Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                

Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

From $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Woestynwysheid: Ervaar God opnuut
Woestynwysheid: Ervaar God opnuut
Woestynwysheid: Ervaar God opnuut
Ebook359 pages8 hours

Woestynwysheid: Ervaar God opnuut

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Ronell Bezuidenhout lei jou om – aan die hand van ou geloofstradisies soos eenvoud en afsondering – hierdie stilte te ontdek, en God weer opnuut te ervaar.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateFeb 18, 2015
ISBN9780796318213
Woestynwysheid: Ervaar God opnuut
Author

Ronell Bezuidenhout

Ronell Bezuidenhout is die afgelope twaalf jaar ’n predikant by die Fontainebleau Gemeenskapskerk (FGK) in Randburg. Na afloop van haar studiejare was sy in die vroeë 1990’s ’n studenteleraar by die destydse UPE. Later het sy aan dieselfde universiteit klas gegee, en sy was ’n tentmaker-leraar daar terwyl sy haar PhD in Publieke Teologie voltooi het. Haar ervaring as pastorale terapeut was die rede vir haar verhuising na Johannesburg, om daar ’n Sentrum van Deernis by die FGK te begin. Later het haar fokus verander, en sy is tans verantwoordelik vir toerusting en geloofsvorming in die gemeente. Sy het al verskeie publikasies die lig laat sien, en sy het tot vele ander ’n bydrae gelewer. Ronell het die afgelope klompie jare ’n intense belangstelling in geloofs- en persoonlikheidsvorming ontwikkel. Sy bied landwyd retraites aan wat veral op die inoefening van geloofs- en lewensgewoontes fokus. Hiermee help sy besige stadsmense om nuut oor hul lewe na te dink. Ronell bly ’n ewige student. Sy ontdek steeds die mense rondom haar, en probeer ook om die subteks te lees. Wanneer sy ontspan, skilder sy ikone.

Related to Woestynwysheid

Related ebooks

Reviews for Woestynwysheid

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout

    Woestynwysheid

    Ervaar God opnuut

    Ronell Bezuidenhout

    Lux Verbi

    Voorwoord

    Motivering

    Hierdie boek is gebore na aanleiding van ’n enkele sinnetjie van ’n middeljarige, Afrikaanssprekende man, ’n pa van twee kinders. Hy kan die gemiddelde man wees wat jy op die snelweg op ’n Maandagoggend langs jou sien verbyry, in sy netjiese gesinsmotor, netjiese donker pak, op pad werk toe. Sou jul paaie dalk êrens toevallig kruis, sou jy uit sy gesels aflei dat hy ’n belese en berese man is. Iemand wat jy graag om jou etenstafel sou wou hê omdat hy interessante geselskap is. Die tipiese moderne stedeling. Wat hom dalk bietjie uitsonderlik maak, is die plek waar hy homself bevind het toe hy dié sinnetjie gesê het. Dít is, helaas, nie die gemiddelde, middelklas-Afrikaanssprekende manlike stadsbewoner se standaard-naweekaktiwiteit om homself op ’n Sondag, laatoggend, in ’n kring saam met sewentien relatief onbekende vroue en nog ’n enkele man te bevind nie.

    Daar sit die twintig van ons, op stoele in ’n kring gepak, reflekterend oor die naweek se saamwees wat besig is om ten einde te loop. Ons gespreksonderwerp: Wat die naweek vir jou beteken het. Ek het ’n groep van negentien mense vir ’n naweek van stilte na ’n retraitesentrum in die hartjie van Johannesburg geneem en vir die eerste maal kry die groep geleentheid om na mekaar te luister. Dan kom die man aan die woord. Die vertrek is doodstil, want toe hy begin gesels, is hy skielik weemoedig. ’n Stem vol emosie. Hoekom moes ek só oud word, voordat ek hierdie ‘goed’ ontdek het … hoekom het niemand my al voorheen hiervan vertel nie?

