Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                

Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ena Murray Oordenkings
Ena Murray Oordenkings
Ena Murray Oordenkings
Ebook749 pages10 hours

Ena Murray Oordenkings

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In talle huise het Ena Murray deur die jare ’n bekende en geliefde naam geword. Wie haar boeke ken, sal weet: hier is iemand aan die woord na wie ’n mens graag luister, iemand by wie jy tuis voel.
En nou, in dié hersiene, bygewerkte uitgawe (bygewerk met nuwe stukkies en gedigte uit haar boek Roosknop vir ’n engel – verse vir ’n vrou) van Ena Murray Oordenkings kom lê sy weer besoek af by haar duisende vriende – hierdie keer met ’n dwingende uitnodiging: Kom loop saam met my die pad wat die Here vir sy mense bestem het! Uit haar persoonlike omgang met die Skrif, uit haar eie ervaring met die lewe van die gees bring sy in 366 dagstukke boodskappe vir elke dag van die jaar. Sy vermaan, sy verduidelik, sy bemoedig, sy roep op tot nadenke. En dan, aan die einde van elke dagstuk, lei sy haar lesers in ’n kort, kernagtige gebed na die Troon van Genade. Ena Murray Oordenkings is ’n boek vir die private stiltetyd, ongeag die ouderdom van die leser. Dit is ook ’n boek vir die gesin wat sáám oor die dinge van God wil besin
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateAug 6, 2014
ISBN9780796318787
Ena Murray Oordenkings
Author

Ena Murray

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

Related to Ena Murray Oordenkings

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ena Murray Oordenkings

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ena Murray Oordenkings - Ena Murray

    Ena Murray

    Oordenkings

    366 dagstukke uit die hart van ’n geliefde skrywer

    Lux Verbi

    Januarie

    Storm

    Ek sien die branders stormend nader jaag,

    skuimend groen en hoog,

    tot hulle neerswiep in ’n boog

    waar selfs die magtige dreuning moet vervaag.

    En tussen hulle sien ek ’n stippel wit,

    ’n bootjie wat in die branding sak … asof hy bid.

    Gee, Here, dat terwyl ék in stormseë vaar,

    ek binne-in my die stilte van ’n hawe sal bewaar;

    dat u liefde en vrede my moeë siel sal voed

    te midde van geweld wat om my woed.

    En dat ek eerlank veilig sal land

    waar ruwe branders van emosies wyk,

    in u stille hawe van

    Gelatenheid.

    1 Januarie

    Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. – Openbaring 21:6.

    Die woordjie einde wek altyd ’n gevoel van finaliteit by ’n mens op. As iets by sy einde gekom het, beteken dit tog dit is verby. Klaar. Afgehandel. Maar is dit werklik so dat einde net die slot beteken?

    Gister was dit die einde van die jaar. Maar uit gister is die nuwe jaar gebore. Einde was dus in hierdie geval die inleiding tot ’n nuwe jaar, die oopgaan van nuwe moontlikhede.

    As ons die eindes in ons lewe dan liewer só wil sien: dat elke einde ook ’n nuwe begin is. Ons liefdevolle Hemelvader hou dit ook vir ons in ons Nuwejaarsteks as ’n eenheid voor: die Alfa én die Omega, die Begin én die Einde.

    Ná elke einde is daar weer ’n begin. Dis onafskeidbaar verbonde, soos dag en nag aan mekaar verbind is.

    Ons begin vandag ’n nuwe jaar. Ons staan by ’n nuwe begin. Weliswaar dra ons baie van die ou jaar se sorge, probleme, hartseer en kruise met ons saam hierdie nuwe tydperk in. Maar as ons terugkyk, sal ons sien Hy het ook die genade daarvoor nie weerhou nie. Vandag gee Hy ons daarby ’n splinternuwe jaar, ’n nuwe begin wat ons met vertroue en geloof tegemoet kan stap in dié wete dat Hy wat self die Begin en die Einde is, dit saam met ons binnestap.

    Liefdevolle Hemelvader, dankie dat U my nie by die einde van die ou jaar gelaat het nie, maar saam met my die nuwe begin. Amen.

    2 Januarie

    Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. – Johannes 14:27

    Miskien is jy een van die baie mense wat hierdie jaar met bedenkinge en met vrees in die hart binnestap. Wêreldtoestande, landstoestande, materiële en maatskaplike omstandighede is vandag so dat baie van ons met ’n swaar hart die vraag stel: Wat sal vanjaar vir ons inhou?

