Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                
Gaan na inhoud

Adolf Hitler

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Adolf Hitler
Adolf Hitler
Adolf Hitler in 1937

Führer van Nazi-Duitsland
Ampstermyn
2 Augustus 1934 – 30 April 1945
Vise Rudolf Hess (1933–1941)
Posisie vakant
Voorafgegaan deur Paul von Hindenburg (as President)
Opgevolg deur Karl Dönitz (as President)

Kanselier van Duitsland
Ampstermyn
30 Januarie 1933 – 30 April 1945
Vise Franz von Papen (1933–1934)
Pos vakant
President Paul von Hindenburg (tot 1934)
Voorafgegaan deur Kurt von Schleicher
Opgevolg deur Joseph Goebbels

Reichsstatthalter van Pruise
Ampstermyn
30 Januarie 1933 – 30 April 1945
Eerste minister Franz von Papen
Hermann Göring
Voorafgegaan deur Amp geskep
Opgevolg deur Amp afgeskaf

Persoonlike besonderhede
Gebore 20 April 1889
Braunau am Inn, Oostenryk-Hongarye
Sterf 30 April 1945
Berlyn, Nazi-Duitsland
Politieke party Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty
Eggenoot/-note Eva Braun (29–30 April 1945)
Handtekening

Militêre Diens
Lojaliteit Vlag van Duitse Keiserryk Duitse Keiserryk
Diens/Tak Vlag van Duitse Keiserryk Reichsheer
Jare in diens 1914–1920
Rang Gefreiter
Eenheid 16de Beierse Reserwe-Regiment
Oorloë/Veldslae Eerste Wêreldoorlog
Toekennings Ysterkruis (1ste en 2de klas)

Adolf Hitler (* 20 April 1889 in Braunau am Inn, Opper-Oostenryk; † 30 April 1945 in Berlyn) was 'n politikus wat tussen 1934 en 1945 leier van die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (die Nazi-party) was.

In die Eerste Wêreldoorlog was hy 'n Oostenrykse soldaat in die Beierse (Duitse) krygsmag. In 1925 het Hitler vrywillig afgesien van sy Oostenrykse burgerskap, en in 1932 is danksy die hulp van Rudolf Hess Duitse burgerskap aan hom toegestaan.

Op 30 Januarie 1933 is hy ingesweer as kanselier van Duitsland en in 1934 het hy ook die titel Führer (leier) van Nazi-Duitsland bygekry. Hy het politieke voordeel getrek uit die ekonomiese krisis wat Duitsland tydens die Groot Depressie vanaf 1929/1930 deurgemaak het.

Sy bedeling was verantwoordelik vir die dood van 'n beraamde twintig miljoen mense en ontelbaar baie se verskuiwing. Hitler, 'n begaafde spreker, word gesien as een van die invloedrykste en gevaarlikste leiers van die 20ste eeu.

Sy pogings om die Duitse grondgebied deur politieke druk en militêre optrede uit te brei, wat begin het met die inname van Pole in 1939, was een van die aanleidende faktore van die Tweede Wêreldoorlog. Teen die einde van die oorlog het hy en sy gade Eva Braun in die Berlynse Führerbunker selfmoord gepleeg.

Herkoms en jong lewe

Hy is naby die Duits-Oostenrykse grens gebore as seun van Alois en Klara (née Pölzl) Hitler. Hy was baie skugter en kon daardeur nie goed presteer op die middelbare skool nie. In sy 16de lewensjaar het hy die skool sonder diploma verlaat.

Loopbaan as leier van die Nazi-party

Benito Mussolini (links) en Adolf Hitler (regs)
Troepe marsjeer verby Hitler

Hitler, wat vanaf Julie 1921 as voorsitter van die Nazi-party gedien het, het in November 1923 'n poging aangewend om die demokraties verkose regering van die Republiek van Weimar deur 'n staatsgreep vanuit Beiere omver te werp. Met die eerste boekdeel van sy verhandeling Mein Kampf, wat in 1925 gepubliseer is, het hy die grondslag vir die antisemitiese en rassistiese ideologie van nasionaalsosialisme gelê.

Op 30 Januarie 1933 is Hitler deur die Duitse rykspresident Paul von Hindenburg as rykskanselier benoem. Binne enkele maande het sy bewind, waarin naas nasionaalsosialiste ook ekstreemregse ministers van die Duits-Nasionale Volksparty verteenwoordig was, deur middel van terreur, noodtoestandswetgewing, wette oor gelykskakeling en verbode, wat op opposisionele partye en groeperings geplaas is, die pluralistiese demokratiese en federale regeringstelsel net soos die regstaatlike bedeling omvergewerp. Politieke teenstanders is in hegtenis geneem en in konsentrasiekampe aangehou, gemartel en vermoor. Ter geleentheid van die sogenaamde Röhm-staatsgreep het hy ook van potensiële mededingers binne sy eie partygeledere ontslae geraak. Hindenburg se afsterwe op 2 Augustus 1934 was vir Hitler 'n welkome geleentheid om die ampte van Rykskanselier en Rykspresident te verenig.

