Location via proxy:   [ UP ]  
[Report a bug]   [Manage cookies]                
Gaan na inhoud

Lesotho

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Koninkryk Lesotho
Muso oa Lesotho (Suid-Sotho)
Kingdom of Lesotho (Engels)
Vlag van Lesotho Wapen van Lesotho
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Khotso, Pula, Nala
(Suid-Sotho vir: "Vrede, reën, voorspoed")
Volkslied: Lesotho Fatse La Bontata Rona
(Suid-Sotho vir: "Lesotho, land van ons vaders")
Ligging van Lesotho
Hoofstad Maseru

29°28′S 27°56′O / 29.467°S 27.933°O / -29.467; 27.933

Grootste stad Maseru
Amptelike tale Suid-Sotho en Engels
Regering

Monarg
Eerste minister
• Adjunkpremier
Unitêre parlementêre
grondwetlike monargie
Letsie III
Sam Matekane
Mathibeli Mokhothu
Onafhanklikheid
• van die Verenigde Koninkryk
• Huidige grondwet

4 Oktober 1966
2 April 1993
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
30 355[1] km2  (137ste)
11 720 myl2
0,0032%
Bevolking
 - 2023-skatting
 - 2004-sensus
 - Digtheid
 
2 210 646[1] (144ste)
2 142 249
68,1 / km2 (138ste)
176,4 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2023-skatting

$6,915 miljard[2] (168ste)
$3 235[2] (164ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2023-skatting

$2,373 miljard[2] (184ste)
$1 110[2] (169ste)

MOI (2021) 0,514[3] (168ste)  –  laag
Gini (2017) 44,9[4] –  hoog
Geldeenheid Loti (LSL)
Tydsone
 - Somertyd
SAST (UTC+2)
nie toegepas nie (UTC+2)
Internet-TLD .ls
Skakelkode +266
Skattings vir hierdie land se bevolking neem spesifiek die effek van oormatige sterftes as gevolg van VIGS in ag. Dit kan lei tot 'n laer lewensverwagting, hoër kindersterftes, laer bevolkingsgroei en veranderings in die bevolkingsverspreiding volgens geslag, as wat andersins verwag kon word.

Lesotho (Suid-Sotho: [lɪ’sʊːtʰʊ]; Engels: [ləˈsuːtuː], ), amptelik die Koninkryk Lesotho (Suid-Sotho: Muso oa Lesotho, Engels: Kingdom of Lesotho), tot 4 Oktober 1966 Basoetoland, is 'n unitêre parlementêre grondwetlike monargie en landingeslote land in Suider-Afrika.[5] Die hoofstad en grootste stad is Maseru. Lesotho is ook 'n enklawe en word ten volle omsluit deur Suid-Afrika. Op politieke vlak het Lesotho in geen stadium aan Suid-Afrika behoort nie. Die land is geleë tussen 29 en 30º suidelike breedtegraad asook tussen 28 en 30º oostelike lengtegraad. Op grond van sy besondere hoogte bo seespieël word die land ook Die koninkryk in die hemel genoem. Die Menslike ontwikkelingsindeks van 2021 plaas Lesotho op 168ste plek van 187 lande. Lesotho is 'n lidland van die Afrika-unie, Beweging van Onverbonde Lande, Britse Statebond, Gemeenskaplike Monetêre Gebied, Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Verenigde Nasies.

Nasa-Satellietbeeld van Lesotho

Die eerste inwoners van die hedendaagse Lesotho was sedert 25 000 v.C. die Boesmans wat vir hul rotstekeninge orals in Suider-Afrika bekend staan en veral jagter-versamelaars was. Die Bantoevolke het sowat 1000 jaar gelede Suider-Afrika binne beweeg en hulle hier as landbouers en veewagters gevestig. Die land se bevolking bestaan veral uit Basotho en hul taal is Sotho, ook bekend as Suid-Sotho. Die nasie van die Basotho's is in 1822 deur Moshoeshoe gestig en verenig.[6][7] Die hedendaagse grense is ná die Basotho-oorloë in 1868 bepaal en gelyktydig het die koninkryk deel van die Britse Kaapkolonie, vanaf 1884 die aparte Kroonkolonie Basoetoland, geword. Op 4 Oktober 1966 het Lesotho onder sy nuwe naam van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. Lesotho is 'n unitêre parlementêre grondwetlike monargie binne die Britse Statebond met 'n eie monarg as staatshoof. Lesotho is een van slegs vyf lande binne die Britse Statebond met 'n inheemse monarg op die troon (die ander vier is Broenei, Eswatini, Maleisië en Tonga).