    Wat is die teëvoeter van hierdie angs en depressiwiteit? Kom ons sien die geheelbeeld van ons menslike situasie voor ons:

    Aan die een kant is daar die besef dat die planeet wat ons Aarde noem, maar net ’n klein, klein stippeltjie in die groot heelal is. En as ons dít besef, hoe klein, hoe mikroskopies klein is ons, die bewoners van hierdie planeet, dan nie. Hoe vervlietend en onbenullig is ons menslike plannetjies nie!

    Maar aan die ander kant staan daar die grootheid, die alwysheid en die almag van God wat van ewigheid tot ewigheid daar is, dieselfde is. Hy is die Skepper en Onderhouer van die ganse heelal – ook van die klein stippeltjie wat ons is. Teenoor ons nietige menslike plannetjies staan sy goddelike gedagtes, sy ewige Raadsplan wat deur niks of niemand, deur geen aardse mag omvêrgegooi kan word nie.

    En nou is dit hierdie almagtige, alwyse God wat in Christus Jesus vir ons, ook vir hierdie jaar, vrede beloof – ’n vrede wat anders is as wat die wêreld gee. Dit is daardie vredevolle sekerheid dat Hy dáár is, dat Hy die Beskikker oor ons lotgevalle is. En dat Hy óns God is wat ons ken en liefhet. Niks kan ons van sy liefde en sorg skei nie.

    As ons dit besef, dit werklik aanvaar as die werklikheid van ons lewe, moet alle angs, alle twyfel, alle swaarmoedigheid dan nie daarvoor wyk nie?

    Dankie, God, dat U almagtig is en aan my, klein mensie, in Christus Jesus u vrede wil gee. Amen.

    3 Januarie

    Ek is besig met ’n groot werk. … Sterk tog my hande, o God! – Nehemia 6:3, 9

    Baiekeer voel ons dat dié dinge waarmee ons ons daagliks besig hou, nie die moeite werd is nie, of dat dit minderwaardig is. Ons voel ons bring ons dae deur met kos kook, skottelgoed was, stryk, kinders grootmaak, huis skoonmaak. En ons kyk met afgunstige oë na hulle vir wie die lewe, volgens óns mening, soveel interessanter en opwindender is.

    Maar hoe verkeerd is ons tog! Daar is nie ’n takie, hoe klein en eenvoudig ook al, wat nie waarde het nie. Dis juis die klein en dikwels vervelige en minder aangename takies waarmee ons lewe daagliks gevul is, wat krag aan ons bestaan gee. Saam maak dit ’n groot werk uit, ’n belangrike werk waarsonder ons gesin – én die wêreld om ons – nie kan klaarkom nie. Ons is inderdaad besig met ’n gróót werk!

    Nehemia was besig met bouwerk. Dis handearbeid. Dis harde werk en dit gaan maar steen vir steen. Maar teen die end het elke steen wat daagliks getrou gelê is, ’n muur gevorm – ’n baie belangrike muur, ’n muur wat sy volk sou beskerm teen hulle vyande en vyandelike aanslae.

    Só bou ons elke dag steen vir steen met ons klein liefdestakies ’n muur om ons gesinne. ’n Muur wat hulle sal beveilig. ’n Muur van liefde en vertroue en sekuriteit. Ons is besig met ’n gróót werk!

    Laat ons dus nie mismoedig en gefrustreerd word of minderwaardig voel nie. Kom ons vra soos Nehemia dat God ons hande altyd sal sterk om voort te gaan met hierdie groot taak wat Hy aan ons opgedra het.

    O God, sterk tog my hande vir elke klein takie wat ek vandag vir my dierbares en my naaste moet verrig. Laat ek elke dag getrou bou in dié wete: In ú oë is dit ’n groot werk. Amen.

    4 Januarie

    Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar ’n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee … – Prediker 7:14

    Wanneer dit voorspoedig met ons gaan, sê ons maklik dat God vir ons goed is. Maar die oomblik wanneer dinge nie na wense gaan nie, is ons gou om te vra: Hoekom het God my vergeet? Hoekom straf Hy my so? Hoekom het Hy sy hand van my onttrek?

    Ons teksvers vertel ons hoe verkeerd ons met hierdie veronderstelling is. God gee die voorspoedige dae, natuurlik, maar beslis het Hy ons nie die rug toegedraai wanneer die teëspoed ons tref nie.