    Dat hierdie naweek só ’n reaksie kon ontlok! Maar dit was nou ook nie juis ’n gewone naweek nie: stilte, lang alleentye van sit op ’n sementbankie in ’n loofryke tuin, tye van groepmeditasie, gesprekke oor vergete geloofsdissiplines wat ons weer wil inoefen, koormusiek in ’n kersverligte kapel, of sommer net kop onderstebo loop – ingedagte – net met jouself as geselskap, gefokus op jou hartklop. Kon hierdie drie dae soveel emosies loswikkel? Gelyktydig deel hy, ’n besige sakeman, sy dankbaarheid oor die tot rus kom van sy gejaagde lewe. Maar daar is ook teleurstelling: Waarom so lank moes wag? Kon die proesel van die mistieke nie al vroeër by hom aangemeld het nie?

    Dáárdie oggend, met dáárdie sinnetjie, het ek geweet, dit moenie nodig wees vir mense om so lank te wag nie. ’n Lewe van stilte en eenvoud en afsondering – of noem dit bloot ’n lewe van innerlike verdieping of ’n lewe van heelheid – is vir almal bedoel, nie net vir ’n handjievol monnike of nonne êrens in ’n klooster nie.

    Daar was ’n tweede motivering waarom ek oortuig was dat hierdie boek geskryf moes word: In my persoonlike ruimte is die meeste van my vriende nie meer kerkmense nie. Nie noodwendig post-Christelik nie, maar beslis postkerklik. Ja, van die eksodus uit die kerk hou die media ons (vingerswaaiend) op die hoogte. Sommige mense wat deel van die hoofstroom-kerke was (met ander woorde, die tradisionele drie susterskerke) het vir hulself ’n tuiste gaan vind by meer charismatiese kerke. Maar die meerderheid het bloot wegbeweeg van die kerkgronde af. Kerk doen dit nie meer vir my nie, hoor ek gereeld om my eetkamertafel as ons oor hierdie onderwerp praat. Dit beteken nie dat moderne mense minder spiritueel is nie, want die behoefte om na te dink oor God het (ten minste in my vriendekring) nie minder geword nie. Inteendeel. Daar is steeds ’n soeke na helderheid, maar nie meer die kerk se helderheid nie – nou moet dit ’n eie helderheid wees. (Ja, natuurlik sou ons teoloë en predikante dadelik kon argumenteer dat dit ’n tipiese teken is van die sogenaamde selfgesentreerde individualisme van die tyd waarbinne ons leef. Maak nie saak hoe ons daarteen protesteer nie, al wat gebeur is dat, as ons nie luister nie, die stroom van postkerklikes net al groter raak …) Kerk doen dit net nie meer vir mense nie …

    Postkerklikes

    Hierdie boek is veral vir daardie postkerklikes geskryf. Mense wat selde Sondae ’n erediens bywoon en tog ’n naweek van stilte in ’n ou retraitesentrum bywoon. Self kan ek nie anders as om vanuit die Christelike tradisie te skryf nie, want dit is die geloofstradisie waarbinne ek (ten spyte van al my kritiese vrae …) vir myself betekenis en sin gevind het. Die wyshede wat in hierdie boek vanuit die Christendom kom, sal jy wel in elke ander geloofstradisie kry. Die Christendom het, helaas, nie alleenreg op wysheid nie! Ek voorsien dat daar, vanuit meer behoudende Christelike kringe, baie kritiek teen sommige stellings in hierdie boek kan wees. Sommige dalk geregverdig en daarna sal ek luister. Maar ek weet ook dat hierdie boek gevoed is vanuit ’n reservoir van twintig jaar se nadenke as ’n teoloog en terapeut (… asof dit nou meer waarde dra as bloot twintig jaar se nadenke as ’n mens… maar, dit ook, ja!). Ek het moeite gedoen om hier en daar perspektiewe van ander gelowe in te voeg. Die meerderheid plekke waar ek egter nie iets ingevoeg het nie, is oorwegend omdat ek self daar onkundig is aan die rykdom wat gelowiges uit ander godsdienste my sou kon bied. Dit is my verlies! Ek leer steeds ál meer en meer van die Soefi’s; die Joodse mistici; die Boeddhisme en Hindoeïsme; die mistici van tradisionele Afrika-spiritualiteit. Nee, dit maak my nie minder Christen nie; dit maak my verwondering oor ons gedeelde menswees en ons sug na God wel groter!

