Toulouse
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Frankryk |
Région (Admin. gewes) | Oksitanië |
Département | Haute-Garonne |
Koördinate | 43°36′N 1°26′O / 43.600°N 1.433°O |
Stigting | Voor 2de eeu v.C. |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 118,3 vk km |
Hoogte bo seevlak | 141 (115-263) m |
Bevolking: | |
- Totaal (2019) | 493 465 |
- Bevolkingsdigtheid | 4 200/vk km |
- Agglomerasie | 1 035 280 |
- Aire urbaine | 1 454 158 |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Burgemeester | Jean-Luc Moudenc (LR) |
Amptelike webwerf | www.toulouse.fr |
Toulouse (Oksitaans: Tolosa) is 'n stad in die suidweste van Frankryk, aan die oewer van die Garonnerivier en halfpad tussen die Atlantiese Oseaan en die Middellandse See. Die metropolitaanse gebied van Toulouse is met 1,1 miljoen inwoners die tweede grootste in Suid-Frankryk en een van die vinnigsgroeiende in Europa. Die stad is die hoofkwartier van die grootste ondernemings in die Europese lug- en ruimtevaartnywerheid, soos byvoorbeeld Alcatel Espace, EADS Space en Airbus S.A.S. en 'n belangrike onderwyssentrum met meer as 100 000 studente.
Toulouse is die voormalige hoofstad van die historiese provinsie Languedoc, wat tot by die Franse Rewolusie bestaan. Vandag dien Toulouse as die hoofstad van die région (gewes) Languedoc-Roussillon-Midi-Pyrénées en die prefektuur van die département Haute-Garonne. As die setel van die Académie des Jeux Floraux, die eweknie van die Franse Akademie in die Oksitaanstalige gebiede van Suid-Frankryk, het die stad ook 'n belangrike sentrum van die Oksitaanse kultuur geword. Die tradisionele Oksitaanse kruis dien as die simbool van die stad.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die Romeine verower die Galliese stad Tolose in die jaar 106 v.C.; onder die nuwe naam Tolosa dien dit as 'n belangrike administratiewe en militêre sentrum van die provinsie Gallia Narbonensis. Baie strate in die ou stadskern laat nog steeds die Romeinse roosterpatroon herken. Sedert die 4de eeu is Toulouse die setel van 'n biskop.
Tussen 418 en 507 n.C. was Toulouse die hoofstad van die Tolosaanse Ryk, wat die Wes-Gote na Alaric I se Italiaanse veldtog stig. Die ryk strek tot by die Pireneë-gebergte en sluit groot dele van Spanje in. Dit word uiteindelik deur Clovis I vernietig.
In die tydperk tussen 781 en 843 was Toulouse die hoofstad van die Koninkryk van Akwitanië.
Tydens die Middeleeue bly Toulouse oor 'n lang tydperk onafhanklik. Die grawe van Toulouse brei hulle magsgebied oor 'n groot deel van Suid-Frankryk uit, wat uiteindelik die provinsie Languedoc vorm. Toulouse word 'n sentrum van die Oksitaanse kultuur. As gevolg van die kruistog teen die Kathare word die provinsie in 1271 by Frankryk ingelyf. Toulouse self word deur Noord-Franse troepe geplunder.
Toulouse is in die middeleeue ook een van die rykste stede in Frankryk. Die kalkgrond van sy omgewing is uiters geskik vir die wede-plant, wat destyds die enigste duursame blou verfstof lewer. Toulouse raak sy monopolie kwyt met die invoer van indigo uit die Portugese kolonies.
Selfs onder die heerskappy van die Franse kroon bly die stad tot die jaar 1790 min of meer onafhanklik. Tydens die reformasie is die stad die tuiste van 'n groot aantal protestante, tog bly Toulouse in die godsdienstige oorloë steeds 'n bondgenoot van die Rooms-Katolieke partye. In 1562 word sowat 4 000 Hugenote in die stad vermoor.
Teen die middel van die 19de eeu neem die hedendaagse ekonomiese bloei van Toulouse 'n aanvang met die oprigting van die eerste nywerhede.
Tussen 1942 en 1944 word Toulouse deur Duitse soldate beset. Die stad is in die Tweede Wêreldoorlog nie die skouplek van militêre gevegte nie, tog is dit 'n belangrike sentrum van die Résistance, die Franse weerstandsbeweging. Die Duitse besettingstroepe ontruim die stad kort na die geallieerde landing in Normandië.
Aan die begin van die sestigerjare vestig 'n groot aantal Franse setlaars, wat uit Algerië verdryf is, hulle in die stad. In die sewentigerjare kom 'n groot aantal Noord-Afrikaanse immigrante na Toulouse. Danksy die ekonomiese groei styg die inwonertal vinnig van 269 000 in 1954 tot 380 000 in 1968. In 2011 het Toulouse reeds meer as 892 000 inwoners.
Ekonomie
[wysig | wysig bron]Ná sy bloeitydperk as verskaffer van die beroemde blou pastelkleure en die industrialisering tydens die 19de eeu bly Toulouse in sy onlangse geskiedenis 'n tyd lank 'n tweederangse stad wat nie tred kan hou met ander Franse metropole nie.
Die stad het egter 'n lang tradisie as 'n lugvaartsentrum, en reeds in 1919 is daar lugposverbindings met Afrika en Noord- en Suid-Amerika. Die lughawe van Toulouse is ook die basis van die bekende skrywer en vlieënier Antoine de Saint-Exupéry.
In die sestigerjare besluit die Franse regering om die lugvaartnywerheid se aktiwiteite in Toulouse te konsentreer. Die groot Europese vliegtuigvervaardiger Airbus Industrie het een van sy twee hoofkwartiere naby Toulouse se lughawe (die ander is in die Duitse hawestad Hamburg). Airbus is tans die grootste plaaslike werkgewer en monteer hier die reuse Airbus A380 passasierstraler.
