Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                
Gaan na inhoud

John Molteno

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
John Charles Molteno
John Molteno
Sir John Charles Molteno

Eerste Minister van die Kaapkolonie
Ampstermyn
1 Desember 1872 – 5 Februarie 1878
Voorafgegaan deur Amp geskep
Opgevolg deur Gordon Sprigg

Persoonlike besonderhede
Gebore 5 Junie 1814
Londen, Verenigde Koninkryk
Sterf 1 September 1886

Sir John Charles Molteno (Londen, 5 Junie 1814Kaapstad, 1 September 1886) was soldaat, sakeman, voorstander van verantwoordelike regering en die eerste Kaapse eerste minister.

Vroeë jare

[wysig | wysig bron]

Molteno is in Londen gebore as lid van 'n groot Anglo-Italiaanse gesin en emigreer na die Kaap in 1831 in die ouderdom van 17, waar hy werk as assistent in die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek in Kaapstad. Op 23 begin hy sy eerste handelsmaatskappy, Molteno & Co., wat wyn, wol en aalwyne na Mauritius en die Wes-Indiese Eilande uitgevoer en mettertyd op talle plekke in die kolonie takke oopgemaak het.

Later het hy sy maatskappy verkoop en talle plase in die distrik Beaufort-Wes gekoop, waar hy met welslae met merinoskape begin boer en die Nelspoort-landgoed geskep het. Hier vestig hy hom in 1843. Hy het ook die eerste bank op die dorp, Alport & Co., opgerig. Nadat sy eerste vrou en kind tydens die bevalling oorlede is, het hy in 1846 na die Oos-Kaapse grens gegaan waar hy in die Oorlog van die Byl (Sewende Grensoorlog) veg. Ten tyde van sy tweede huwelik in die dekade na 1860 het die Kaapse ekonomie in 'n resessie verkeer. Molteno verhuis terug na Kaapstad waar hy die landgoed Claremont House koop, in wat vandag die voorstad Claremont is.

Politieke loopbaan

[wysig | wysig bron]

Molteno is reeds in 1854 tot die Kaapkolonie se wetgewende vergadering verkies as lid vir Beaufort-Wes. Dié amp het hy veral gebruik om hom te beywer vir verantwoordelike regering vir die kolonie. Sy ervaring in die grensoorlog het hom 'n weersin gegee in wat hy beskou het as die onbevoegdheid van koloniale regering in Suider-Afrika en hom 'n lewenslange voorstander van doeltreffende plaaslike regering gemaak.

Toe goewerneur sir Henry Barkly uit Londen na die Kaap gestuur word met die mandaat om verantwoordelike regering vir die kolonie in te voer, het Molteno die wetsontwerp deurgevoer en word hy in 1872 die eerste Kaapse eerste minister. Sy kommissaris van openbare werke was John X. Merriman, uiteindelik van 1908 tot Uniewording in 1910 die Kaap se laaste eerste minister.

Molteno se eerste taak was om die kolonie se finansies reg te ruk. Die nuutgevonde inkomste uit die diamant- en volstruisbedryf het hy gebruik om die Kaap se opgehoopte skuld te delg en het groot belê in infrastruktuur, waaronder die telegraafstelsel en 'n ambisieuse spoorwegprojek. Hy het ook die landboubedryf help herleef en was die grondlegger van wydlopende besproeiingstelsel. Namate uitvoer toegeneem het, het die Kaapse ekonomie herstel sodat daar 'n redelike oorskot op die begroting was aan die einde van sy ampstermyn. Hy was regeringshoof tydens die Negende Grensoorlog in 1877, 'n sterk teenstander van verdeeldheid in die kolonie en het baie moeite gedoen om die verdeeldheid tussen die Westelike en Oostelike Provinsie te oorbrug. Ook het hy teenstanders se voorstelle gekeer om die gewapende magte van die Kaap op rassegrondslag te skei. Tydens sy bewind is die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop gestig, wat mettertyd ontwikkel het tot die hedendaagse Unisa, asook die Victoria-kollege, voorloper van die Stellenbosse universiteit.

Molteno se administrasie het deurgaans sterk teenkanting teen imperiale inmenging in die Kaap se aangeleenthede gebied. Hy het byvoorbeeld in 1875 geweier om aan die Britse minister van kolonies lord Carnarvon, se konferensie oor die federasie van verskeie Suider-Afrikaanse kolonies by te woon, vanweë die minister se taktlose optrede. Carnarvon het minister geword ná 'n bewindsverandering in Londen wat gelei het tot 'n sterk pro-imperiale beweging wat 'n federasie of konfederasie op suidelike Afrika wou afdwing. Die Kaapse regering het gereken so 'n beweging moes vanuit die subkontinent self kom en het die imperiale regering se voorskriftelike ingesteldheid onwrikbaar teengestaan.

In 1876 het Molteno wel Engeland besoek, maar weer geweier om 'n konferensie oor federasie by te woon. Uiteindelik het hy teësinnig tot inlywing van Griekwaland-Wes by die Kaapkolonie ingestem. Van 1877 tot 1878 voer hy 'n langdurige stryd met sir Henry Bartle Frere, goewerneur, oor sy diktatoriale optrede ten opsigte van federasie en die militêre leiding. Frere is aangestel in die plek van goewerneur Henry Barkly, wat afgedank is deur die Koloniale Kantoor. Die nuwe goewerneur het die Kaapse kabinet op 3 Februarie 1878 verdaag, die einde van Molteno se premierskap omdat hy, ondanks herhaalde uitnodigings, volstrek geweier het om weer dié amp te beklee. Vanweë Frere se gebrekkige kennis van die Suider-Afrikaanse omstandighede het die poging om 'n federasie daar te stel, heeltemal skipbreuk gely en volg 'n reeks oorloë, waaronder die Anglo-Zoeloe-oorlog en die Eerste Vryheidsoorlog. Frere is in 1880 na Londen ontbied om aanklagte van wanbestuur in die gesig te staar.

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]

Die stelsel van verantwoordelike regering soos dit onder Molteno ingevoer en gehandhaaf is, het universele stemreg gewaarborg, ingevolge waarvan alle mans, mits hulle aan sekere kwalifikasies voldoen het, kon stem. Dit was in skrille teenstelling met die ander Suider-Afrikaanse kolonies en state en sou in die een of ander vorm voortleef tot die Nasionale Party in die dekade ná 1950 ná 'n lang stryd die bruin kiesers van die gemeenskaplike kieserslys in Kaapland verwyder het (sien Kleurlingstemregvraagstuk).

Die Oos-Kaapse dorp Molteno en die Moltenopas in die Wes-Kaap is na hom vernoem. Hy was die vader van die laaste speaker van die Kaapse Wetgewer en die eerste speaker van die Unie-Parlement (1910 tot 1918), sir James Molteno.

Laaste jare

[wysig | wysig bron]

Molteno het uit die openbare lewe bedank. Koningin Victoria het hom in 1882 tot ridder geslaan. Die "Leeu van Beaufort" is op 1 September 1886 in Claremont oorlede en daar begrawe.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Albertyn, dr. C.F. (red.), 1972. Afrikaanse Kinderensiklopedie. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.
  • Rosenthal, Eric, 1978. Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town, Wetton, Johannesburg: Juta and Company Limited.