    Lewe van eenvoud, stilte en afsondering

    Die geloofsdissiplines waar stilte, eenvoud en afsondering ingeoefen word om die stem van die Mistieke tussen al die magdom stemme in die wêreld te leer onderskei, is dissiplines wat in alle gelowe ingeoefen word. Selfs, sou jy jou nie as gelowig binne ’n sekere tradisie beskou nie, sal enige sielkundige of dokter jou leer van die waarde van tot rus kom. Dit is nie ’n moderne tendens van moderne en gesekulariseerde mense wat net oorwerk is wat skielik na ’n lewe van stilte en afsondering en eenvoud verlang nie. Dit is ’n menslike behoefte wat van die vroegste tye teenwoordig is. Dit is juis na die vroegste tye waarheen hierdie boek se wortels groei om water en voeding te gaan soek: die eerste vier eeue van die Christendom, wat bekend staan as die woestynperiode. ’n Tyd wat gekenmerk is deur veral ’n intense soeke na ’n lewe van eenvoud, stilte en afsondering.

    Hierdie boek is bedoel om ’n lusmaker te wees om meer te ontdek van die wyshede van hulle wat as die deurleefdes beskou word – hulle wat net een verwagting gehad het, naamlik om verenig met God te leef. Wêreldwyd is daar, soos jy in hierdie blaaie sal ontdek – met goeie motivering – ’n hernude belangstelling in die ou geloofstradisies. Hopelik stimuleer die bekendstelling aan ’n paar oorwegend onbekende name van daardie tye ook jou belangstelling.

    Woestynwyses

    As jy dus iemand is wat meer soek; wat aanvoel dat daar ’n Groter Realiteit is as die alledaagse materie wat ons om ons sien; wat ’n behoefte het om die Mistieke (wat sommige van ons ook God noem) te leer ken, stel ek jou in hierdie boek voor aan ’n paar mense van die vroegste eeue wat ook daardie behoefte gehad het, en die realisering daarvan ervaar het. Nie alle soekers na die Mistieke is noodwendig van die eerste eeue se mense nie (soos byvoorbeeld Antonius, Benediktus en Sinkletika wat weldra in die blaaie van die boek meer bekend gaan word). Deur alle eeue heen het mense se soeke en hul opgeskrewe wyshede vir die geslagte ná hulle weer antwoorde voorsien (daarom stel ek jou byvoorbeeld voor aan die Engelse mistikus Julian van Norwich, iemand wat baie ver van ’n woestyn geleef het, en tog die woestynwyshede in haar lewe ingeoefen het, etlike eeue ná die woestynperiode). Selfs in ons moderne era kom jy woestynwyses teë, lank nie meer beperk tot die bekende kontinente van antieke Europa en Noord-Afrika nie. So ook byvoorbeeld die Noord-Amerikaanse teoloog en priester, mistikus en digter van die twintigste eeu, Thomas Merton, wat jy teen die einde sal ontmoet. Maak ’n mens jou oë oop, dan sien jy hierdie mense daagliks om jou. Mense wat anders leef en dink en doen. Oefen jy die geloofsdissiplines van die vroegste eeue in, dan ontdek jy in jouself die potensiaal om die taal van die Mistieke te praat. Nie iets waarvoor jy moet wag vir eendag, totdat iemand dit eers aan jou bekendstel nie. Luister maar net na jou binnestem. Steeds loop die pad deur die woestyn – soos wat dit vandag nog doen, al lyk ons woestyne net anders …

    Indeling

    Die meeste hoofstukke in die boek is rondom drie temas geskryf: ’n verduideliking van die spesifieke geloofsdissipline; my persoonlike dagboekinskrywings (wat jou eie nadenke moontlik sal stimuleer) en dan ’n bekendstelling aan ’n persoon wat daardie spesifieke geloofsgewoonte in sy of haar eie lewe geïntegreer het. Weer eens moet ek erken, ek sou voorbeelde van mense uit elke geloofstradisie kon neem, ook uit alle eeue en alle kulture, omdat hierdie geloofsgewoontes nie beperk is tot die Christendom nie. Dit is bloot as gevolg van my onkunde (en dalk geloofseenogigheid) dat ek nie so vertroud is met die rykdom van soveel ander mense se lewe, soos in die geval van die Christelike mistici nie.