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Lesotho beteken "Land van die Sothosprekende mense", bedoelende die taal Suid-Sotho.[8][9] Met sy onafhanklikwording op 4 Oktober 1966 is die landnaam verander van Basoetoland na Lesotho.[10]

Geografie

[wysig | wysig bron]
Kaart van Lesotho
Topografiese kaart van Lesotho
Sneeu op die berge van Lesotho
Erosie by Ha Lebesa

Die Koninkryk van Lesotho tel onder die kleiner Afrikalande (42ste van 54) en is met 30 355 km² omtrent so groot soos België. Dit word heeltemal deur 'n ander staat (Suid-Afrika) omring, net soos dit die geval is met San Marino en die Vatikaanstad binne Italië. Lesotho deel 'n grens van ongeveer 909 km met sy buurland.[1] Dit grens in die weste en noorde aan die Vrystaatprovinsie, in die ooste aan KwaZulu-Natal en in die suide aan die Oos-Kaapprovinsie.

Die westelike deel van Lesotho is geleë op 'n hoë plato bekend as die Hoëveld (sy redelike laaggeleë senter staan as die Laagland bekend), wat die belangrikste nedersettinggebied van die land is en grotendeels uit sandsteen bestaan. Die Laagland is ongeveer 1 400 tot 1 700 meter bo seevlak. Die landskap word oorheers deur tafelberge en riviervalleie.

Die oostelike plato en berge (Hoogland) is daarenteen gedeeltelik meer as 2 000 meter hoog en bestaan uit basalt wat deur vulkaniese uitbarstings sowat 170 tot 150 miljoen jaar gelede ontstaan het. Die Hoogland word gekenmerk deur diep riviervalleie en talryke berge en bergreekse. Die byna sekelvormige Drakensberge (in Lesotho die Maloti-berge genoem) begin in die land in die suidweste en eindig in die noorde. Die hoogste piek in die land en terselfdertyd ook in Suider-Afrika is Thabana Ntlenyana van 3 482 meter bo seevlak.

Die laagste punt van die land is geleë by die samevloeiing van die Oranjerivier (in Lesotho Senqu genoem) en die Makhalengrivier by sowat 1 400 meter bo seevlak. Die hoogte van Lesotho is 'n unieke geografiese verskynsel: dit is die enigste onafhanklike land ter wêreld waarvan die hele gebied bo 1 000 meter is, waarvan sowat 80% van die gebied bokant 1 800 meter geleë is.

In Lesotho ontspring die twee groot Suid-Afrikaanse riviere, die Oranje en die Caledon. Dit het weer ander riviere in Lesotho se diep klowe gevorm. Op die platorand van basaltgesteente, waaruit die Drakensberge bestaan, is daar talle watervalle. Die Maletsunyane-waterval by Semonkong is die hoogste standhoudende waterval in Suider-Afrika. Die voet van die plato, by die oorgang na die Hoëveld in die weste, bestaan uit sagte sandsteen. Daarom, maar ook as gevolg van oorbebouing en oorbenutting van grond, is slegs sowat elf persent van die landoppervlakte geskik vir landbougrond. Die grond gaan besonder erg gebuk onder erosie.

Die land se natuurlike hulpbronne is water en 'n weinige hoeveelheid diamante en ander minerale. Die ryk waterreservoirs met 'n geskatte daaglikse afvloei van 7 280 miljoen liter is die beginpunt vir die grootskaalse elektrisiteit- en watervoorsieningsprojekte. As deel van die Lesotho-Hoogland-waterprojek is verskeie damme sedert die 1980's gebou, waarvan die Katsedam die grootste is.

Klimaat en plantegroei

[wysig | wysig bron]
Klimaatdiagram van Maseru

Die klimaat is weens die hoë ligging van die hele land gematig warm. In die winter, tussen Junie tot Augustus, word dit dikwels baie koud en dit kan sneeu op die hoogliggende gebied in die ooste. Bedags is dit selfs in die winter sonnig; Lesotho kry gemiddeld 300 sonskyndae per jaar. In die somermaande tussen November en Maart is dit in Lesotho meestal warm. Ongeveer 100 dae per jaar, meestal in die somer, gaan met onweer gepaard. As gevolg van die hoogte bo seevlak kan die temperatuurskommelings groot wees (tussen -15ºC snags in die winter en tot oor die 30ºC bedags in die somer). Die gemiddelde jaartemperatuur in die hoofstad, Maseru, is 15ºC. In die hoë bergreekse van die Drakensberge is sneeu heeljaar moontlik. Ongeveer 85 % van die jaarlikse reënval – die landsgemiddelde tussen 600 tot 800 mm – val gedurende die somer, sodat die landskap tydens die droë wintermaande meestal uitgedor is.