    Hoe eentonig sou dit gewees het as dit net altyd met ons goed sou gaan. Lekker is dan later nie meer lekker nie. Meer nog, hoe gevaarlik sou dit nie vir ons gewees het as ons net sonskyndae geken het nie. Die natuur is die sprekende voorbeeld wat ons vertel dat niks kan voortbestaan as daar dag vir dag net sonskyn is nie. God weet dat die donker dae van onweerswolke en reënvlae ewe noodsaaklik is om die sondeurdrenkte aarde weer te benat sodat die lewe en groei kan voortgaan.

    Sal ons dan nie maar liewer die onweersdae in ons lewe ook as bedekte seëndae sien nie? Sal ons nie maar liewer aanvaar dat die dae van teëspoed ewe noodsaaklik vir ons heil is sodat ons weer opnuut benat kan word deur sy genade, weer opnuut ons afhanklikheid van Hom besef nie? Dán sal ons waarlik bly lewe en groei.

    Dankie, my Hemelvader, dat ek weet dat U ook in die reëndae by my is, want dan wil U my besonder seën sodat ek kan bly lewe en bly groei tot u eer. Amen.

    5 Januarie

    Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: Nou is dit genoeg, Here! … Die engel het … gesê: Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word. – 1 Konings 19:4, 6

    Ons kom almal daar – by daardie besembos. Daar is nie ’n mens op aarde wat nie die een of ander tyd daaronder inkruip en sê nie: Nou is dit genoeg, Here!

    Soos Elia voel jy jy het die end van die pad, die end van jou uithouvermoë, jou deursettingsvermoë, jou geduld, jou kragte, jou moed, ja, selfs die end van jou geloof bereik. Jy het dáár gekom waar jy soos Elia ten hemele uitroep: Neem my lewe, want dis nou genoeg, Here!

    Hoe vreeslik sou dit vir ons wees as God al hierdie smekinge moes verhoor het! Elia smeek om te sterf – in plaas daarvan gee God hom brood! So gaan dit met baie van ons gebede: Ons vra een ding, Hy gee iets heel anders. Elia wil sterf, maar sy Hemelvader wéét wat vir hom die beste is en gee vir hom nie één keer nie, maar twéé keer kos sodat hy sy kragte kan opbou. Ons vra dikwels iets wat vir ons net die dood kan inhou, en Hy gee ons die brood van die lewe, want anders sal die pad vir jou te lank word.

    Hy sal ons nooit op die lang pad stuur sonder sy Goddelike versorging nie. En Hy gee mildelik. Twéé keer voed hy Elia voordat Hy hom weer uitstuur. Daarna kon Elia veertig dae en veertig nagte aanmekaar loop. So kan ons ook die onmoontlike regkry as ons sy brood van genade en liefde aanvaar. So kan ons ook die besembos van wanhoop en handdoek-ingooi agterlaat en ons lang pad aandurf met die brood van sy gebreekte liggaam en die kruik van sy gestorte bloed wat ons krag vir die onmoontlike sal gee.

    Word wakker en kyk! Kruip uit onder jou besembos: Jou God hét vir jou gesorg, wíl vir jou sorg, sál altyd vir jou sorg.

    Hoe skaam ek my dat ek onder ’n besembos wou lê en sterf terwyl U vir my ’n feesmaal wil voorberei. Vergewe my, Vader! Amen.

    6 Januarie

    Julle weet nie wat julle vra nie. – Matteus 20:22

    Jakobus en Johannes se moeder vra vir Jesus dat haar twee seuns eendag aan weerskante van Hom in die hemel mag sit.

    Op sigself is dit nie verkeerd van ’n moeder om net die beste vir haar kinders te wil hê nie. Maar is dit nie ook só dat my ambisie vir my kind soms meer kwaad as goed doen, soms selfs sy lewe kan verwoes nie?

    Ons as ouers moet versigtig wees waar dit ons ambisies vir ons kinders aangaan. Dieselfde geld ook vir die ambisies wat ek vir my man koester. Ons kan dalk dinge nastrewe wat meer ongeluk as geluk gaan bring. Ons kan dinge van God vir onsself en ons dierbares vra waarvan ons later hartseer en geskok moet erken: Ek het nie geweet wat ek gevra het nie.

    Ook in ons daaglikse versugtinge tot ons Hemelvader moet ons eers dink voordat ons sommer blindelings vra. Ons is te dikwels nog kinders in die versoeke wat ons tot God rig – soos ’n seuntjie van ses wat vir sy pa sê hy wil met sy volgende verjaarsdag ’n groot Mercedes Benz-motor hê. En watter vader wat werklik vir sy kind lief is en waarlik sy belange op die hart dra, sal in so ’n begeerte voorsien?

    Leer my, Here, om te dink voordat ek sommer vra. Dankie vir u Heilige Gees wat vir my leer wat om te bid. Dankie dat Hy self ook deur my wil bid. Amen.