    Aan die retraitegangers wat gewoonlik, veral as dit iemand se eerste stil-naweek is, die Vrydagaand tydens die bekendstellingsgesprek ’n huiwerigheid en onsekerheid uitspreek van Ek weet nie wat maak ek eintlik hier nie, maar dit die Sondagoggend by die afsluitingsgesprek opvolg met ’n Iets het in my gebeur – aan julle wil ek sê: Die ontdekkingsreis na Heelheid gaan steeds voort! Dit is nooit te laat om nuwe roetes te begin stap nie. Ook nie die woestynpad nie!

    Mag jou reis op hierdie pad van ontdekking jou ook by verwondering bring! Vir my bring dit daar. Sonder ophou.

    Ronell Bezuidenhout

    Randburg

    EEN

    Waarom, van alle moontlikhede, só?

    ’n Lewe vol teenstrydighede

    ’n Vreemde plek, dié plek wat ons ons aardse woning noem. Ons weet ons bly nie permanent op hierdie planeet nie, tog kies ons om ons lewe so in te rig dat dit die illusie van vir altyd en altyd gelukkig saam skep. Ons weet dat niks wat ons op hierdie aarde bymekaarmaak ons na die volgende lewe (waar dit ook al kan wees) kan vergesel nie, maar ons hou steeds ’n eienaardige en onversadigbare versamellus in stand.

    Vreemde spesie, hulle wat ons mense noem. Ons kan mateloos ontsteld raak oor plooie en pap spiere, tog kan ons by ons medemens met ’n opsigtelike probleem verbyleef sonder om ’n verdere gedagte oor hulle na te hou. Ons is uitgesproke krities oor ander mense en ander kulture, sonder dat ons ’n enkele aand al onder hul lakens geslaap het. Ons kan met diepe medemenslikheid die lot van vreemdelinge op ’n ander kontinent – ná ’n groot natuurramp – ons so aantrek, maar ons kan met ’n liefdelose ongevoeligheid van hulle praat wat net oorkant die heining van ons bly.

    Ons is vol uiterstes! Ons weet dat dit vir ons allernoodsaaklik is om ses of wat porsies vars groente en vrugte op ’n dag te eet, daarom sluk ons die beste vitamine-aanvullings uit die gesondheidswinkel se oorvol rakke saam met ons wegneemetes. Dit is goed vir ons gemoed om daagliks twintig minute sonlig te kry, tog kies ons om ure in neonverligte winkelsentrums te drentel. Ons beskou onsself as bevoorreg wanneer ons met sonsopkoms teen vyftien kilometer per uur in die wildtuin voortkruie, soekend na lewe, maar laat ons nou net – óók ’n vroegoggend, óók teen ’n uiterse slakkepas – in die stadsverkeer aansukkel met opsigtelike lewe om ons …

    Die meeste van ons leef ’n baie gewone lewe – sommige sal dit selfs as saai beskryf. Gebeur daar niks in ons lewe nie, voel ons vaal en vervelig. Doen ons te veel, voel ons oorstuur en buite beheer. Ons dink graag aan onsself as individualiste, tog meet die meeste van ons onsself (en mekaar) aan die standaard wat ander stel. Die meeste mense wat ek ken, is bolangs heel gelukkig, maar krap so bietjie aan die oppervlaklagie, dan is daar by baie ’n ontevredenheid. Ons wil graag ’n betekenisvolle lewe leef, maar ou leefpatrone is soms so gevestig dat ons aanhou wens dinge kon anders wees, sonder om die ongemak aan te durf van nuwe gewoontes aan te leer om sinvolheid te ervaar. Ons weet dat die lewe oor meer gaan as eet-en-drink-en-’n-lekker-tyd-hê, maar min sal dieselfde hoeveelheid energie aan dieper dinge bestee teenoor om die alledaagse bloot in stand te hou.