Diere en plante

[wysig | wysig bron]
Kalkoenibis in Lesotho

In die hele land is daar slegs 'n paar boomsoorte. Dit is hoofsaaklik beperk tot beskutte valleie en plantasies. Die boomsoorte wat die algemeenste aangetref word is bloekombome, akasias en in die dorpe perskebome. Op die hoogliggende dele van die land kom weidingsvelde langs die riviervalleie voor. Verder val baie aalwynsoorte op. Die kroonaalwyn (Aloe polyphylla, Sesotho: lekhala) is endemies aan Lesotho. Dit is ook kenmerkend van die Hoëveldkiepersol wat tot drie meter hoog kan word. Wilde kosmosse, jakobregops en stinkafrikanertjies kom algemeen voor. Sommige plantsoorte, soos die twee laasgenoemdes, is vanuit Sentraal- en Suid-Amerika die land ingebring.

Die inheemse diere is oorheersend kleiner diersoorte. Groot vrylewende wilde soogdiere is die ribbok (Pelea capreolus, Sesotho: letsa) wat net so groot soos die reebok van Europa word. Voëls wat opvallend voorkom is die ooievaar, ibis, reier en aasvoël, waaronder die seldsame baardaasvoël. 'n Witooievaar, wat in Rossittem in Oos-Pruise gering is, is in die 1920's in die huidige Lesotho gevind. Onder die kleiner voëls is daar die vink en die nektarsuigende jangroentjie. Reptiele, wat 'n paar slangspesies insluit, amfibieë en 'n paar vissoorte word ook gevind, sowel as talle insekte en ander klein diere wat soortgelyk in die buurland voorkom. Beeste word veral as huisdiere aangehou, maar ook perde, skape, bokke, donkies, hoenders, honde en katte.

Teen 1830 was daar nog seekoeie, sebras, blouwildebeeste, volstruise en soms leeus binne die hedendaagse Lesothogrense te vinde. Die 65 km² Sehlabathebe Nasionale Park in die suidooste van die land bestaan sedert 1969.

Geologie

[wysig | wysig bron]

Die land se oppervlak word deur die Drakensberge oorheers. Dit is 'n magtige versameling van oorwegend basaltgesteente wat sowat 180 miljoen jaar gelede ontstaan het deur wydverspreide vulkaniese aktiwiteit in die suidelike halfrond. Die vulkaniese krag het die bestaande sedimentlae van die Hoof-Karookom deurbreek en in die randgebied van hierdie sone verdere opheffings geskep. Die platter gebiede, veral in die westelike dele van die land, bestaan hoofsaaklik uit sandsteen, wat by verskeie plekke vir plaaslike en Suid-Afrikaanse behoeftes ontgin word.

Demografie

[wysig | wysig bron]
Lesotho se bevolkingsgroei (1961–2008)

Lesotho is een van die min Afrikastate wat 'n homogene bevolking met 'n gemeenskaplike kultuur, identiteit en tradisie het. Oor die twee miljoen inwoners van die land is etnies byna geheel en al (ongeveer 99%) verwant aan die Basotho wat onder morena Moshoeshoe uit baie individuele stamme verenig is. Die minderheidsgroepe sluit die Zoeloes, Xhosas, Europeërs en Asiate in.

As gevolg van die geografiese ligging is die bevolking baie oneweredig oor die land versprei. Sowat 70% woon in die dieperliggende westelike dele van die land. Hier vind mens ook die vrugbaarder dele van die land. Die grootste konsentrasiegebied is die hoofstad Maseru en omgewing. Die werkloosheidsyfer van die land staan op ongeveer 45% (soos op 2002), wat dit een van die hoogste ter wêreld maak. Hierdie tendens het teen die einde van Apartheid skerp gestyg toe baie Basotho, wat hoofsaaklik in die myne van Suid-Afrika as trekarbeiders in diens was, ná die sluiting weer na hul land moes terugkeer. Tans is sowat 35% van die manlike werklui van Lesotho in Suid-Afrika werksaam (soos in 2002).[1] Die res is byna heeltemal van landbou afhanklik.