    7 Januarie

    Die Here julle God het julle voorspoedig gemaak in alles wat julle gedoen het. Hy het sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn, en in hierdie hele veertig jaar was die Here julle God by julle en het julle niks kortgekom nie. – Deuteronomium 2:7

    Ondankbaarheid is seker een van die lelikste eienskappe wat daar op aarde is. En ons wat ouers is, weet maar te goed hoe dit voel wanneer jy dit teëkom. Jy voel seer en kwaad en diep teleurgestel.

    Maar hoe ondankbaar is ons nie almal teenoor ons Hemelvader nie? Ons staar so afgunstig na dié dinge wat ons begeer, dat ons nooit sien wat Hy ons alles reeds geskenk het nie. Is dit nie van jóú ook waar nie?

    Kyk terug op jou lewe. Het God jou nie voorspoedig gemaak nie? Het Hy jou nie al die jare gedra, sy oog oor jou gehou nie? Was Hy nie in al die jare tot op vandag toe vir jou ’n wonderlike God nie? Het Hy jou nie al die jare versorg nie? Jy was tog nooit regtig nakend nie. Jy het nooit regtig honger gely nie. Daar was, hoe eenvoudig dan ook al, nog altyd vir jou ’n skuilplek wanneer die nag toesak.

    Ook toe jy jou in ’n woestyn bevind het – miskien ’n woestyn van smart, van teleurstellings, die dood van ’n dierbare, groot finansiële probleme en ander terugslae in jou persoonlike lewe – was Hy daar by jou, nie waar nie? Maar het jy raakgesien hoe Hy jou deur daardie woestyn gedra het? Het jy dankie gesê? Of staar jy jou net altyd so blind teen die dinge wat jy nie het nie, dat jy die ontelbare seëninge wat Hy wel op jou uitgestort het, nie raaksien nie?

    O Here, ek is so skaam oor my ondankbaarheid. Vergewe my! Amen.

    8 Januarie

    Wat redeneer julle by julleself hieroor? – Markus 2:8

    Die mens belas homself met soveel kwelvrae. Daar is so baie vrae waarop ons antwoorde wil hê. Daar is so baie dinge wat ons met ons beperkte menslike verstand en insig verklaar wil hê. En as ons nie die antwoorde kry nie, kritiseer ons. Dan dink ons ons het die reg om die Hoër Wil te bevraagteken.

    Daar is die vrou wat vra hoekom God juis háár skoot gesluit het sodat sy nie ’n kind kan hê nie. En dan is sy gou om na ander wat na haar mening slegter en swakker is as sy, te wys vir wie God wel met kinders geseën het. Dan wil sy ’n antwoord van God hê: Hoekom, Here?

    As ons net ons gesindheid teenoor ons kwelvrae wil verander, sal die lewe soveel makliker en ons teleurstellings soveel draagliker wees. Soos ons kinderlose vroutjie. God is onregverdig teenoor my, redeneer sy by haarself. Ek is gekul uit iets waarop ek net so geregtig is soos elke ander vrou.

    Maar as God haar miskien ’n antwoord sou gee? Iets soos: Ek weerhou van jou ’n kind omdat Ek ook ’n groot smart van jou wil weerhou. As jy ’n kind gehad het, sou jy ontelbare trane van smart oor hom/haar gehuil het. Daarom sluit Ek jou skoot omdat Ek vir jou lief is en jou teen sulke hartseer wil beskerm.

    Laat ons ons gesindheid teenoor ons kwelvrae verander. Laat ons glo dat ook hierdie dinge waaroor ons met onsself in die hart en teenoor God loop en redeneer, besluite is wat deur ’n liefdevolle Vader geneem is omdat Hy ons liefhet en ons wil beskerm.

    O Vader, laat ek ophou redeneer oor dinge wat ek nie verstaan nie. Help my om alles, ook my teleurstellings en hartseer, te aanvaar as komende uit ’n liefdevolle Vaderhart. Amen.

    9 Januarie

    Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen. – Prediker 8:11

    Dis ontsettend watter mag die voorbeeld het. Jy sien iemand doen iets. Jy wéét dis verkeerd. Maar as daardie persoon daarmee verbykom, begin dit mos vir jou al minder verkeerd lyk. So asof dit nie meer heeltemal so erg kan wees as wat dit aanvanklik gelyk het nie.