    Inderdaad ’n vreemde wêreld. Met nog vreemder mense wat daarop woon.

    ’n Soeke na … méér

    Sou dit waar wees dat mense se grootste potensiaal nie opgesluit is in hul intellektuele vermoëns nie, maar wel in hul verbeeldingskrag? Dalk is dit wat Richard Forster dan bedoel as hy in sy klassieke boekie, Celebration of Discipline, skryf dat die wêreld nie ’n behoefte aan slimmer of begaafder mense het nie. Daarvan is daar baie! Die wêreld het ’n dringende behoefte aan dieper mense. Ons wil graag vooruitgaan (en dit is waarvoor stewige dosisse intellek nodig is), maar vooruitgang is nie ons dringendste nood nie. Die wêreld se sug is – dringender en dringender – na verdieping. Om ’n vriend aan te haal: Ons het genoeg kundigheid om baie staalbrûe in ons land te bou, maar ons kort kundiges om ons te help om die afgebreekte brûe tussen gemeenskappe te herstel.

    Kyk ek om my dan weet ek dit is waar. Oppervlakkigheid is die strik waarin ons almal se enkels verstrengel raak; kitsbevrediging is die struikelblok waarteen ons met toe oë onsself nerfaf stamp. Kits-kos; kits-winkeldienste; kits-antwoorde; kits-verligting. Ons hou van vinnige, maklike, gerieflike, selfhelp-idees. Dit moenie te moeilik wees nie, want dan verloor ons belangstelling: Tien maklike treetjies hemel toe (Dit is nou as ’n mens nog aan die hemel glo, bygesê). Sukses moet gewaarborg wees, want deursettingsvermoë en geduld is nie juis ons sterk punt nie. Allermins blink ons in sukkel uit! Eet wat jy wil en verloor gewig is veel meer bemarkbaar aan ’n ek-wou-dit-gister-al-gehad-het verbruiker as Verander jou leefstyl … langsamerhand … permanent.

    Hoog vlieg! Hard leef!

    Tussendeur word ons gebombardeer met suikerlagie-beloftes van gemaklik, lekker, suksesvol, dinamies. Tog, daar is oral protesterende stemme wat ons waarsku dat hierdie leefstyl nie op die lange duur vir ons (en vir die wêreld waarin ons leef) volhoubaar is nie. ’n Leefstyl van selfgerigtheid en selfverryking hou sy eie ondergang in hom opgesluit. Wat ons vooruitgang noem, is subtiele ondergang. Iemand gaan die een of ander tyd die prys van ons selfgerigte leefstyl betaal – al is dit dan die geslagte ná ons wat swaar gaan dra aan die sondes van vandag se vaders en moeders.

    In my spreekkamer hoor ek mans én vroue, volwassenes én tieners, welaf én hulpbehoewend, gereeld sinne gebruik soos:

    "Dit voel asof ek myself nie ken nie.";

    "Bolangs dink my kollegas ek is so kalm, maar as hulle net weet … ";

    "My deurmekaar lewe is eintlik net ’n metafoor van my deurmekaar binneste.";

    "Ek voel buite beheer."

    Alles gaan eintlik oor ’n enkele sug: Daar moet tog méér wees aan die lewe as dít! Wanneer iemand met soveel klem daardie woordjie dít uitspreek, weet ons gewoonlik instinktief wat die persoon bedoel, al het ons nie dadelik ’n naam daarvoor nie. Ons almal ken die dít; ons almal kla daaroor. Iets … dít … is besig om, soos ’n parasiet, die lewe uit ons te suig. Wat die méér as dit moet wees, daaroor krap ons kop! Die wete dat ons nie die méér as dit het nie, laat ons met ’n leë, onvervulde gevoel. Ons voel verneuk. Iets skort en ons kan net nie ons vinger daarop plaas nie. Luister bietjie na hoeveel keer mense om jou hul ontvlugtingsbehoeftes verwoord: Dalk moet ons platteland toe trek? Kom mense op die platteland, dan sit dít hulle en inwag op die voorstoep. As ek maar net ’n jaar kon afvat om by myself uit te kom. Asof jy ooit van jouself af weg was om nou by jouself te moet uitkom?

