Goudverbod
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
'n Goudverbod behels die algehele verbod op die private besit, handel en verspreiding van die edelmetaal goud; dit kom alleen die staat toe. Gewoonlik bepaal die regering dan, kragtens die wet, dat die goud wat in die private besit is by die staat ingedien moet word, in ruil vir die land se betrokke geldeenheid.
Uitvoering van die wet
[wysig | wysig bron]Ingevolge die goudverbod moet privaatpersone hul goud (hetsy in goudmunt-, staafgoud-, goudklont- of goudsertikaatvorm) aan die staat oorhandig, waarna vergoeding uitgekeer sal word in die (depresiërende) nasionale munteenheid. Slegs juwele en muntversamelings onder 'n vasgestelde bedrag is gewoonlik toelaatbaar; in die VSA in die jaar 1933 is die waarde byvoorbeeld op $100 vasgestel. Diegene wat dikwels van hierdie wetgewing verskoon word sluit beroepslui in wat hul brood met goud verdien, of met goud werk, soos juweliers, ambagslui (bv. goudsmede) en tandartse. Ten tyde van die Derde Ryk was sowel die privaat- as kommersiële besit van goud verbode.
'n Goudverbod is meestal tekenend van 'n staat wat in 'n valutakrisis gedompel is, miskien toe te skryf aan slegte grondliggende makro-ekonomiese faktore (byvoorbeeld hoë staatskuld), met die gevolge dat die vaste wisselkoers drasties oorgewaardeer raak. Die beleggers verwag 'n regstelling van hierdie wisselkoerspariteit oor die langtermyn; deur hul "spekulasie teen die munt" word die krisis op die spits gedryf. Omdat hulle 'n sterk afwaartse aanpassing (en waardevermindering) verwag, vermy die beleggers sover moontlik die onsekere geldeenheid en belê in edelmetale (goud, silwer, platinum) en ander vreemde valutas wat veiliger skyn te wees ('kapitaalvlug'). Om die munteenheid te red, gryp die regering dan in deur 'n stel wette en verordenings uit te vaardig om hierdie einste edelmetale en vreemde valuta te bekom. In der waarheid word hierdie in beslag genome goud, van veel hoër waarde as die fiatgeld self, gebruik om noodsaaklike invoere te finansier.
Die goudverbod gaan meestal gepaard met straf (soos verbeurdverklaring van die goud by versuiming) of soortgelyke dreig- of dwangmiddele. Omrede hierdie verbod inbreuk maak op die vrye eiendomsreg, is hierdie verbode artikels onderhewig aan spesiale regsvereistes. Al hierdie wetgewing maak egter geen hond haaraf nie, want die individue rep eenvoudig geen woord oor hul goudbesittings nie, en gee nie 'n duit vir die staat nie. Verder ken die land waar goud verbode is 'n ongekende bloei in die goudsmokkelary en sluikhandel (teen 'n aansienlike hoër bedrag), of die landsburgers gaan doen gewoon hul goudkopies in die buiteland.