    Moenie jou laat bluf nie! Daardie man wat roof en lieg en bedrieg sonder dat ’n haan daarna kraai, gaan die een of ander tyd tóg vasgetrek word – dan nie hier nie, dan wel in die hiernamaals. Moet nooit aanvaar dat as iemand met iets oneerliks of ongeoorloofs of skandeliks verbygekom het, jy dit ook gaan regkry nie. Wees verseker hý het nie, en jý gaan ook nie.

    Daar kan baie redes wees waarom iemand se verkeerde daad nie dadelik gestraf word nie. Jy sal nie weet waarom God ’n oortreding laat deurgaan asof Hy dit nie raaksien nie. Wees verseker dat Hy dit wel deeglik sien. Ook as jyself al een of twee keer iets ongeoorloofs probeer het en straffeloos deurgekom het, moet jy nie gerus word en sommer aanneem dat dit ’n derde keer ook ongestraf sal verbygaan nie. God is nie blind nie. Niks gaan ongemerk by Hom verby nie. Vorentoe wag Hy vir jou.

    Liewe Here, verhoed in u genade dat ek myself sal bluf en gerusstel wanneer ek sien ander mense doen oënskynlik straffeloos verkeerde dinge. Bewaar my daarvan om so ’n verkeerde voorbeeld te volg. Amen.

    10 Januarie

    Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer. – Psalm 119:59

    Op koers en van koers is twee teenoorgestelde koerse. Die eerste is reg. Die tweede kan net ongeluk en ’n verkeerde eindbestemming ten gevolg hê.

    Wanneer laas het jy die koers van jou lewe in oënskou geneem?

    So baie mense koers maar sommer net blindelings deur die lewe. Jy stap maar voort van dag tot dag. Party dae gaan dit goed; party dae minder goed – en party dae sommer sleg, maar intussen gaan jy darem aan en ongemerk koers jy na die einde van jou aardse bestaan sonder om regtig seker te wees van jou rigting en bestemming.

    Niemand sal dit waag om sonder ’n kompas die see aan te durf nie. Ook sal dit dwaas wees om daarsonder die Saharawoestyn in te gaan. Hoe is dit dan moontlik dat jy mense kry wat sommer net blindelings deur die lewe aanstap sonder ’n kompas wat hulle die sekerheid kan gee dat hulle wel uiteindelik by die regte plek sal uitkom? Mense wat so ’n groot kans waag deur te sê: O wel, ek hoop maar ek kom op die ou end by die regte plek uit.

    Jy gaan nie hou van die plek waar jy gaan uitkom as dit nie die regte plek is nie. En sonder kompas staan jy ’n goeie kans om in die verkeerde plek te beland. Hoekom ’n kans waag om jou eendag in die hel te gaan vasloop as jy maar net vir jou ’n kompas kan aanskaf? En dié is so maklik bekombaar. Ons teksvers vertel jou wat dit is en waar jy dit kan kry: Die Bybel, die Woord van God, wat vir ons leer hoe ons moet stap om eendag by die regte eindbestemming, die hemel, uit te kom.

    Dankie dat U ons nie sonder ’n kompas deur hierdie lewe wil stuur nie, Here. Amen.

    11 Januarie

    … Die werk is groot en uitgestrek, en ons is oor die hele muur uitgesprei, elkeen ver van die naaste man af. Waar julle ook al die ramshoring hoor blaas, daar moet julle by ons saamtrek. – Nehemia 4:19, 20

    Die werk van die Christen is groot en uitgestrek. As ons vandag so rondom ons kyk, lyk dit asof ons ook al meer uitgesprei van mekaar raak. Al meer boosheid, al meer gesante van die duiwel druk tussen ons in om ons nog verder van mekaar te verwyder. Die ware kind van God wil amper vandag eensaam begin voel. Dit lyk so asof die hele wêreld om ons vandag oorgegee is aan Satan. En nie net die wêreld daarbuite nie. Ook hier in ons eie, klein wêreld, hier in die binnekring van ons familie- en vriendekring lyk dit mos al asof die kinders van die duiwel al meer vastrapplek tussen ons kry.

    Nehemia het geweet dis wat met sy volk gaan gebeur op die muur wat hulle aan die bou was. God het ook geweet dis wat met sy kinders in die eeue vorentoe tot die voleinding gaan gebeur. Ons gaan al minder één begin voel, al meer vereensaamd.

    Maar Nehemia het die ramshoring laat blaas. En daar waar die ramshoring geblaas het, daar moes die volk saamtrek. God het in sy genade vir ons vandag ook nog die ramshoring wat sy kinders bymekaarbring om hulle te laat weet dat hulle nie alleen is nie. Ons lewe nog in ’n land waar die kerkdeure oopstaan en sy ramshoring uit die kerktorings ons roep om saam te trek.

