NG gemeente Queenstown
Die NG gemeente Queenstown is die 54ste oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die 10de oudste in die Sinode van Oos-Kaapland. Dit is as onderskeidelik die 55ste en 11de gestig, maar het een plek opgeskuif met die samesmelting van 'n ouer Oos-Kaapse gemeente, Middelburg, met daardie gemeente se dogtergemeente, Middelburg-Uitsig. Dit was een van vier gemeentes wat in 1853 gestig is. Die ander drie was almal in die teenswoordige Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland: Robertson op 19 Januarie, Oudtshoorn op 11 Oktober en Darling ook in Desember.
Die dorp Queenstown is in September 1853 gestig en die gemeente drie maande later. Sowel Ons gemeentelike feesalbum van 1952 as Ons Kerk Album van 1917 gee die stigtingsdatum van Queenstown aan as "vroeg in die jaar 1854", toe dit van die moedergemeente, Cradock, afgestig het, maar die gemeente self gee die datum aan as 16 Desember 1853.[1]
Stigting
[wysig | wysig bron]Ná die afstigting van die gemeente het die konsulent, ds. John Taylor van Cradock op 5 Maart 1854 die eerste erediens waargeneem. Hy het ook die eerste kerkraadsvergadering op 6 Maart 1854 gelei. Eredienste is aanvanklik in die Wesleyaanse kerkgebou gehou. Met die stigting van die dorp Queenstown ontvang die nuwe gemeente 45 erwe.
'n Belangrike mylpaal vir die gemeente is bereik op 22 Oktober 1855 toe William Shepstone, siviele kommissaris van die distrik, die hoeksteen van die kerkgebou lê waarin die gemeente byna 70 jaar lank sou aanbid. Ook teenwoordig tydens die hoeksteenlegging was di. John Pears van Somerset-Oos en Andrew Murray sr. van Graaff-Reinet. Die inwyding van dié eerste kerk het eers op 22 Januarie 1859 plaasgevind. Weer was ds. Pears (toe die konsulent) teenwoordig, tesame met di. Georg Stegmann van Glen Lynden en Thomson (waarskynlik ds. W.R. Thomson, eerste leraar van die NG gemeente Stockenström).
Eerste leraar
[wysig | wysig bron]Eers ses jaar ná die afstigting verwelkom Queenstown sy eerste predikant in die persoon van ds. S.P. Naudé, wat op 18 April 1860 beroep en op 18 September daardie jaar bevestig is. Reeds in 1858 is ds. John Murray van Burgersdorp beroep, maar hy het die beroep bedank en kort daarna professor aan die kort vantevore gestigte Kweekskool op Stellenbosch geword. Die beroep op ds. Naudé was die vyfde. Hy arbei byna 50 jaar lank in die gemeente tot aan sy dood op 26 Julie 1909. Ds. Naudé het sy opleiding geniet in die teologie en filologie in Utrecht in Nederland en Bonn in Duitsland. Hy het hom onderskei deur sy letterkundige talent, wat hy lewenslank beoefen en waarvan sy biblioteek 'n sprekende bewys was. Hy dien jare lank as voorsitter van die Ring van Graaff-Reinet en beklee ook vele posisies van eer in die gemeenskap van Queenstown. Hy is beskryf as 'n baie vriendelike mens en is wyd geag. Hy kon oortuigend praat en harte aanroer en het 'n sterk invloed uitgeoefen teen openbare sondes.
Latere leraars
[wysig | wysig bron]Ds. Naudé se opvolger was ds. D.J. Malan wat op 2 Mei 1909 georden is en hier werksaam was tot 26 Junie 1916, toe hy opgevolg word deur P.A. Alheit, wat bevestig is op 25 November 1916. Hy was 'n seun van ds. W.A. Alheit, wat drie gemeentes bedien het waarvan twee in die huidige Oos-Kaaplandse Sinode val, naamlik Colesberg van 1878 tot 1885 en Dordrecht van laasgenoemde jaar tot 1894. Ds. P.A. Alheit was 'n kleinseun aan moederskant van ds. P.K. Albertyn, leraar eers van Prins Albert en daarna Caledon.
Ds. Alheit bly hier tot 1922 en daarna kom ds. P.J. du Plessis aan die beurt van 1923 tot 1929, ds. T.C.B. Stofberg van 1930 tot 1940 en dr. Louis Viljoen Rex van 1941 tot 1946. Ds. P.A. de Wet bly net twee jaar van 1947 tot 1949. Ook in 1947 is ds. M.G. Mynhardt bevestig en vier jaar later ds. J.J. Struwig. Eersgenoemde bly tot 1953 en laasgenoemde tot 1955.