In 2011 het die deel van die bevolking wat ouer as 64 jaar was omtrent 4% verteenwoordig, terwyl 37% van die totale bevolking onder 15 jaar oud was.[11] Die gemiddelde aantal kinders per vrou in Lesotho is 2,9,[1] die babasterftesyfer is 91 uit elke 1 000 geboortes en die moedersterftesyfer is 530 uit elke 100 000 geboortes.[11]

Taal en geloof

[wysig | wysig bron]
'n Protes by die Universiteit van Lesotho tydens Nasionale Vrouedag

Die amptelike landstale van Lesotho is Sesotho (Suid-Sotho) en Engels. Engels as amptelike taal is hoofsaaklik tydens die tydperk as Britse kroonkolonie beding, terwyl die moedertaal van 99% van die bevolking egter Sesotho is. Die ander landstale, wat deur baie klein bevolkingsgroepe gepraat word, is Zoeloe, Phuthi en Xhosa.

Omtrent 90% van die totale bevolking is Christene. Ongeveer die helfte van die Christene behoort tot die Rooms-Katolieke Kerk, 40% is Protestante (wat veral tot die Evangeliese Kerk van Lesotho en die Anglikaanse kerk behoort) en 10% is volgelinge van ander plaaslike kerke. Daarbenewens is daar persone wat tradisionele inheemse gelowe aanhang (sowat tien persent van die totale bevolking) en enkele Moslems en Hindoes.[12]

Gesondheidsorg

[wysig | wysig bron]
Dorpie in Lesotho

Vigs is in Lesotho, soos in die ander state van Suider-Afrika, die grootste gesondheidsprobleem. In 2009 was na raming ongeveer 24% van die volwasse bevolking met MIV besmet. Dit is die derde hoogste ter wêreld, naas Eswatini en Botswana. Die totale aantal pasiënte in 2009 was omtrent 290 000 mense, waarvan 'n geskatte 14 000 in 2009 hierdie siekte opgedoen het.[1] As gevolg van die enorme verspreiding van vigs het die bevolkingsaanwas die afgelope jare afgeneem en staan in 2012 op 'n geraamde 0,332%.[13] Die gemiddelde lewensverwagting is ongeveer 52 jaar.[1] Die vroue in Lesotho het slegs 'n effense hoër lewensverwagting as die mans, omdat in Suider-Afrika meer vroue as mans met MIV besmet is.

Die rede vir die groot aantal pasiënte is onder andere weens die gebrek aan 'n opvoedingsbeleid van die regering se kant af. Eers nadat die siekte jare lank feitlik ongehinderd versprei het, het die regering en die koningin in 1999 'n landwye opvoedingsprogram van stapel gestuur om vigs te bekamp en die geïnfekteerdes te ondersteun. Sedert 2005/2006 is teenretrovirale behandeling in verskeie staats- en privaathospitale vir vigs-pasiënte beskikbaar gestel. Hierdie programme ly egter onder die toenemende personeeltekort in die gesondheidswese, omdat 'n groot deel van die gekwalifiseerde mediese personeel na die buiteland – hoofsaaklik na Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk – verhuis het.

Benewens vigs is tuberkulose in Lesotho baie wydverspreid. Vigs-pasiënte ly dikwels as gevolg van hul verswakte immuunstelsels ook aan hierdie siekte.

Onderwys

[wysig | wysig bron]
Primêre skoolklas in Lesotho

Die ongeletterdheidsyfer in 2003 was 15%. 94,5% van vroue en 74,5% van mans bo die ouderdom van 15 jaar kan lees en skryf.[1] Die staatsuitgawe vir die onderwys is 12,4% van die staatsbegroting, wat Lesotho op die derde rang van alle state plaas. Baie skole word deur kerklike instellings bestuur. Laerskool is verpligtend en sedert 2000 gratis. Slegs 89% van die dogters en 83% van die seuns woon egter laerskool by. 27% meisies en 18% seuns gaan ná voltooiing van graad 7 hoërskool toe. Die laerskoolleerlinge is gewoonlik tussen 6 tot 13 jaar oud en die hoërskoolleerlinge tot 18 jaar oud. Hoërskoolonderriggelde moet betaal word en kan die gesinsbegroting aansienlik onder druk plaas. Verpligte skooldrag en skoolboeke moet ook betaal word. Teen die einde van graad 12 word 'n eindeksamen afgelê wat egter slegs deur enkele studente geslaag word. Hierdie onderwysstelsel is in 1971 ingevoer. Lesotho het 'n universiteit, die National University of Lesotho in Roma, wat ongeveer 35 kilometer vanaf Maseru geleë is. Die universiteit het agt fakulteite en ongeveer 7 000 studente. Dit is deur die Katolieke Kerk in 1945 as die Pius XII College gestig, maar word later deur die staat oorgeneem. Daarbenewens is daar in Lesotho ook enkele instellings vir beroepsopleiding.