    Dankie, God, dat ons nog openlik saam met ons mede-Christene kan saamtrek wanneer U roep. Help ons om hierdie voorreg ten volle te benut. Amen.

    12 Januarie

    Jou eie optrede, jou eie dade het hierdie dinge oor jou gebring, dis jou eie boosheid wat dit so bitter maak, wat jou in jou hart tref. – Jeremia 4:18

    Ek het ’n bitter lewe gehad. Ek het dit bitter swaar gehad. Ek het al bitter smart in my lewe geken.

    Dis woorde wat ’n mens dikwels hoor, en dikwels wanneer dit geuiter word, word die woordelose verwyt bygevoeg: Dis deur ander my aangedoen. Dit was onverdiend. Dis hierdie of daardie een se skuld dat ek so bitter swaar gekry het, of sulke bitter smart ervaar het. En al sê hulle dit nie sommer reguit nie, wil party mense te kenne gee: Dis Gód wat my dit aangedoen het. Ek was die onskuldige, lydende party. Ek dra geen skuld daaraan nie.

    Is dit werklik so? Is dit óóit werklik so?

    Dink ’n bietjie goed na. Jou mislukte huwelik … was jy nie dalk gewaarsku en wou nie hoor nie? Jou kind wat verkeerde spore trap … loop hy nie maar dalk in spore wat jy vir hom getrap het nie? Jou materiële swaarkry … kom dit nie maar net daarvan dat jy dinge begeer het wat jy gewéét het jy nie kan bekostig nie?

    Wees ’n slag moedig genoeg om brutaal eerlik met jouself te wees. Dan sal jy waarskynlik by die blatante waarheid uitkom: Sewe agstes van die swaarkry en die smart wat ek in my lewe ervaar het, was deur eie toedoen. Sewe agstes van al die bitterheid wat ek in my lewe ervaar het, was nie ander se skuld nie. Ek het dit oor myself gebring.

    Here, help my om altyd eerlik met myself te wees, ook waar ek gefouteer het. Help my om nie my swakhede op ander se rekening te plaas nie, maar om dit openlik voor U te bely. Amen.

    13 Januarie

    Maar Hy sê vir Samuel: Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike. – 1 Samuel 16:7

    Samuel moet uit Isai se seuns ’n koning vir Israel gaan salf. Eliab het hom dadelik opgeval. Hierdie aantreklike oudste seun van Isai sou Samuel se keuse gewees het. Maar God se keuse was Dawid, dié een wat besig was om skape op te pas terwyl sy broers saam met die profeet ’n maaltyd gaan geniet.

    Ons word tog so maklik deur uiterlike voorkoms mislei. Alles wat blink, is vir ons goud. ’n Mens met ’n mooi, indrukwekkende uiterlike is vir ons dikwels die belangrikste.

    As ons tog maar die vermoë wil aanleer om na die innerlike van die mens en na die kern van dinge te soek, sou ons lewe soveel minder teleurstellings hê.

    Jy gaan vandag weer mense ontmoet en met mense in aanraking kom. Probeer om hulle nie op hulle baadjie te takseer nie. Soek dieper, kyk dieper … en jy mag dalk vandag ’n wonderlike vriend of vriendin raakloop waar jy dit nie verwag het nie.

    Here, help my dat ek nie so maklik deur uiterlike dinge beïndruk sal word nie, maar dat ek na dié dinge sal soek waarna U kyk. Amen.

    14 Januarie

    … Daar behoort nie ’n getwis te wees tussen my en jou … nie, want ons is familie … Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links. – Genesis 13:8, 9

    O, om soos ’n Abram te kan wees! Om die groot genadegawe in jou te kan hê om die minste te kan wees!

    ’n Mens besef dit elke keer: Dis die werklik groot geeste wat daardie vermoë besit. Mense wat klein van gees is, het nie genoeg ruimte daarvoor in hulle lewe nie.

    Aan menslike standaarde gemeet, was Abram beslis ’n baie belangriker persoon as Lot. Hy het ’n hoër status geniet as sy broerskind. Maar dit is hý wat vorentoe kom en sê: Laat ons nie twis nie. Ek sal die minste wees. Kies jy eerste.

