Bouches-du-Rhône
Bouches-du-Rhône (13) | |
---|---|
Gewes | Provence-Alpes-Côte d'Azur |
Prefektuur | Marseille |
Onderprefekture | Aix-en-Provence Arles Istres |
Bevolking | 2 043 110 inw. (2019) |
Bevolkingsdigtheid | 400 inw./vk km |
Oppervlakte | 5 087 vk km |
Arrondissemente | 4 |
Kantonne | 57 |
Munisipaliteite | 119 |
President van die Conseil général |
Martine Vassal |
Bouches-du-Rhône [buʃdyˈʀoːn] (Oksitaans: Bocas de Ròse) is 'n Franse département aan die Middellandse See en vernoem na die Rhône-rivier wat hier in die see uitmond. Sy prefektuur (hoofstad) is Marseille, sy onderprefekture Aix-en-Provence, Arles en Istres. Die département maak deel uit van die gewes Provence-Alpes-Côte d'Azur.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die eerste menslike nedersettings in die gebied van die huidige département het sowat 400 000 jaar gelede ontstaan. Sowat 25 000 jaar gelede het die destydse bewoners tonele uit hulle lewe op die byna ontoeganklike rotswande van die Cosquer-grot uitgebeeld. Hierdie muurskilderye is eers in die 20ste eeu ontdek.
Sowat 2 600 jaar gelede is die destydse Massalia (tans Marseille) ná die huwelik van 'n Griekse seevaarder en 'n Liguriese prinses as die eerste stad in Frankryk gestig. Die stad is later ná 'n beleg van ses maande deur Gaius Julius Caesar en sy troepe ingeneem.
Maar die Romeine was nie die laaste vreemde heersers nie. Die gebied is later nog deur die Wes-Gote, Boergondiërs en Oos-Gote verower.
Die huidige département is gedurende die Franse Rewolusie op 4 Maart 1790 deur vader Sieyès, 'n afgevaardigde in die Konstitusionele Vergadering (Frans: Constituante), geskep. Veral die bewoners van die omgewing van Aix-en-Provence, die geboortestad van Mirabeau, was getroue aanhangers van die rewolusionêre beweging.