Benewens die formele skoolstelsel van Britse aard is daar ook die minder bekende "bosskool"-stelsel, wat byvoorbeeld tydens die vakansies in afgeleë plekke plaasvind. Daar word lewensvaardighede volgens die Afrika-tradisie geleer.

Buitelandse betrekkinge

[wysig | wysig bron]
Plekke oor die wêreld heen waar Lesotho ambassadeurs of hoëkommissarisse het

Die geografiese ligging van Lesotho maak dit uiters kwesbaar vir politieke en ekonomiese ontwikkelings in Suid-Afrika. Die land is 'n lid van baie plaaslike ekonomiese organisasies, waaronder die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SACU). Lesotho is ook aktief in die Verenigde Nasies, die Afrika-unie, die Beweging van Onverbonde Lande en baie ander internasionale organisasies. Benewens Suid-Korea onderhou die Verenigde State, Suid-Afrika, Ierland, die Volksrepubliek China, Libië en die Europese Unie almal tans diplomatieke missies in Lesotho. Buitelandse betrekkinge van Lesotho word geadministreer deur die Ministerie van Buitelandse Sake en Internasionale Betrekkinge.

Lesotho het histories oor die algemeen noue bande met die Republiek Ierland (Lesotho se grootste bilaterale hulpskenker), die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en ander Westerse lande gehandhaaf. Alhoewel Lesotho in 1990 besluit het om sy betrekkinge met die Volksrepubliek China te verbreek en die betrekkinge met die Republiek China (algemeen bekend as Taiwan) te herstel, het dit in 1994 sy bande met die Volksrepubliek China herstel.

Sport

[wysig | wysig bron]

Lesotho word sedert 1972 deur atlete op Olimpiese Somerspele verteenwoordig, maar het nog nie 'n medalje gewen nie. Die land het medaljes op Statebondspele in boks en maraton gewen. Gewilde spansporte sluit in sokker, krieket en rugby. Die Setsoto-stadion in Maseru is die grootste sportterrein in die land.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 1,5 1,6 1,7 (en) "Lesotho". Central Intelligence Agency. Besoek op 7 November 2023.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 (en) "Lesotho". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2023. Besoek op 7 November 2023.
  3. (en) "Human Development Report 2021/2022" (PDF). United Nations Development Programme. 2021. Besoek op 7 November 2023.
  4. (en) "Gini Index – Lesotho". Wêreldbank. Besoek op 7 November 2023.
  5. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  6. (en) David Ambrose (1976). The Guide to Lesotho. Johannesburg/Maseru: Winchester Press. ISBN 0-620-02190-X.
  7. (en) Scott Rosenberg, Richard W. Weisfelder, Michelle Frisbie-Fulton (2004). Historical Dictionary of Lesotho. Lanham, Maryland/Oxford: Scarecrow Press. ISBN 978-0-8108-4871-9.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  8. (en) Nicole Itano (2007). No Place Left to Bury the Dead. Simon and Schuster. p. 314. ISBN 978-0-7432-7095-3.
  9. (en) Roman Adrian Cybriwsky (2013). Capital Cities around the World: An Encyclopedia of Geography, History, and Culture. ABC-CLIO. p. 182. ISBN 978-1-61069-248-9. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2018. Besoek op 6 Maart 2019.
  10. (en) Karen Tranberg Hansen, Mariken Vaa (2004). Reconsidering Informality: Perspectives from Urban Africa. Nordic African Institute. p. 180. ISBN 91-7106-518-0.
  11. 11,0 11,1 (de) Datenbank von weltbevölkerung.de Geargiveer 25 April 2012 op Wayback Machine, besoek op 11 Junie 2012
  12. (en) Website of US-State Departments, Data van 2007, besoek op 11 Junie 2012
  13. (en) Data op indexmundi.com, besoek op 12 Junie 2012

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Regering

Wiki-webtuistes

Toerisme

Media