    Mense is geneig om te dink dat hulle iets sal inboet of aan die kortste ent sal trek as hulle die minste is. Maar wat met Abram gebeur het, bewys die teendeel. Lot het die beste deel van die land gekies en Abram moes tevrede wees met die swakste. So kan dit dalk vir jou ook lyk wanneer jy die minste is – jy kom die slegste daarvan af. Maar moenie glo nie! Wat jy vergeet en wat Abram onthou het, is dat die een wat die minste is, God se bystand bykry. Hoe kan jy dan ooit die slegste daaraan toe wees? Die verdere verhaal vertel ons wat uiteindelik gebeur het. God het Abram mildelik geseën en Lot het in Sodom beland waar Abram hom later van ’n gewisse verdelging moes kom red.

    Here, gee asseblief aan my ’n groot genoeg gees sodat ek hierdie groot genadegawe van U kan ontvang: om die minste te kan wees. Amen.

    15 Januarie

    Wie nederig is, dien die Here … – Spreuke 22:4

    Niks waar te bykom, is goed nie. Te verraai ’n wanbalans. Dis goed en ook reg om ’n goeie selfbeeld te hê, maar gevaarlik en lelik om ’n té goeie selfbeeld te hê – want dan word jy hoogmoedig, kry jy trotse oë, word jy ’n snob.

    Eweneens moet ’n mens waak teen die te aan die ander kant. Om jouself té gering te ag is óók verkeerd, want dan begin ly jy aan ’n minderwaardigheidskompleks, is jy geneig om jouself met ander te vergelyk en trek jy altyd aan die kortste ent.

    Om nederig te wees beteken nie om jouself af te takel en jou standaarde en norme te verlaag nie. Ware nederigheid is ook die vrug van ’n groot gees. Al die werklik groot geeste wat die wêreld al opgelewer het, het hierdie besondere karaktertrek besit: die vermoë om balans te behou tussen die twee te’s. Geen mens sal iets in die lewe bereik as hy te min van homself dink nie. Eweneens sal hy wat te veel van homself dink, êrens vorentoe tot ’n val kom.

    Nederigheid is ’n uitvloeisel van die besef dat wat jy is en wat jy bereik het, nie uit jouself is nie, maar dat jy dit uit Gods hand ontvang het. Jy was maar net die bevoorregte wat deur God as instrument gebruik is.

    Liewe Here, ek dank U nederig vir die talente wat U my gegee het en vir wat ek deur u genade daarmee kon bereik. Dankie dat ek ’n instrument in u hand kan wees. Amen.

    16 Januarie

    Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. – Psalm 103:14

    Ons sien God te dikwels as Iemand wat net altyd sit en wag dat ons moet struikel sodat Hy ons kan veroordeel. Ons dink – verkeerdelik – dat Hy net ’n God van oordeel is. En as ons dan op ’n dag die omvang van ons slegte dade ten volle besef en ons sondigheid werklik tot ons deurdring, voel dit vir ons of ons heeltemal te gronde sal gaan.

    Daar is nie ’n mens op aarde wat nie die een of ander tyd in sy lewe iets doen wat hom later laat vra: Wat het my besiel om dit te doen? Selfs die heiligste onder ons is nie áltyd heilig nie.

    Lê jy miskien in hierdie oomblik in die stof oor iets wat jy gedoen of gedink of gesê het? Voel jy dat jou sondedaad onvergeeflik was? Veroordeel jou eie gewete jou in hierdie oomblikke in so ’n mate dat jy voel jy wil jou êrens gaan wegsteek vir die lewende God wat alles gesien en alles gehoor het en van alles weet?

    Moenie bang wees nie. God sit nie daar met woede in sy oë en ’n vurige swaard in sy hand om jou te verdelg nie. Sien Hom as ’n Vader, ’n Vader wat seerkry elke keer wanneer sy kind struikel. En tog bly Hy Vader. Hy ken ons deur en deur. Hy weet waarvan ons gemaak is. Wanneer ons in stof en as met ons besmeerde lewe voor Hom staan, met ons skaamte en berou oor die vreeslike sondes in ons lewe, kan ons nog altyd weet: Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. En Hy het ons nog altyd lief. Daarom het Hy immers sy Seun, Christus Jesus, na die aarde gestuur om ons sondelas op Hom te neem. Hy het geweet dat onsself, swakke mense, nooit sy straf sou kon verduur nie. En ter wille van Christus het Hy ons klaar vergewe. En nou veroordeel ons onsself, ons eie gewete, ons baie harder as wat God ooit doen.

    O my Vader, dankie dat U my nie verwerp wanneer ek in sondebesef na U kom nie, maar dat U altyd met deernis en ’n hart vol liefde onthou dat ek van stof gemaak is. Amen.

    17 Januarie

    … moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het … – Spreuke 30:8

    Ag, as ons maar van die Spreukedigter wou leer!