Nuwe kerkgebou
[wysig | wysig bron]Weens die snelle uitbreiding van die gemeente moes die kerkraad in 1924 oorgaan tot die bou van 'n ruimer kerk. Die hoeksteen van dié toringkerk is deur ds. P.J. du Plessis op 2 Februarie 1924 gelê en die inwyding het op 18 April 1925 plaasgevind. Die argitek was Wynand Louw, die eerste Afrikaanse argitek, en die ontwerp van die kerk, wat vandag nog in gebruik is, herinner sterk aan Gerard Moerdijk, enkele jare lank Louw se vennoot, se ontwerp vir die NG gemeente Salisbury en die NG kerk op Louis Trichardt. Tydens die inwyding van die nuwe kerk het die gemeente se lidmate 933 (57 meer as in 2012) en die siele 1 787 getel.
Toe die ledetal in 1947 1 560 en die sieletal 2 470 bereik, het die kerkraad die verdere uitbreiding van die gemeente tegemoet gekom deur die eerste maal 'n medeleraar te beroep. Teen 1952 het die ledetal die 2 200- en die sieletal 3 300-merk oortref. Toe kon die kerkraad die eerste keer aan afstigting begin dink.
Lidmaattal
[wysig | wysig bron]Queenstown was die eerste dorp in Suid-Afrika, Namibië of Zimbabwe waar drie NG gemeentes afgeneem het tot net een. (Hennenman het in 2012 dieselfde pad gevolg toe die Oos- en Wes-gemeente terselfdertyd by die moedergemeente ingelyf is.) Die eerste plaaslike afstigting van die moedergemeente was Queenstown-Oos in 1953. In 1972 het Queenstown-Noord aan die beurt gekom. In laasgenoemde jaar het die moedergemeente 1 025 lidmate gehad, die Oos-gemeente 550 en die Noord-gemeente 540. Dit het egter gou geblyk dat dié afstigting tot twee gemeentes aanleiding gegee het wat kwalik op hul eie kon bestaan, want teen 1979 het die Noord-gemeente net 407 lidmate gehad en die Oos-gemeente 413. So smelt die twee dogtergemeentes in 1982 saam onder die nuwe naam, Queenstown-Tuine, met as middelpunt van die gemeentelike bedrywighede die geboue van die voormalige Oos-gemeente. In die laaste jaar van dié gemeente se bestaan (1999) het hy 612 belydende lidmate gehad vergeleke met die moedergemeente se 725. In die eerste Jaarboek van die NG Kerke ná die inlywing van Tuine by die moedergemeente, was die getal belydende lidmate 1 337 (die ou syfers bloot bymekaar getel), maar teen 2005 reeds was dit 1 190 en binne die volgende sewe jaar het dit gedaal tot 876.
Die onderstaande tabel toon die afname in die lidmaattal van NG gemeentes op die groot dorpe van die Oos-Kaapse binneland. In gevalle waar 'n gemeente by 'n ander ingelyf is of twee gemeentes saamgesmelt het, word hulle syfers deurgaans saam aangedui. Dit geld Middelburg en Middelburg-Uitsig, Grahamstad, Grahamstad-Grenspos en Albanie, Somerset-Oos en Visriviervallei (Kookhuis) asook Queenstown, Queenstown-Oos en Queenstown-Noord (laasgenoemde twee 'n ruk lank as Queenstown-Tuine). Elke dorp of gemeente se hoogste lidmaattal word in vet skrif aangedui. Hieruit blyk dat net Queenstown en Aliwal-Noord hul hoogtepunt ná die middel van die 20ste eeu bereik het en dat Burgersdorp sedert 1933 'n afname in sy lidmaattal ervaar. Die gemeentes van Aliwal-Noord, Cradock, Grahamstad en Queenstown is al met meer belydende lidmate in 2014 as sowat 'n eeu vantevore. Die skielike afname in Queenstown se syfer tussen 2015 en 2016 is daaraan te wyte dat dit die eerste keer in jare was dat die gemeente 'n nuwe syfer ingedien het.