    ’n Soeke na … wakker wees

    Allermins wil ek ’n prentjie skilder van ’n lewe wat net tollend op ’n afdraande-pad-na-vernietiging voortspoed (as gevolg van ons verslawing aan voorspoed); dat dit jou eintlik meer neerslagtig laat as opgewonde oor die geskenk dat jy vandag leef. Glad nie. Daar is baie mense wat ek ken wat op die op-julle-merke-gereed-leefstyl floreer. Daar is selfs nog meer mense wat ek ken wat nie eers vreeslik nadink oor hul tipe leefstyl nie. Vat dit soos jy dit kry is ’n gewilde motto van menige. Inderdaad het iemand al selfs vir my, heel tongklikkend, gesê: Dit is omdat jy nie genoeg sports (opwinding?) in jou lewe het nie, dat jy so broei oor die lewe. Get a life!

    Tog wil dit nie vir my lyk asof genoeg sports aan mense die regte sleutel gee waarmee hulle die deur na vervuldheid kan oopsluit nie. Dit is juis waarmee ek my besig hou, nie net met die skryf van hierdie boek nie, maar in my daaglikse nadenke as ’n teoloog en ’n medereisiger op hierdie pad genaamd Lééf: die vraag oor hoe ’n lewe van heelheid en dieper welsyn dan lyk. Hoe lyk vervuldheid? Wat my interesseer (en ek beskou dit as my roeping) is om na te dink (en mense te begelei wat daarna vra) oor wat Johannes se woorde sou kon beteken dat Jesus gekom het om vir ons die lewe te gee, … en dit in oorvloed. Hoe lyk so ’n lewe? Sê nou maar net ons sou nie tevrede wees met oppervlakkigheid nie? Hoe sou ’n lewe lyk waar ons nie met slaapwandelaarstatus tevrede is nie, maar werklik wakker is om die volle lewe te ervaar?

    Mense wat asemhaal maar nie werklik leef nie, is nie ’n moderne probleem nie. Gaan blaai in die Ou Testament rond. Jesaja skryf etlike kere: Word wakker, Israel! Elke keer met sulke groot uitroepe. Klaarblyklik was dit nie net die Jode, en later die Christene, wat met hierdie slapende-wakkerwees sukkel nie. Doer ver van die Midde-Ooste af, Indië se kant toe, min of meer in dieselfde tyd as wat Jeremia en Jesaja geleef het, sit nog ’n man en filosofeer oor mense wat halfpad leef in plaas van voluit. Volgens die Boeddha (wat die Pali-woord is vir die een wat ontwaak het) leef die meeste mense nie werklik nie. Wat hy rondom hom sien, is mense wat die grootste deel van hul lewe in ’n slaaptoestand deurbring. Hulle leef, ja, maar hulle is nie wakker nie.

    My Boeddhisvriend verduidelik dit só aan my: Volgens die Boeddha gaan die meeste mense deur die lewe asof in ’n droom. Hulle is in die vlees teenwoordig, maar hul gees is afwesig, onbewus van wat rondom hulle is. Om te ontwaak (of, in ander woorde, soos wat volgelinge uit hierdie tradisie glo: om ’n Boeddha te word) is om wakker te skrik en te sien wat werklik rondom jou aangaan. En toe vertel hy vir my hierdie besondere storie juis om die punt te illustreer:

    Nadat die Boeddha wakker geword het (met ander woorde, nadat hy die insigte gekry het wat skielik vir hom … aha … die sin van die lewe openbaar het), het ’n medereisiger hom op sy reis teëgekom. Die man was verwonderd oor die gevoel van vrede en kalmte wat hy in die Boeddha se teenwoordigheid ervaar het. Hy kon hom verkyk aan die man se stralende gesig. Hy moes eenvoudig weet: My vriend, wat is jy? Is jy ’n bonatuurlike wese, ’n god dalk? Nee antwoord die Boeddha. Wel dan, is jy ’n wonderwerker of ’n towenaar? Weer eens antwoord die Boeddha, Nee. Is jy dan een van ons? Nee. Maar my vriend, wat is jy dan? Die Boeddha antwoord: Ek is wakker.