    Ons belas onsself só met aardgebonde strewes. Ons almal sukkel só hard om alles te bekom wat ons aan aardse goed begeer. Ons werk en swoeg ons byna dood om ryk te word.

    Het jy al ooit werklik gaan stilsit en besef hoeveel ure van jou dag jy besig was met insamel, bymekaarmaak? Hoe jou hele dag in die eerste plek daarom gegaan het om te kan kry wat jy aan aardse goed wil hê? En gister was dit dieselfde … én eergister … én die dag voor eergister. Die hele week, die hele maand wat verby is, die hele jaar … en jy besef nie dat jou hele lewe so omgaan met ’n gespartel en gespook om dinge te bekom wat jy net so moet agterlaat wanneer jy eendag jou laaste asem uitblaas nie.

    Is ons nie dwaas nie? Die Spreukedigter Agur het dit besef. Hy het geweet watter gevare rykdom vir die mens inhou. Hy het geweet dit kan vir hom in die versoeking bring om die Here te verloën – net soos armoede óók vir jou ’n struikelblok kan wees. Daarom het hy net twee dinge van die Here gevra: Moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, maar gee my net die kos wat ek nodig het …

    Sal ons tog nie maar besluit om hierdie bede van die wyse Agur ook ons bede te maak nie? Dan sal ons nie gevaar loop om ons lewe nutteloos te laat verbygaan omdat ons die ewigheid uit die oog verloor nie.

    O, God, maak my ewewigtig in my begeertes na die dinge van hierdie aarde en help my dat ek dié dinge van ewigheidswaarde nie uit die oog sal verloor nie. Amen.

    18 Januarie

    As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. – Matteus 18:15

    Ons is soms geneig om te dink God het net ’n klomp wette en reëls en regulasies gemaak: Moenie dít doen nie. Moenie dát doen nie. Mens maak nie so nie. ’n Kind van God tree nie so op nie.

    Weet jy, dis nie soos God dit bedoel het nie. Jy sê tog ook dikwels vir jou kind: Moenie dit doen nie! Maar dan is dit nie omdat jy bloot jou gesag wil laat geld nie. Jy sê dit omdat jy jou kind liefhet en wil beskerm en die lewe vir hom makliker wil maak. Jy weet immers as jou kind daardie ding doen, gaan hy miskien seerkry en homself en ander skade aandoen.

    God lê vir ons riglyne neer, nie omdat Hy Homself as God wil laat geld nie. Hy het dit nie nodig nie. Hy hoef Homself nie aan ons te bewys nie. Hy kan ons in een oomblik van die aardbol afvee as Hy wil. Nee. Hy sê vir ons hoe ons moet optree omdat Hy die lewe vir ons makliker wil maak, omdat Hy ons teen onsself wil beskerm.

    Kom ons kyk byvoorbeeld na ons teksvers. Is dit nie baie goeie en navolgenswaardige raad wat Hy hier vir ons gee nie? Ons weet almal watter onaangenaamheid en hartseer kom van skinder en kwaadpraat agter die rug. Iemand tree verkeerd teenoor my op, kom my te na, en dan … dan gaan ek nie na hom toe en praat die ding kalm met hom uit nie. Ek gaan vertel dit liewer vir my ander vriendin, of ek basuin dit sommer aan ’n ieder en ’n elk uit: Weet jy wat het hy gedoen?!

    As ons God se raad volg, sal ons lewe soveel makliker en gelukkiger wees. Dis nie wette en reëls en regulasies nie. Dis bloot goeie raad!

    Here, dankie dat U my raadgewer is. Amen.

    19 Januarie

    Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. – 1 Timoteus 4:14

    As ons daaraan dink dat ons eendag voor die Regterstoel moet staan, dink ons gewoonlik net dat ons daar verantwoording van ons dade sal moet doen. Baie van ons gaan grootliks verras – of geskok? – wees as ons uitvind ons moet ook verantwoording doen van wat ons nie gedoen het nie.

    Daar is nie ’n skepsel aan wie God verstand gegee het, vir wie Hy nie ook vermoëns gegee het nie. Hoe klein en hoe min ook al, elkeen het talente ontvang. Dis nie iets waarop jy kan roem, so asof jy dit deur eie toedoen verkry het nie. Dis nie eens iets wat oorgeërf word nie. Dis genadegawes uit Gods hand. En Hy gee wat Hy wil vir wie Hy wil na wat Hy weet jou vermoëns is.

    Gebruik jy joune? Woeker jy daarmee, ontwikkel jy dit tot die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1