Gemeente/Dorp | 1916 | 1933 | 1952 | 1960 | 1973 | 1979 | 1985 | 1990 | 1995 | 2000 | 2005 | 2010 | 2012 | 2014 | 2015 | 2016 | 2021 |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Aliwal-Noord | 750 | 950 | 1145 | 1150 | 1250 | 1338 | 1242 | 1300 | 1595 | 1593 | 1378 | 1117 | 1114 | 1131 | 1043 | 1043 | 1043 |
Burgersdorp | 1100 | 1461 | 1274 | 1260 | 1008 | 937 | 945 | 941 | 850 | 710 | 677 | 605 | 573 | 539 | 517 | 507 | 462 |
Cradock | 1878 | 2164 | 2858 | 2914 | 2399 | 2421 | 2464 | 2288 | 2024 | 1934 | 1931 | 1697 | 1662 | 1892 | 1894 | 1575 | 1382 |
Graaff-Reinet | 2125 | 2211 | 2536 | 2573 | 2115 | 2055 | 1917 | 1758 | 1699 | 1657 | 1242 | 1347 | 1077 | 1088 | 1075 | 1130 | 701 |
Grahamstad/Albanie | 576 | 860 | 1640 | 1341 | 1479 | 1289 | 1115 | 1105 | 1122 | 1090 | 836 | 794 | 751 | 727 | 620 | 620 | 523 |
Middelburg | 1100 | 1307 | 1430 | Onbekend | 1372 | 1391 | 1158 | 992 | 1147 | 970 | 953 | 829 | 829 | 702 | 648 | 592 | 470 |
Queenstown | 566 | 1195 | 2060 | 2153 | 2115 | 1966 | 1866 | 1779 | 1572 | 1337 | 1190 | 1045 | 876 | 876 | 876 | 663 | 578 |
Somerset-Oos | 1652 | 1400 | 1800 | 1864 | 1657 | 1511 | 1246 | 1210 | 1201 | 1281 | 1122 | 917 | 959 | 967 | 967 | 958 | 828 |
Totaal | 9747 | 11548 | 14743 | 14655 | 13395 | 12908 | 11953 | 11373 | 11210 | 10572 | 9329 | 8351 | 7841 | 7922 | 7640 | 7088 | 5987 |
Die gesamentlike lidmaattal van dié dorpe het reeds in 1952 'n hoogtepunt van 14 743 bereik, waarna dit teen 1995 teruggesak het tot 11 373, minder as die totaal in 1933 van 11 548. Tussen 1990 en 2000 het die totaal met net 1 381 afgeneem tot 10 572, maar in die daaropvolgende 15 jaar het die afname versnel toe die gemeentes 2 932 lidmate verloor het en te staan gekom het op 'n totaal van slegs 7 641. Dis 'n verlies van meer as 'n kwart van die lidmate.
Leraars
[wysig | wysig bron]Queenstown
[wysig | wysig bron]- Stephanus Petrus Naudé, 1860 – 26 September 1909 (oorlede in die amp)
- David Johannes Malan, 1909–1916
- Pieter Albertyn Alheit, 1916–1922
- Philippus Jacobus du Plessis 1923–1929
- Theunis Christoffel Botha Stofberg, 1930–1940
- Dr. L.V. Rex, 1941–1946
- Petrus Arnoldus de Wet, 1947–1949
- Marthinus Gerhardus Mynhardt, 1947–1953
- Jeremia Jacobus Struwig, 1951–1955
- Dr. Gerhardus Cornelis Oosthuizen, 1956–1959
- Johannes Jacobus Naudé, 1958–1961
- Dr. A.J. Venter, 1960–1963
- Jacobus Johannes Swart, 1961–1964
- Philippus Cornelius Oosthuizen, 1963–1965
- Johannes Gerhard Moolman, 24 Julie 1965–1970
- Johannes Bekker, 1968–1971
- Roelof Johannes Janse van Vuuren, 1970–1976
- Dr. C.F. le R. Stodart, 1975–1992
- W.J. le Roux, 1977–1992
- W.F.A. Lotter, 1987–2005
- M.A. Pretorius, 1992–1999
- W.J. Lotter, 1999–2003
- J. Potgieter, 2003–2009
- P. Grobbelaar, 2005–2008
- A.C. (Riaan) Vlok, 2008 – hede
- Marike Els, 2012 – 2016
- Delmarie Viljoen, 6 Mei 2018 – hede
Queenstown-Oos
[wysig | wysig bron]- Abraham Jacobus de Villiers, 1958–1962
- Stefanus Johannes Fouché, 1962–1967
- John Peter Gavera, 1967–1971
- Abraham Jacobus Barnard, 1971–1974
Queenstown-Tuine
[wysig | wysig bron]- Philippus Johannes Viljoen, 1978–1983
- Pieter Wilhelm du Toit, 1983–1989
- Daniel Willem Mouton, 1988-1992
- Johannes Abraham (Johan) Burger, 1989–1998
Bronne
[wysig | wysig bron]- Olivier, ds. P.L.. 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
- Gaum, dr. Frits (red.) 1989. Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke 1990. Pretoria: Tydskriftemaatskappy van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.
- Dreyer, eerw. A. 1932. Jaarboek van die Nederduits-Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1933, Kaapstad: Jaarboek-Kommissie van die Raad van die Kerke.
- Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Geskiedenis van die gemeente Queenstown". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 November 2013. Besoek op 17 Mei 2012.