    Om die geheim van die lewe te verstaan, het duidelik iets te make met ontwaking. Net ’n eeu of wat, nadat Paulus ’n bekende liedjie van sy tyd in ’n brief vir ’n groepie Christene aanhaal: Kom, kom, kom, Efese, word wakker julle wat slaap en staan op uit die dood, skryf die biskop van Lyon, Irenaeus, hierdie wysheid: God word verheerlik deur iemand wat werklik leef. Baie mense ken die woorde van Irenaeus in Engels: The glory of God is a human fully alive. Waarom sou Irenaeus dit gesê het? Dit is seker ’n logiese afleiding dat Irenaeus met hierdie woorde sy tydgenote wou wakker maak deur hulle te herinner dat die manier waarop hulle leef, ’n refleksie is van hoe hulle oor God dink. Dit moes sekerlik tog as ’n aanmoediging dien vir die mense van sy tyd om te verstaan dat God se verheerliking nie deur ’n halwe lewe kan gebeur nie, nie waar nie?

    Nie net die Christene of selfs mense onder ’n Bodi-boom in Indië wonder hieroor nie. Dit is ’n menslike probleem, ongeag waar jy leef. Dalk ken jy hierdie woorde van Rumi, ’n dertiende-eeuse digter, filosoof en Soefi (’n mistiese uitdrukkingsvorm van Islam):

    Waarom, as God se wêreld so groot is, het jy in ’n tronk – van alle plekke – aan die slaap geraak?

    Dit is asof ’n mens die verbasing van iemand hoor wat uitroep, waarom is jy met tweede beste (of selfs derde of vierde) tevrede as jy die beste aangebied is? Hoekom is jy – dan nog boonop uit vrye keuse – ’n gevangene in ’n selfgemaakte tronk? En dít terwyl God se hele skepping tot jou beskikking is om jou lewe in uit te kan leef!

    Ek wil my eie altstem by die dreunsang voeg; al helder wordende uit die vuur: Dit is nie hoe dit bedoel is om te wees nie! Ons kan nie ons vaal lewe verryk met korttermynkragtoertjies nie. Ons het nie meer sports nodig nie. Ons het nie méér en groter en suksesvoller nodig nie. Ons het dieper nodig!

    ’n Soeke na … die verlore siel

    Diepte het klaarblyklik nie met dinge van buitekant af te make nie. Diepte is iets wat van binnekant af kom. Dit het met sielsdinge te make. Sommer op die heel eerste bladsy van die bekende werk van Thomas Moore, Care of the Soul, skryf hy: Die groot siektetoestand van die twintigste eeu waaruit al ons probleme spruit, wat ons, nie net as individue nie, maar ook as samelewing raak, is dat ons ons siel verloor het. Thomas Moore waarsku ons dat wanneer sielsdinge afgeskeep word, sterf dit nie maar net ’n stille dood nie. Dit is nie maar soos ’n ledemaat wat nie gebruik word nie en dan mettertyd net slap en nutteloos langs jou lyf hang nie. ’n Afgeskeepte siel laat haarself nie so maklik flous nie, sy manifesteer op verskeie ander plekke as simptome om te wys iets is fout: as obsessies, verslawings, geweld, en ja, ook in die gevoel van betekenisloosheid. Ek hoef jou sekerlik nie daarvan te probeer oortuig dat ons die verlies van siel daagliks om ons sien nie. Self hoef ek nie eens aan voorbeelde uit ander se lewe te dink nie, ek kan sommer na my eie kyk: Die idee dat my waarde deur my produktiwiteit bepaal word, verlei my om net altyd nog besiger te moet wees; die idee dat ’n besige lewe ’n vol lewe is, maak van my iemand wat geluk in dinge buite myself soek. En so sou ek kon aanhou …

    Dit is nie net individue wat sielskrisisse beleef

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1