Sedert die tagtigerjare is Toulouse een van die belangrikste sentrums van die ruimte- en lugvaartnywerheid ter wêreld, wat met die Concorde, Airbus en Ariane vereenselwig word. Die plaaslike bedrywe verskaf werk aan meer as 35 000 mense. Ander belangrike nywerhede is masjienbou, yster en tekstiel. Danksy die welvarende nywerhede het Toulouse sy skuldlas binne tien jaar ten volle afbetaal.
Toulouse is daarnaas 'n handel- en vervoersentrum en die tweede grootste tersiêre onderwyssentrum van Frankryk. Blomteelt is 'n tradisionele ambag in Toulouse. Veral die plaaslike viooltjies word bemark, onder meer ook as reukwater en bestanddeel van likeur.
Onderwys
[wysig | wysig bron]Toulouse het drie universiteite (Toulouse Capitole, Toulouse Jean Jaurès, Toulouse III Paul Sabatier) byeengebring binne die Universiteit van Toulouse. Die stad het ook drie groot lugvaartkundige ingenieurskole (ENAC, IPSA, SUPAERO), algemene ingenieurskole (EPITA, INPT, INSA), 'n rekenaarwetenskapskool (EPITECH), 'n ekonomiese skool (Toulouse School of Economics), 'n ontwerpskool (e-artsup), 'n kommunikasieskool (ISEG), drie groot sakeskole (TBS, TSM, ISG), 'n meteorologieskool, 'n veeartsenykundige skool en 'n politieke wetenskappe.
Besienswaardighede
[wysig | wysig bron]- Toulouse staan vir sy pragtige sandsteengeboue geboue bekend en dra weens die kenmerkende rooi en rooskleurige argitektuur die bynaam la ville rose. Die groot verskeidenheid kleure, wat as gevolg van verwering ontwikkel, word veral in die aandson sigbaar. Die plaaslike chansonnier Claude Nougaro het die rooi kleur in sy liedere besing.
- Die romaanse basiliek Saint-Sernin uit die 11de en 12de eeu is een van die mooiste in Suid-Frankryk.
- Die gotiese katedraal Saint-Etienne dateer uit die 12de eeu.
- Die Musée des Augustins is 'n voormalige Augustynse klooster, wat vandag 'n kunsmuseum huisves.
- Die universiteit van Toulouse is in 1229 gestig en die tweede oudste in Europa.
- Toulouse beskik oor 'n groot aantal patrisiërhuise in die renaissance-boustyl, soos die Hôtel d’Assézat en die Hôtel de Bernuy.
- Die Musée Georges Labit vertoon Romeinse, Egiptiese, Koptiese, Chinese en Japanse kuns.
- Die Musée Saint-Raymond naby die basiliek Saint-Sernin spog met 'n grafkelder uit die Romeinse en vroeë christelike tydperk. Die boonste verdiepings huisves argeologiese uitgrawings uit die stad en sy omgewing.
- Die Cité de l’espace (Ruimtestad) behandel onder meer die geskiedenis van die ruimtevaart.
Kultuur
[wysig | wysig bron]Baie ou nywerheidsgeboue is herskep tot kulturele sentrums. Die ou slagpale dien sedert die negentigerjare as die setel van die Museum vir Moderne Kuns. Die ou watertoring huisves nou 'n fotogalery.
Die stad bestee sowat vyftien persent van sy jaarlikse begroting aan "Kultuur sonder grense", 'n ambisieuse kulturele fees. Alternatiewe feeste soos die musiekfees in die oewerpark van die Garonne geniet dieselfde aandag.
Toulouse het 'n museum gewy aan lugvaartkunde, Aeroscopia, 'n museum gewy aan lugvaart, die L'Envol des pionniers, en nog een gewy aan die verowering van die ruimte, Cité de l'Espace.
Kookkuns
[wysig | wysig bron]Tipiese plaaslike geregte is die Cassoulet, 'n bredie van wit boontjies en verskillende soorte vleis, wat met Confit d'oie – ingemaakte ganslewer en lamworsies – bedien word, Terrine de foie gras ('n ganslewergereg) en Magret de canard (eendborsies met groen boontjies).
Violettes de Toulouse is gesuikerde viooltjies, wat ter versiering van plaaslike nageregte gebruik word. Viooltjieslikeur uit Toulouse is 'n drankspesialiteit.
Die Marché Victor Hugo is die sentrum van die plaaslike chocolatiers en kaaswinkels.
Sport
[wysig | wysig bron]Stade Toulousain wat in die Top 14 speel is die suksesvolste rugbyklub in die hele Europa, aangesien hulle die Europese kampioenskap vyf keer en die Franse kampioenskap 21-keer gewen het. Hulle speel kleiner tuiswedstryde op die Stade Ernest-Wallon wat ook tydens die Rugbywêreldbeker 1991 ingespan is. Vir belangrike wedstryde word egter van die groter Stadium Municipal gebruik gemaak, wat ook wedstryde tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1938, FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1998, Rugbywêreldbeker 1999, Rugbywêreldbeker 2007, Europese Sokkerkampioenskap 2016 en Rugbywêreldbeker 2023 gehuisves het.
Die stad beskik ook oor 'n sokkerspan, Toulouse FC, wat in die Ligue 2 speel. Hulle het in 1957 die Franse beker gewen. Dié klub speel sy tuiswedstryde op die Stadium Municipal.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Toulouse. |
- (en) Toerisme-inligting oor Toulouse op Wikivoyage
- (fr) Amptelike webwerf