiereiland.[22] Die Aware, wat laat in die 550's in Europa aangekom en 'n groot impak op die Balkan gehad het, het wes van die Slawiërs gewoon en groot beheer oor die Slawiese stamme uitgeoefen. Hulle invloed in die Balkan het egter teen die vroeë 7de eeu afgeneem en hulle is eindelik verslaan. Hulle het teen die 9de eeu as 'n mag verdwyn.[23] Die eerste Suid-Slawiese staat en streekmag was Bulgarye, 'n staat wat in 681 gevorm is as 'n vereniging van Slawiese stamme en die Bulgare van khan Asparoech. Die verstrooide Slawiërs in Griekeland, die Sklavinia, is vergrieks.[24]

Die Slawiërs het in die gebied tussen die Franke in die noorde en Bisantium in die suide gewoon en is aan verskeie invloede blootgestel.[25] Twee Bisantynse broers, die monnike Cyrillus en Methodius, is in 863 gestuur om Groot Morawië te kersten. Hulle het die Glagolitiese alfabet en die eerste Slawiese geskrewe taal, Ou Kerkslawies, geskep waarmee hulle Bybelwerke vertaal het. In dié tyd het die Wes- en Suid-Slawiërs nog 'n soortgelyke taal gepraat. Met die Glagolitiese skrif is al die Slawiese klanke weergegee, maar dit is in die 9de eeu geleidelik in Bulgarye vervang en in die 11de eeu in Rusland.[26] In Kroasië het dit tot die 16de eeu oorleef.[27]

Cyrillus en Methodius se volgelinge het skuiling gesoek in die Christelike Bulgarye, waar Ou Kerkslawies die kerktaal geword het.[27] 'n Vroeë Cyrilliese alfabet is in die 9de eeu in Bulgarye ontwikkel.[28][29] In die 10de en 11de eeu het Ou Kerkslawies aanleiding gegee tot die skepping van verskeie streekvorme soos Serwo-Kroaties en Sloweens.[27] Ekonomiese, godsdienstige en politieke sentrums in Ohrid en Preslaf het bygedra tot die letterkundige produksie in Bulgarye.[30]

Die Suid-Slawiese tale is een van drie takke van die Slawiese tale; die ander twee is die Wes- en Oos-Slawiese tale. Van wes na oos sluit die Suid-Slawiese tale in die amptelike tale van Slowenië, Kroasië, Bosnië en Herzegowina, Montenegro, Serwië, Noord-Masedonië en Bulgarye. Twee groepe bestaan:

Wes:
Serwo-Kroaties
(Serwies, Kroaties, Bosnies, Montenegryns)
Sloweens

Oos:
Bulgaars
Masedonies
(Torlakiaans)

Die Serwo-Kroatiese variante is struktureel baie eenders en word deur die meeste linguiste as een taal beskou.[31] Vandag word die tale deur die meeste sprekers as aparte tale beskou en dit het gelei tot die kodifisering van verskeie standaarde: Serwies, Kroaties, Bosnies en Montenegryns. Dié Serwo-Kroatiese standaarde is almal gebaseer op die Sjtokawiese dialekgroep. Ander dialekte wyk baie van dié groep af. Sloweens is Suid-Slawies, maar het baie ooreenkomste met Wes-Slawiese tale. In Suidoos-Serwië betree dialekte 'n oorgangsone met Bulgaars en Masedonies, en het dit ooreenkomste met albei dié tale; dit is algemeen as Torlakiaans bekend.

Die oostelike tak van Suid-Slawiese tale is Bulgaars en Masedonies. Bulgaars het van al die tale die meeste oorblyfsels uit Oudslawies.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Kmietowicz 1976.
  2. Kmietowicz 1976, Vlasto 1970
  3. URI 2000, p. 104.
  4. Hupchick 2004, p. 199.
  5. Kobyliński 2005, pp. 525–526 Barford 2001, p. 37
  6. Fine 1991, p. 25.
  7. Curta 2001, pp. 71–73.
  8. James 2014, p. 95, Kobyliński 1995, p. 524
  9. Kobyliński 1995, pp. 524–525.
  10. 10,0 10,1 10,2 Kobyliński 1995, p. 524.
  11. Fine 1991, pp. 26–41.
  12. Fine 1991, p. 29.
  13. James 2014, p. 95, Curta 2001, p. 75
  14. Curta 2001, pp. 78–86.
  15. James 2014, p. 97.
  16. Byzantinoslavica. Vol. 61–62. Academia. 2003. pp. 78–79.
  17. Fine 1991, p. 31.
  18. Curta 2007, p. 61.
  19. Hupchick 2004.
  20. Fine 1991, p. 26.
  21. Fine 1991, pp. 38, 41.
  22. Fine 1991, p. 36.
  23. Fine 1991, pp. 29–43.
  24. Fine 1991, p. 41.
  25. Portal 1969, p. 90.
  26. Portal 1969, pp. 90–92.
  27. 27,0 27,1 27,2 Portal 1969, p. 92.
  28. Dvornik, Francis (1956). The Slavs: Their Early History and Civilization. Boston: American Academy of Arts and Sciences. p. 179.
  29. Florin Curta (2006). Southeastern Europe in the Middle Ages, 500–1250. Cambridge Medieval Textbooks. Cambridge University Press. pp. 221–222. ISBN 978-0521815390. Cyrillic preslav.
  30. Portal 1969, p. 93.
  31. Comrie, Bernard; Corbett, Greville G., reds. (1993). The Slavonic Languages. Londen & New York: Routledge. OCLC 49550401.

Aangehaalde bronne

[wysig | wysig bron]

Skakels

[wysig | wysig bron]