Teen die Joodse bevolking in Duitsland is vanaf 1933 toenemend gediskrimineer. Duitse Jode is gaandeweg van hul burgerregte ontneem, veral deur die sogenaamde Neurenbergse Wette wat in September 1935 afgekondig is, en die pogroms van November 1938. Met sy bevele om die Duitse weermag te herbewapen en die Rynland te beset, het Hitler in 1936 bepalinge van die Verdrag van Versailles verbreek. Die Nasionaal-Sosialistiese propaganda het sy ekonomiese, sosiale en buitelandse beleid as 'n groot sukses voorgestel en sodoende tot en met 1939 sy enorme gewildheid onder groot dele van die Duitse bevolking verseker.

In 1938 het Hitler homself tot opperbevelhebber van die weermag verklaar en Oostenryk se aansluiting by die Duitse Ryk bewerkstellig. Die München-ooreenkoms, wat op 30 September 1938 onderteken is en waarin ander Europese moondhede die inlywing van die Duitssprekende Sudeteland in Tsjeggo-Slowakye by die Duitse Ryk aanvaar het, het Hitler reeds op 15 Maart 1939 verbreek deur die res van Tsjeggo-Slowakye binne te val. Sy bevel om Pole in September 1939 binne te val het tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in Europa gelei.

Op 31 Julie 1940 het hy sy besluit om die Sowjetunie ook aan te val aan die opperkommando van die Duitse weermag bekend gemaak. Die oorlog teen die Sowjetunie, wat op 22 Junie 1941 begin het, het Hitler onder die skuilnaam Unternehmen Barbarossa as 'n vernietigingsveldtog beplan en gevoer om "lewensruimte" in die ooste te verower.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse Nasionaal-Sosialiste en hul buitelandse ondersteuners ongekende massamisdade en volksmoorde gepleeg. Reeds in die somer van 1939 het Hitler die bevel gegee om die genadedood van volwassenes voor te berei. Tydens die sogenaamde Aktion T4 is tussen September 1939 en Augustus 1941 meer as 70 000 sielsiekes en geestelik en liggaamlik gestremdes stelselmatig vermoor. Ander vorme van Nasionaal-Sosialistiese genadedood het ten minste 190 000 mense se lewens geëis.

In die Porajmos is na raming tot 500 000 Sinti en Roma en in die Sjoa tussen 5,6 en 6,3 miljoen Jode vermoor. Hitler het persoonlik toestemming vir die belangrikste stappe van die Joodse volksmoord verleen en verslae oor die verloop daarvan aangevra.[1] Sy kriminele beleid en oorlogvoering het miljoene mense se lewens geëis, terwyl groot dele van Duitsland en Europa deur oorlog in puin gelê is.

Dood

Hitler en sy vrou Eva Braun (met wie hy die vorige dag getroud is) het op 30 April 1945 selfmoord gepleeg in die bomskuiling geleë onder die Duitse kanseliergebou. Hitler het versoek dat die oorblywende bomskuilers sy en Eva se liggame neem en buite in die kanseliertuin verbrand. Hitler wou nie hê sy lyk moes soos 'n tentoonstelling vertoon word nie. Sonder 'n liggaam om uit te ken het gerugte vinnig die rondte gedoen dat Hitler ontsnap het. Van so ver af as Suid-Amerika het mense hom "gesien". Eers in 2000 het Rusland onthul dat hulle 'n fragment van sy skedel gebêre het.

Sien ook

Verwysings

  1. Ian Kershaw: Adolf Hitler und die Realisierung der nationalsozialistischen Rassenutopie. In: Wolfgang Hardtwig: Utopie und politische Herrschaft im Europa der Zwischenkriegszeit. München: Oldenbourg 2003, bl. 143

Bronnelys

  • Weinberg, Gerhard (1995). "Hitler and England, 1933–1945: Pretense and Reality". Germany, Hitler, and World War II: Essays in Modern German and World History. Cambridge: Cambridge University Press. ISBN 978-0-521-47407-8.
  • Weinberg, Gerhard (2010) [2005]. Hitler's Foreign Policy 1933–1939: The Road to World War II. New York: Enigma. ISBN 978-1-929631-91-9.
  • Weir, Todd H.; Greenberg, Udi (2022). "Religious Cultures and Confessional Politics". In Rossol, Nadine; Ziemann, Benjamin (reds.). The Oxford Handbook of the Weimar Republic. Oxford; New York: Oxford University Press. ISBN 978-0-19-884577-5.
  • Welch, David (2001). Hitler: Profile of a Dictator. London: Routledge. ISBN 978-0-415-25075-7.
  • Wheeler-Bennett, John (1967). The Nemesis of Power. London: Macmillan. ISBN 978-1-4039-1812-3.
  • Wilt, Alan (Desember 1981). "Hitler's Late Summer Pause in 1941". Military Affairs. 45 (4): 187–191. doi:10.2307/1987464. ISSN 0026-3931. JSTOR 1987464.
  • Winkler, Heinrich August (2007). Germany: The Long Road West. Vol. 2, 1933–1990. Sager, Alexander (trans.). New York: Oxford University Press. ISBN 978-0-19-926598-5.
  • Ziemke, Earl F. (1969). Battle for Berlin: End of the Third Reich. Ballantine's Illustrated History of World War II. Vol. Battle Book #6. London: Ballantine Books. OCLC 23899.

Eksterne skakels